Vra vir Faffa

Vuilbek

Vraag

Waarom het sy lammers sere om die bek, vra 'n skaapboer.

Antwoord

Vraag:
My jong lammers het sere om die bek. Wat is dit en wat kan ek daaraan doen? – Johan (johan.grobbelaar2@standardbank.co.za)

 

Antwoord:
Vuilbek (orf)
Inleiding
Vuilbek is ‘n siekte wat vratagtige letsels in die vel van skape en bokke veroorsaak en word ook orf genoem. Vuilbek word veroorsaak deur die pokkevirus naamlik Paravaccinia en tas skape, bokke en die mens aan. Dit is dus ‘n soönose – ‘n siekte wat van diere na mense oorgedra kan word.

Waar die siekte voorkom
Vuilbek kom wydverspreid in Suid-Afrika voor.

Virus
Die parapoxvirus kan sy besmetlikheid behou selfs as die virus vir 30 minute by 55°C gehou word. Die virus kan in droë rofies wat in die donker by 7°C gehou word, vir jare besmetlik bly. Die virus kan deur reinigers, wat vet oplos, vernietig word.

Beskrywing van die siekte
Jong lammers is meer vatbaar en toon dus ernstiger kliniese tekens as volwasse diere. Indien volwasse skape en bokke al voorheen aan die vuilbek virusblootgestel is, ontwikkel hulle ‘n weerstand teen die siekte. Vuilbekvirus is baie stabiel wanneer dit aan omgewingsfaktore blootgestel word en kan vir maande of selfs jare besmetting op ‘n plaas veroorsaak.

Oordrag van besmette na vatbare skape vind deur direkte kontak plaas of direk wanneer die virus wonde binnedring. Insekte soos riviermuggies kan ook klein wondjies veroorsaak. Permanente besmetlike diere kan in ‘n kudde voorkom, wat as bron van besmetting in ‘n kudde dien. Wilde herkouers mag ook die besmetting na kleinvee, wat op ‘n gesamentlike weiding loop, oordra. Bokke wat aan doringbosse en steekgras vreet, doen wonde op waardeur die virus die liggaam binnedring. Na 2-6 dae raak die plek van indringing rooi en effens geswel en ‘n roof ontwikkel. ‘n Vitamien A-tekort kan ook daartoe bydra dat die siekte ‘n verhoogde voorkoms het. Groot uitbreke van vuilbek kom voor gedurende nat seisoene. Die vel versag, klein wondjies ontstaan op die vel (veral op die pote), en daarom kom letsels veral op die hoefkrone voor.

Die virus tas vier basiese areas aan, naamlik die lippe, kloue, geslagsdele of die hele liggaam. Die lipvorm is meer algemeen. Die lippe, neusspieël, ooglede, tandvleis en selfs die slukderm en rumen kan aangetas word. Die vratagtige letsels is enkel of veelvuldig. Die klouvorm kom voor waar diere op lang stekelrige gras wei en waar nat toestande heers. Letsels ontwikkel op die hoefkroon en tussenklouspasies.

In ernstige gevalle kan die kloubeentjies aangetas word. Letsels kan na die uier en geslagsdele versprei wanneer besmette lammers aan die ooi of mekaar suip. Sekondêre bakteriese besmetting veroorsaak komplikasies soos mastitis, lewerabsesse, longontsteking en selfs septisemie wat kan lei tot vrektes, veral by jonger skape. Die verspreide vorm word selde gesien. Die dier het nooit ‘n koors nie, aangesien die virus lokaal in die letsels bly. Vuilbekletsels is pynlik en veroorsaak dat die diere weier om te vreet. Dit lei tot verlies aan massa en kondisie en selfs vrektes. Brommeraanvalle kan ook in die aangetaste dele plaasvind. Mense raak besmet wanneer hulle klein wondjies op die vel het en hulle dan besmette diere hanteer. Dra liewers handskoene wanneeer aangetaste diere behandel word. Honde wat aan besmette karkasse vreet, kan ook die siekte opdoen.

Differensiële diagnose
Siektes wat met vuilbek verwar kan word is:

  • Skaap- en bokpokkies (nie in Suid-Afrika teenwoordig nie)
  • Swaminfeksies
  • Dermatofilose (klontwol, bakteriese infeksie)
  • Bloutong – swelsels en bekswere
  • Vrotpootjie
  • Bek-en klouseer
  • Stafilokokkus infeksie
  • Aktinobasillose
  • Ulseratiewe dermatoseDaar moet onthou word dat hierdie toestande saam met vuilbek kan voorkom.
  • Behandeling:
    Behandel die letsels met salf wat ‘n antibiotikum of sulfamiddel bevat. ‘n Melksalfmiddel kan ook gebruik word om die rowe sag te hou. Aërosolmiddels wat antibiotika bevat, kan ook op die letsels gespuit word. Aangetaste lammers wat nie meer kan suip nie, moet op sagte groenvoerweidings geplaas word. Melk kan ook met ‘n maagbuis vir lammers gegee word. Diere kan antibiotika toegedien word om sekondêre bakteriese infeksie te bekamp. Bespreek die behandeling met u veearts.
  • Voorkoming en beheer
    Die entstof moet slegs gebruik word op plase waar vuilbek ‘n probleem is, aangesien ‘n lewende, onverswakte virus gebruik word. Dragtige ooie moet minstens 4 weke voor lamtyd ingeënt word sodat hulle teen uierbesmetting beskerm kan wees. Jong lammers kan vanaf die ouderdom van 1 week ingeënt word. Enting help selfs in ‘n uitbreek en sal genesing bespoedig.

    Die aktiewe bestanddeel van die entstof is in poeier- of klontvorm in ‘n klein botteltjie. Dra van die 10 ml steriele gliserienwater wat saam met die entstof kom, met ‘n steriele spuit oor na die botteltjie gedroogde entstof. Meng deeglik totdat die poeier opgelos is. Dra die entstof oor na die res van die gliserienwater en meng goed. Gebruik ‘n skoon spuitnaald en maak 2-3 parallelle skrape op die kaal vel net agter die voorbeen, diep genoeg om rooi merke op die vel te maak, maar nie so diep dat dit bloei nie. Doop die kwassie wat voorsien word in die suspensie en wend die entstof daarmee op die skraapplekke aan. Inenting moet verkieslik nie in die lies van die dier gedoen word nie, aangesien dit kan lei tot infeksie van die uier of manlike geslagsdele. ‘n Jaarlikse skraagdosis word aanbeveel.

    Uitwerking van die entstof
    Na ongeveer 3 dae is die vel om die skrapies rooi en opgeswel. Later ontwikkel ‘n roof oor die entplek. Immuniteit duur van 1-2 jaar, maar kan nie by alle diere gewaarborg word nie. Aangesien die mens vatbaar is vir vuilbek, moet die suspensie versigtig hanteer word. Vermy kontak met die suspensie as daar wonde of skrape op die vel van die hande of arms is, deur handskoene te dra.

     

  • Geskryf deur: dr Faffa Malan, Veeartskonsultant en dr Jan du Preez, MPO Instituut vir Suiweltegnologie.Bron:
    Du Preez, J. en Malan, F. 2007. Entstowwe en Immunisering van Plaasdiere. Agri Connect (Edms) Bpk. ISBN 978-0-620-37335-7

    9 Mei 2008


Kommentaar

Kommentaar (4) “Vuilbek

  1. B Van Vuuren
    B Van Vuuren

    Wat kan gebruik word vir genesing as mens die ora kry.

  2. Janbez

    Die persoon moet sy dokter gaan sien.
    Gaan lees meer oor die siekte en behandeling by:
    http://en.wikipedia.org/wiki/Orf_(disease)
    Groete
    Dr. Faffa Malan

  3. Gretchen
    Gretchen

    Wat is die entsyof se naam?

  4. Jan Bezuidenhout

    Dr. Faffa Malan antwoord:
    ORF Suspension van Onderstepoort Biologiese Produkte.
    As die entstof nie beskikbaar is nie kan jy met jou veearts praat wat vir jou ‘n entstof kan maak.
    Groete
    Faffa


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X