Vra vir Faffa

Weiding vir skape op die Hoëveld

Vraag

Ons het 70 hektaar grond naby, Mpumalanga. Ons kry so ±700mm reën per jaar en ons wintermaande is maar koud (-8 en kouer met tye). Ons boer met so ‘n klompie skape en wil graag die plaas optimaal benut o.a. met natuurlike weiding. Ons het 2 hektaar lusern dormansie 11 onder besproeiing wat ongeveer 9-10 maande baie goed groei. Die res van die plaas is tans onder 12ha oulandgras en die ander dele is mengsels van gewone rooigras/dekgras ens. Wat is die beste opsie om op die ander 50hektaar te vestig vir weiding in die somer en dan genoeg weiding te hê tot einde Junie? Ons sal bale/lusern ens. voer van Julie-Oktober. Ons het baie ouens al gevra en kry meer verskillende antwoorde as wat ons vrae gehad het. Oulandgras groei goed by ons, maar sommige ouens reken die 5-in-1 skaapmengsel van Alzu is die beste om te plant. Kan mens droëland lusern plant op so 15 hektaar? Sal dit genoeg reën kry om te kan baal/wei om die beurt?

Antwoord

Weiding vir die somer tot in Junie. Die volgende alternatiewe kan oorweeg word:

  1. ‘n Mengsel van Rhodesgras en Smutsvinger, wat gewei kan word tot einde Desember. Dan te bemes en dit te laat uitgroei tot Maart/April en dan as staandehooi te wei tot Junie/Julie. Tussen Maart en Junie kan die skape op Oulandsgras wei.
  2. Indien besproeiing beskikbaar was, sou ‘n mengsel van Langswenkgras en Witklawer goed kon doen vir die herfs en lente.
  3. Vir die winter (droëland) is daar twee moontlikhede beskikbaar: Plant Hawer of Stoelrog gemeng met Weiwieke in Februarie vir winterweiding of onder droër toestande kan Japanese Radyse in Februarie geplant word. 

Geskryf deur:  prof. Chris Dannhauser, Weidingskundige

23 September 2016


Kommentaar

Een kommentaar op “Weiding vir skape op die Hoëveld

  1. Petrus Fouché
    Petrus Fouché

    Twee verdere opsies: plant Sugargraze (soet x soetsorghum) in somer vir winter staandehooi; plant canola op gestoorde vog in laatsomer of vroeë herfs vir winterweiding. Dié twee kan ook saam geplant word.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X