Vra vir Faffa

Wurms op bome

Vraag

Ek het vreemde wurms op wilgerbome gekry. Die wurms vreet al die blare op en trek so van een boom na die ander toe en is nou glad in my tuin. Ons bure het dieselfde probleem, maar by hulle is die wurms in die denne en sipresbome. Laasgenoemde bome vrek heeltemal en herstel nie soos die wilgerbome nie. Nou dat ek die probleem het, let ek op soos ek ry na Burgersdorp, is die wurms in die regop populierbome , ook afgestroop van hulle blare. Ek heg nou ‘n foto aan van ‘n wurm en sien uit om weer van U te hoor.

Antwoord

Na my beste wete is hierdie een van die Gonimbrasia spesies, ook bekend as die ‘Willow tree caterpillar’, maar om ‘n spesifike identifikasie te doen moet ek die volwasse motte sien. Die larwes is hoogs pleomorfies en het baie kleure, geure en stekels. Mens kan dit beheer met enige van die insekmiddels, soos die sintetiese piretroïede, wat minder skadelik vir die omgewing as organofosfate is, maar my wel-oorwoë mening is, los hulle uit. Hulle snoei die bome en stimuleer groei en vrugvorming.

Om die motte in die hande te kry, doen die volgende:

Sodra die wurms van die bome afklim en op die grond begin rondloop weet jy hulle is reg om te verpop. Maak hulle bymekaar, plaas ‘n klomp van hulle in ‘n groot houer, soos in ‘n appelboks met baie blare en ‘n paar takke daarin en maak die houer bo toe met voëltjiedraad en laat staan. As hulle reg is om te ontpop sal jy dit vinnig sien – die motte met vlerkies wat nog baie klein en pap is, gaan op die takke klim of teen die kante van die houer en hang dan met kop boontoe en vlerkies af, totdat die vlerkies ten volle uitgepof is en hard geword het. Mannetjie-motte het baie goed ontwikkelde pluimvormige antennae, wyfies s’n is maar skraal en dun. As dit is wat ek vermoed, kan jy verskeie kleure van motte verwag, van ‘n ligbruin tot ‘n groenerige skynsel. Dit was van die mees fassinerende jare van my lewe om skoenlappers en motte te teel!!

Tik Gonimbrasia by Google images se soekblokkie in om foto’s van die motte te sien.

Geskryf deur: prof. Joop Boomker, Parasitoloog (joop.boomker@up.ac.za)

2 Februarie 2013


Kommentaar

Een kommentaar op “Wurms op bome

  1. terren barnard
    terren barnard

    Ek wil weet of die komandowurm enige skade kan rig aan n mens as jy aan sy kokon vat en skoonmaak waar hulle was. Ek het blase op my hande ontwikkel nadat ons oorval isvan die wrms in ons huis . Help asb


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X