Barkly-Oos verswelg deur brande

Deur Lisa Lottering
13 September 2017
Brande woed steeds in die distrik Barkley-Oos, met groot skade wat aangerig is.

Sowat 36 000 ha is teen Woensdag tydens brande van Lady Grey tot Barkly-Oos vernietig. Die brande is deur stormsterk winde van tot 70km/h aangejaag.

Volgens Lesley Meise ,’n joernalis by die plaaslike koerant in Barkly-Oos, The Reporter, het sewe plase heeltemal uitgebrand. Op sommige plase kon slegs die huise gered word. Volgens Meise het een boer byna 100 dragtige ooie verloor.

Volgens mnr. Reece Dorhmehl, voorsitter van die Barkly-Oos-boerevereniging, het weiding en gewone grasvelde uitgebrand.
“Die lande het darem nie gebrand nie en soos wat die vee gekom het, is hulle in die lande ingejaag,” sê hy.

“Elke 20m tot 30m waar die brande opgehou het, is daar ouens om te kyk dat die brande nie weer opspring nie.”

Volgens mnr. Linton Rensburg, woordvoerder van Working on Fire, het die brande laat Sondag begin.

Brandbestryding
Rensburg sê 50 brandbestryders van Working on Fire van die Ugie-, Tsomo- en Joe Gqabi-streke het brande bestry wat naby Ossa Farm in die Joe Gqabi-distriksmunisipaliteit begin het. Dié brande het die afgelope drie dae na streke soos Barkly-Oos versprei.

Mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê in hierdie stadium is die eerste prioriteit om die brande onder beheer te kry.
“Boere vrees veeverliese, maar die skade self is nog nie bepaal nie,” sê Stern. Hy sê die finansiële impak is ’n groot probleem en hulle hoop die regering gaan intree en boere help.

“Daar is geen fondse om vir ‘n helikopter te betaal om die brande te bestry nie, wat derduisende rande kos,” sê Meise.
Stern sê dis ’n massiewe brand en die sterk winde maak dit nie maklik nie. “Boere probeer die brande onder beheer te kry, hulle sal die impak voel sodra die vuur onder beheer is,” sê hy.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels