Vra vir Faffa

Weg met gebruikte plaagdoderhouers!

Vraag

Antwoord

Belangrike stappe is reeds geneem om die gebruik van plaagdoders meer veilig te maak, maar wat doen ‘n mens met die leë houers? ‘n Kenner vertel hoe om te maak.

Suid-Afrika se landbouers is aangewese op ‘n hele reeks insette wat produksie van voedselkommoditeite ekonomies haalbaar en volhoubaar maak. Plaagdoders wat insekdoders, onkruiddoders, swamdoders en ander verwante produkte insluit, maak ‘n redelike groot deel van daardie insette uit en kos boere jaarliks in die orde van R4 miljard. 

Deur die jare heen het die Vereniging van Dieregesondheids- en Plantbeskermingsverenigings (AvcaSA) wat die plaagdoderbedryf in Suid-Afrika verteenwoordig, die landbougemeenskap met sterk boodskappe oor die verantwoordelike gebruik van plaagdoders gevoer. Dit het tot gevolg gehad dat produsente die gebruik van hul plaagdoders baie ernstig opneem en meestal baie verantwoordelik daarmee optree.

Sertifiseringsorganisasies soos GlobalGap en ander plaas ook druk op produsente om plaagdoders met groot verantwoordelikheid te gebruik ten einde hul sertifisering te behou.

Ongeag die belangrike stappe wat die landbougemeenskap reeds geneem het om plaagdodergebruik meer veilig te maak, is daar steeds groot vraagstukke waaronder produsente gebuk gaan. Een daarvan is die dilemma van gebruikte plaagdoderhouers. Die ou bedeling het die boer toegelaat om sulke leë houers uit te spoel, gate in te kap en te begrawe of te verbrand.

Raad vir afvalbestuur
Ingevolge nuwe wetgewing oor afvalbestuur mag sulke dinge nie meer gedoen word nie en laat dit boere met ‘n probleem. Avcasa is egter altyd gereed om raad te gee oor sulke uitdagings.

Plaagdoderhouers word van baie goeie poliëtileenplastiek vervaardig en dus is dit eintlik ‘n sonde om sulke houers bloot te verbrand. Die plastiek het tog ‘n bepaalde waarde en dus moet mens iets daarmee doen sodat die intrinsieke waarde daarvan nie verlore gaan nie. Tog wil mens nie toelaat dat die leë houers op een of ander wyse ‘n gevaar vir mense of die omgewing inhou nie. 

Van die mees belangrike beginsels vir die verantwoordelike bestuur van plaagdoderhouers is dat dit nooit vir die verpakking of opberging van enige ander kommoditeite gebruik moet word nie. Daar is etlike gevalle jaarliks waarin plaaswerkers wat toegang tot sulke houers verkry, hulleself vergiftig omdat hulle kos en drinkbare vloeistowwe in leë plaagdoderhouers berg.

Moet dus glad nie toelaat dat plaaswerkers enigsins toegang tot leë plaagdoderhouers verkry nie. Gebruikte plaagdoderhouers moet ook nie gebruik word vir die berging van ander plaagdoders nie omdat daar ‘n groot gevaar van besmetting bestaan wat gewasse kan beskadig. 

Alle plastiek plaagdoderhouers behoort in die plastiekverwerkingsbedryf opgeneem te word sodat dit verwerk kan word om ander plastiekitems, soos pale, pype, palette, kratte en heiningsmateriale, daaruit te maak. Daar word egter nie enige houers uit sulke herwonne plaagdoderhouers vervaardig nie. Leë plaagdoderhouers moet skoon en droog wees voordat dit by sulke verwerkingsaanlegte ingelewer word. 

Die standaardpraktyk van drie keer uitspoel met skoon water (een derde van die houervolume per spoeling) staan steeds vas, maar Avcasa beveel aan dat houers nie vol gate gekap word nie omdat sommige verwerkers die leë houers weer met hoëdrukspuite en spesiale reiningsmiddels spoel voordat dit verwerk word. Die spoelwater moet in die spuittenk oorgegiet word en daarna moet die houers in die son gedroog word.

Herwinning van leë plaagdoderhouers
Sulke leëhouers wat ordentlik gespoel en gedroog is, word ingevolge die afvalbestuurswetgewing nie as gevaarlike afval beskou nie en mag dus geberg en vervoer word terwyl houers wat nog plaagdoders bevat, as gevaarhoudende stowwe geklassifiseer word en nie sonder permitte geberg en vervoer mag word nie. 

Boere kan self kontak maak met verwerkers soos EnviroServe by 0800 147 112 of die webtuiste van die Plastiekfederasie van Suid-Afrika besoek vir ‘n indeks van maatskappy wat plastiek verwerk. Ten einde koste te bespaar moet boere in boereverenigingverband saamwerk om skoon, leë houers gesamentlik per vragmotor na verwerkingsaanlegte af te voer. Daar is tog gereeld vragvoertuie wat sonder vrag iewers heen ry en as boere van sulke geleenthede gebruik maak, is die vervoeronkoste minimaal.  

Vanaf Januarie 2011 gaan AVCASA se Afvalbestuursprogram begin met die opruiming van uitgediende plaagdoders asook leë plaagdoderhouers. Boere moet die landboumedia dophou vir aankondigings oor die program en sover moontlik deelneem om te verseker dat plase vry van leë houers en uitgediende plaagdoderhouers is. Vir enige verdere inligting kontak die Griffon Gifinligtingsentrum by 082 446 8946. 

16 September 2010


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X