Vra vir Faffa

Wit ram gooi ‘n swart lam

Vraag

Een vir die slim skaapboere alweer, want ek weet nog heeltemal te min. Die lammetjie se ouers is albei 100% SA vleis merino’s. Toe pop sy uit! Pikswart met kol op kop en stert in verf gedoop! Is dit net ‘n gene vloek of kan dit gebeur? Of moes daar êrens terug in nageslagte ‘n baster gewees het? Uit 80 ooie en lammers is sy die enigste een wat swart is. Sy is pragtig en net omdat sy anders is sou ek haar graag wil hou. Maar wat is die kanse dat sy weer so swart sal teel by ‘n SAVM ram?

Antwoord

Die swart mutasie is algemeen in die wit rasse en kan maklik uitpop op ‘n stadium, veral as ramme ingekoop word.  Dit is ‘n resessiewe geen wat generasies lank gemasker kan word deur dominante gene.  “Draers” van die swart geen is almal wit, maar sal die geen oordra aan ‘n gedeelte van die nageslag.  Indien ‘n ram ingekoop word wat hierdie geen dra, vat dit eers ‘n paar generasies om in die kudde te verskyn omdat beide ouers draers moet wees om ‘n swart lam te lewer.  Wanneer ‘n draerram paar met ‘n kudde wat glad nie die geen dra nie, sal al die nageslag wit wees, maar omtrent 50% sal draers wees.  Wanneer hierdie ram (of ‘n ander ram wat ‘n draer is) met sy eie nageslag (wat draers is) teel, begin hierdie mutasie verskyn.

Wanneer die ouers albei draers is, is daar ‘n 25% kans vir ‘n swart lam en 50% vir ‘n draer.  Dus moet die lam en beide ouers uitgeskot word.  As jy die swart lam met ‘n wit ram wat nie ‘n draer is nie paar, sal al die nageslag wit wees, maar almal sal draers wees.  Indien jy die swart lam met ‘n draerram paar, is daar ‘n 50% kans vir ‘n swart lam en wit lammers sal draers wees.

Dit is baie belangrik om swart lammers uit te skot.  Indien jy wel regtig sentimenteel is oor die lam en nie beplan om vervangingsdiere uit haar te teel nie, kan jy haar hou en al haar nageslag uitskot (ek weet van boere wat sommer die lam vir hul dogters gee uit pure sentiment en dan die nageslag verkoop as sakgeld).  Moet onder geen omstandighede ‘n swart ram, of ‘n swart ooi se wit ramlam, gebruik om verder op jou kudde te teel nie!  As jy haar wit ooi lammers hou, moet jy in gedagte hou dat dié almal draers is en dit dus langer sal vat om regtig van die geen ontslae te raak.  Dit word nie aanbeveel nie.

Vir meer besonderhede klik op onderstaande aanhangsel.

Geskryf deur: Yvette Steyn, Genetikus by SA Stamboek (yvette@studbook.co.za)

28 Januarie 2015


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X