Brande het Barkly-Oos op sy knieë

Deur Lisa Lottering
15 September 2017
Sowat 42 000 ha is verwoes in ’n brand wat dié week van Lady Grey tot Barkly-Oos gewoed het.

Ten minste 35 plase in die distrik Barkly-Oos is deur die brande geraak, waarvan 12 heeltemal afgebrand het.

Die brand is vermoedelik veroorsaak deur as van ’n vuur wat uitgegooi is. ’n Verdwaalde kooltjie wat tussen gras ingewaai het, het vlamgevat en die brand het versprei. Volgens mnr. Gideon Greyvenstein, voorsitter van Barkly-Oos se landbou-unie en raadslid van Agri Oos-Kaap, is die totale omvang van die brand sowat 54 000 ha. Altesaam 151 skape en 6 beeste is tydens die brande verloor.

Swart gebrand
“Dis net swart buite,” sê mnr. Geoff Orpen, wat met vee op die plaas Avoca boer. “Dis ’n skok wanneer so iets gebeur, maar ons moet net positief bly,” sê hy.

Orpen het 2 400 ha verloor en op sy tweede plaas het 1 700 ha van 4 500 ha afgebrand. Altesame 20 skape en twee beeste is op sy plaas verloor. Hy sê almal is moeg, maar hy is baie dankbaar vir die skenkings wat reeds ontvang is.

Mnr. Lawrence Maduna, voorsitter van die Oos-Kaapse Kommunale Wolkwekersvereniging en veeboer van Lady Grey, het ’n derde van sy plaas se weiding verloor. “Ek het ook ten minste drie beeste en vyf skape verloor,” sê hy. “Dis sleg vir my vee, want dit is my besigheid. Dis droog, daar is geen water en die reën bly skaars,” sê hy.

LEES OOK: Barkly-Oos verswelg deur brande

Oorweldigend
Mnr. Andre Dormehl, veeboer van die plaas Rosslyn, sê sy plaas het tot teenaan sy huis afgebrand. Dormehl het geen diere verloor nie, maar hy moet nou sy vee en diere skuif.

Hy sê die situasie wat deur die brande geskep is, is oorweldigend.

“Dis hartverskeurend, maar die ondersteuning van mede-boere en buurdistrikte is baie bemoedigend,” sê hy. “Jou planne moet nie opraak nie. Ons moet net planne maak en aangaan. As dit reën, sal dit weer groen raak,” sê hy.

Groot verlies
Greyvenstein sê as nalatigheid verantwoordelik is vir die brande, sal daar definitief opgetree word. Hy sê boere sal op skenkings moet staatmaak om hul diere, waarvan talle dragtig is, te voer. Die ekonomiese verlies word tans op R6,4 miljoen geraam. Greyvenstein is nie bewus van enige woonstrukture wat afgebrand het nie.

“Daar is wel heinings, waterpypleidings en watertenks wat gebrand en gesmelt het,” sê Greyvenstein.

Diegene wat wil help met skenkings om die boere te help wat deur dié brande geraak is, kan die volgende persone kontak. Die geld wat ingesamel word, gaan hoofsaaklik gebruik word om vervoerkontrakteurs te betaal.

Bella Viedge by 083 633-417 of epos bellaviedge@gmail.com
Jannie van Zyl by 082 926 5798 (voerskenkings)
Gideon Greyvenstein by 082 921 7061

Bankbesonderhede:
Rekeningnaam: Agri Eastern Cape
Bank: Absa
Takkode: 632 005
Rekeningnommer 92 99 29 48 79
Verwysing: Barkly Brand en jou naam


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels