Vra vir Faffa

Watergras in plaasdam

Vraag

Ons plaasdam is toegegroei met watergras. Die water word gebruik as drinkwater vir die melkkoeie en skape. Hou dit enige gevaar in vir die diere? Hoe kan die gras beheer word? Ons bly in Bethlehem distrik. Pieter Klopper (paulroux@ovk.co.za)

Antwoord

Ons plaasdam is toegegroei met watergras. Die water word gebruik as drinkwater vir die melkkoeie en skape. Hou dit enige gevaar in vir die diere? Hoe kan die gras beheer word? Ons bly in Bethlehem distrik. Pieter Klopper (paulroux@ovk.co.za)

Nee, normaalweg sal watergras nie ‘n nadelige effek op waterkwaliteit hê nie en behoort die water dus veilig te wees vir vee (akwatiese plantegroei tree inderwaarheid dikwels op as “biologiese filters” wat organiese voedingstowwe verwyder en waterkwaliteit dus verbeter). Sekere alge kan egter toksies wees, soos wat die geval in die Kruger Wildtuin was so ‘n rukkie terug.
Wat beheer van watergras betref, stem ek saam met die voorstel om visse te gebruik. Sommige van die kurperspesies is veral geskik vir die doel. In die Laeveld het ons probleme gehad met waterplante in ‘n sementdam wat die beeste se krippe in die kampe van water voorsien het. ‘n Aantal rooiborskurpers (wat later in die dam aangeteel het), het egter die probleem spoedig in toom gehou.
Let daarop dat jy liefs ‘n growwe sif (“grid”) voor die uitlooppype moet sit om te vehoed dat vingerlinge in die pype inswem / ingesuig word en moontlik blokkasies veroorsaak. Rooiborskurpers is egter ‘n warmwaterspesie (soos bloukurpers) en sal vrek as die watertemperatuur te koud raak. Vir kouer omstandighede is vleikurpers ‘n geskikte alternatief (hulle kom byvoorbeeld in die Hoëveld in die Klein Olifantsrivier voor). Ek weet van vleikurpers in sement plaasdamme wat floreer waar die minimum winter omgewingstemperature tot -4 grade Celsius daal.
Die ander alternatief vir kouer areas is graskarpe (die visse word bv. algemeen in foreldamme in kouer areas gebruik om waterplante te beheer). Dit is ‘n ingevoerde vis en visse wat vir die doel verkoop word, moet gesteriliseer wees om te verhoed dat hulle natuurlik voortplant. Daar is egter reeds ‘n paar “wilde bevolkings” (onder andere byvoorbeeld in die Vaalrivier in die Bothaville omgewing).
‘n Mens moet egter daarop let dat visse nie sonder die nodige permitte van Natuurbewaring geskuif of gevestig mag word nie. Mens moet ook verkieslik visse gebruik wat reeds in die omgewing voorkom (ek is egter nie seker of vleikurpers al wel in die Bethlehem distrik gevestig is nie). Kontak gerus vir Casper Kruger by Hartebeespoort Visserye (telefoon nommer  012 259 1231). Hy behoort op hoogte te wees van vereistes wat natuurbewaring het om visse te vestig en hy sal jou verder kan help met praktiese raad en behoort selfs van die visspesies waarop jy sou besluit te kan verskaf.  
Geskryf deur: Dionne Crafford (crafford2@telkomsa.net)
18 Julie 2009

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X