Vra vir Faffa

Watervoorsiening vir lamhokke

Vraag

Kan u vir my inligting gee oor die watervoorsiening vir skape in lamhokke?

Antwoord

Die watervoorsiening in lamhokke moet verkieslik outomaties wees. Die watervoorsiening geskied vanaf ‘n sentrale watertenk na die lamhokke. By die lamhokke vloei die water eers deur ‘n houer (meestal ‘n plastiese drom of ‘n kan) met ‘n balklep, wat die hoogte van die watervlak in die rioolpype (bekend as "waste sewerage pipe" met ‘n deursnit van 110 mm) reguleer. Die water word sodoende in elke lamhok voorsien. Hierdie rioolpype het dan ‘n opening (gewoonlik in die middel van die lamhok) waaruit die ooie drink. Waar lamhokke in rye, rug-aan-rug gebou is, kan een pyp gelyktydig vir twee lamhokke water voorsien. Dit is belangrik om die waterpype op so ‘n hoogte te plaas dat ooie nie daarin kan mis en dit sodoende besoedel nie. Skape verkies vars, skoon drinkwater en daarom moet hierdie pype gereeld skoongemaak word. Die pype het skroefdoppe aan die einde wat oopgedraai kan word sodat die vuil water kan uitloop.  Tydens die skoonmaakproses moet voorkom word dat die water die lamhokke natmaak, want indien daar nat mis is, is dit die ideale medium waar vlieë en koksidiosesiste kan uitbroei.  Om die pype deeglik skoon te maak, kan ‘n spons wat styf in die pyp pas of ‘n leë lemoensakke met behulp van ‘n staaldraad deur die pyp getrek word om dit deeglik skoon te maak. Aangeheg (klik op onderstaande pdf) is foto’s wat die watervoorsiening in lamhokke illustreer. 

Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
24 Augustus 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X