2017 is één jaar in ’n droogtetendens

Deur Amelia Genis
26 September 2017
Die Wes-Kaap se damme was laas in 2014 vol en raak sedertdien jaarliks leër.

Die huidige Wes-Kaapse droogte is nie net vanjaar ’n probleem nie, maar is deel van ’n tendens van minder reën en dalende damvlakke sedert 2014. Só sê mnr. Thinus van Schoor van Agri Value Chain Solutions, ’n maatskappy wat werk om doeltreffendheid in waardekettings te verbeter.

“Dis nie net ’n 2017-storie nie. Damme was laas in 2014 vol. In 2015 was hulle 62%, in 2016 rondom 50%, nou is die groot damme so by 34%. Die tendens is die groot ding hier.”

Van Schoor sê die grootste impak is op landbou-uitvoerkettings in die Wes-Kaap, waar vrugteboerderye met waterbeperkings van 40% tot 70% saamleef. “Boere moes letterlik besluite neem om bome uit te haal. Uitbreiding is gestaak en hulle boor vir water dat die biesies bewe. Hulle installeer ook presisie-besproeiingstelsels.”

LEES OOK: Vrugteboere maak reg vir lang somer

50% minder water
Agri Value Chain Solutions en die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) het verskillende scenario’s uitgewerk om te sien wat die uitwerking van 50% minder water op vrugteboorde sal wees. “Die uitwerking is die grootste in die eerste jaar. Ons scenario toon totale produksie kan met 25% daal, wat baie groot is.”

Hulle reken dit gaan plaaslike verskaffing van vrugte en tafeldruiwe eerste beïnvloed, en prysverhogings van 6% tot 15% gaan voorkom. Wyndruif-aanplantings neem reeds af, maar Van Schoor sê dit het meer met die relatiewe mededingendheid van wyn te doen as met die droogte. “Die tendens gaan versnel as gevolg van die watersituasie. Dit kan egter verskaffing en aanvraag meer in balans bring.”

Volgens Van Schoor sal boere alles in hul vermoë doen om uitvoere aan die gang te hou. Hulle kon nog nie die invloed van die verwagte verlies aan produksie op buitelandse inkomste kwantifiseer nie.

LEES OOK: Miljarde se verliese wag ná winter


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels