Vra vir Faffa

Wil bees of skaapvoerkraal begin

Vraag

Ek wil 'n voerkraal begin om my plaas meer produktief te maak. Ek het fasiliteite reeds in plek. Dit was kraal vir melkbeeste en is relatief goed ingerig en kan maklik omskep word vir bees of skaapvoerkraal. Ek het 30 hektaar lande onder vloed waarvan ek 15 – 25 hektaar kan plant afhangende van gewasse. Watter diere, skaap of bees, sal die beste omset gee gegewe die bestuur van die kraal nie 'n probleem is nie. Sal ook 'n pilmasjien kan installeer indien dit produksie sal verhoog. Die plaas leen meer na skaapwêreld, maar aangesien ek sal moet inkoop ook is die keuse dus suiwer winsgedrewe en die veld kan vir "backgrounding" gebruik word. Die dravermoë is 13 ha GVE en ek het slegs 750 hektaar weiding waarvan 'n deel rivierveld is waar ek boerbokke aanhou. Ek is in die Wes-Vrystaat en is ook bereid om vir die regte kundige se hulp te betaal. Ben Venter

Antwoord

Die belangrikste grondstof wat vir ‘n voerkraal benodig word, is mielies omdat voerkraalrantsoene 60 tot 70 % mielies bevat. Lusernhooi word as ruvoerbron vir skaapvoerkraalrantsoene verkies en die insluitingsvlakke is ongeveer 10 tot 15 %. Vir beesvoerkraalrantsoene word laegraadse ruvoerbronne soos grashooi, strooi of mieliereste verkies. Aangesien daar so baie faktore is wat die winsgewendheid van ‘n voerkraalonderneming bepaal, moet ‘n multifaktoriale rekenaarmodel gebruik word om te bepaal watter van ‘n skaap- of beesvoerkraalonderneming die winsgewendste is. In hierdie verband word u aangeraai om Voermol se voerkraalkonsultant, Ulrich Müller (utm@mweb.co.za) te kontak om die winsgewendheid van die onderskeie voerkrale te bepaal.

 Die verpilling van voerkraalrantsoene is ‘n baie duur opsie. Heelwat inligting oor verpilling, asook verpillingskoste is reeds op hulp.landbou.com gepubliseer. Gebruik die soekwoorde "verpilling" en "verkorreling" om hierdie inligting op hulp.landbou.com te soek. Uitstekende resultate en hoë winsmarges word gegenereer met voerkraalrantsoene in gemaalde formaat. Raadpleeg ook hulp.landbou.com oor meer inligting oor die afronding van lammers en kalwers.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
2 Augustus 2010
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X