Kougadam bly leeg ondanks reën

Deur Theuns Botha
20 September 2017
Die reën wat onlangs oor die Kougadam se opvanggebied geval het, was nie genoeg om die damvlak op te stoot nie.

Ondanks die 30 mm reën wat Saterdag by Patensie en oor die opvanggebied van die Kougadam uitgesak het, was dit te min om die damvlak van 14,22% te laat styg aangesien daar min afloopwater in die dam beland het.

Mnr. Pierre Joubert, uitvoerende hoof van die Gamtoos-besproeiingsraad, sê die voordeel van die reën is dat boere nie die afgelope drie dae nodig gehad het om op hulle toegekende kwota in te tap nie. Sou die koel weer voortduur kan dit nog ’n week duur voor besproeiingsboere weer water uit die kanale hoef te onttrek. Die damvlak behoort dus vir die volgende paar dae konstant bo die 14% te bly.

Met die watertoekenning wat sedert Julie met 60% verminder is, het elke boer net 3 200 kubieke meter water per hektaar vir die waterjaar tot hulle beskikking. Joubert sê omdat boere so positief is dat daar uitkoms in Oktober of November sal wees, daar nog geen grootskaalse afleggings van heeltydse werkers was. “Bly die reën weg, sal boere minder groente plant en sal seisoenwerkers die eerste wees wat daardeur geraak word.”

Volgens die SA Weerdiens is was neerslae oor die naweek soos volg; Joubertina (7 mm) Kareedouw (51 mm), Patensie (36 mm), Mosselbaai (33 mm), Bhisho (48mm), Oos-Londen (66 mm), Addo (19 mm) Port Elizabeth (32 mm) en Somerset-Oos (7 mm).

Aangesien die neerslae hoofsaaklik oor die kusgebied van Mosselbaai tot sover as KwaZulu-Natal voorgekom het, is dit melkboere wat die breedste glimlag. Sedert die sneeuneerslae in Augustus, was daar geen verdere reënneerslae oor Noordoos-Kaap nie en is dit nog te droog om landerye vir die komende plantseisoen voor te berei.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels