Vrugtebome uitgepluk weens droogte

Deur Johan van der Merwe
3 Oktober 2017
Sowat 1 000 hektaar appels en pere in die omgewing van die Koue Bokkeveld en Ceres sal vanjaar weens die droogte uitgehaal word.

Die droogte in die Wes-Kaap begin ál meer sy tol eis. In die omgewing van Ceres en die Koue-Bokkeveld, een van Suid-Afrika se belangrikste produksiegebiede vir sagtevrugte en groente, het boere hul groente-aanplantings aansienlik begin verminder.

Tans word beraam dat die streek vanjaar slegs sowat 60% van die normale uie-oes sal aanplant, waarvan minstens ’n derde die risiko loop dat dit ’n misoes kan wees.

Sowat 1 000 hektaar appels en pere, oftewel 8% van die totale aangeplante aantal hektare in die streek, sal vanjaar weens die droogte uitgehaal word.

LEES OOK: Vrugteboere maak reg vir lang somer

Vroeë vervanging
Die meeste boere in dié streek pas ’n vervangingstrategie toe, waarvolgens sowat 4% tot 5% van die totale aanplanting jaarliks vervang word. Die aantal hektaar wat vanjaar uitgehaal gaan word, het so te sê verdubbel.

Op baie plase word die boorde wat oor die volgende drie tot vyf jaar vir vervanging geoormerk is, vanjaar al uitgehaal en daar sal niks in die plek daarvan aangeplant word nie.

Die streek hou steeds duim vas dat daar ’n goeie bui reën voor die einde van Oktober sal uitsak om water te voorsien vir die groente wat in die streek aangeplant is en die risiko loop dat dit ’n misoes kan wees. Indien die reën nie voor einde Oktober kom nie, sal dit te laat wees vir hierdie groente.

Die meeste van die graanboere in die Wes-Kaap gaan ook weens die droogte nie ’n goeie oes kan afhaal nie.

Kyk hier na ‘n video van vrugtebome wat uitgehaal word.


Kommentaar

Een kommentaar op “Vrugtebome uitgepluk weens droogte

  1. Boer
    Boer

    Ons bly maar op die kniee. In die Weskaap is ‘n hengse ramp in wording want dit is meerjarige vrugtebome en wingerde wat in die slag gaan bly en die koste om te vervang beloop tussen R250k en R450k per ha. Die droogte begin nou sy tande wys, warm dae en baie wind wat uitdroog maar ons bly positief en hoopvol dan ons somer natter as normaal sal wees.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels