Byna R1 miljard vir droogtehulp

Deur Joylene van Wyk
17 Februarie 2016
Die Regering maak sowat R1 miljard beskikbaar om boere in droogtegeteisterde rampgebiede by te staan.

’n Pakket van net onder R1 miljard is deur die Regering saamgestel om boere in droogterampgebiede te hulp te snel, het mnr. Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling aangekondig.

Hy het hierdie aankondiging by die tweede dag van die debat oor die staatsrede gemaak. Vyf provinsies in die land is reeds tot droogterampgebiede verklaar.

Die landbou-organisasie Agri SA het reeds aangedui dat waarskynlik R20 miljard benodig word om die sektor se produksiepotensiaal na die ramp te herstel. Dié organisasie het ’n droogteverligtingsplan saamgestel wat Maandag in Kaapstad aangekondig sal word. Dit is reeds aan pres. Jacob Zuma en mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, oorhandig.

In sy staatsrede het pres. Zuma die landbou weereens uitgelig as een van die sektore wat bevorder moet word om die land se ekonomie te laat groei. Patel het ook aangedui dat daar strenger teen maatskappye opgetree gaan word wat hulle aan onmededingende gedrag skuldig maak. Hoewel boetes reeds opgelê kan word, word daar nou gekyk om skuldiges krimineel te vervolg.

Boetes vir onmededingende gedrag word reeds vir ’n paar jaar opgelê om maatskappye te ontmoedig om hulle aan samespanning skuldig te maak.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels