Vra vir Faffa

Vrugbaarheid se invloed op vleisbeesboere se inkomste

Vraag

Hoe kan ek as vleisbeesboer my inkomste vergroot?

Antwoord

Die gesonde argumente tussen die voor- en nadele van verskillende vleisbeesrasse is sekerlik iets wat nooit begrawe gaan word nie.  Een argument waaroor boere met van alle rasse egter saamstem, is dat `n lelike koei wat elke jaar `n kalf speen, steeds meer werd is as die suiwerste vers met vrugbaarheidsprobleme.  Die koeie op jou plaas is die fabrieke wat jou natuurlike weiding in `n produk omskep wat vir jou geld in die sak bring.  `n Fabriek wat toestaan, het egter steeds kostes aan verbonde en loop dus teen `n verlies aangesien daar geen produkte geproduseer word nie.  Vrugbaarheidsprobleme stam egter nie net van vroulike diere af nie en `n bul, wat nie vrugbaar is nie, kan tot baie groter finansiële verliese lei.  Eksterne faktore, soos voeding en gesondheid, wat ook `n groot rol in vrugbaarheid speel, word weer deur die produsent beheer en daarvoor kan die koei of bul nie verkwalik word nie.

Die konsep van vrugbaarheid is dus ononderhandelbaar in die produsie van vee, maar tog is daar heelwat produsente wat maar eerder anderpad kyk wanneer `n vroulike dier oorslaan, want sy is tog te mooi om net weg te maak.  Die dryf na die verbetering van vrugbaarheid is egter nie net tot voordeel van die individuele produsent nie, maar moet in konteks van groter nasionale belangrike kwessies, soos voedselsekuriteit, gesien word.

Die huidige stand van vrugbaarheid

Indien die eksterne faktore buite rekening gelaat word, is daar myns insiens twee belangrike maatstawwe van vrugbaarheid, eerstens is dit die kalfpersentasie (hoeveelheid kalwers gebore ten opsigte van die hoeveelheid koeie gepaar) en tweedens die tussenkalfperiode (TKP) wat die hoeveelheid dae tussen elke kalwing aandui.  Suid-Afrika se veeboerdery is baie divers en wissel van stoettelers tot kommersiële produsente en dan nog die opkomende en kommunale produsente ook.  Die gemiddelde nasionale kalfpersentasie en TKP van elke groep produsente verskil dus, maar vir die doel van die artikel sal daar op die kommersiële sektor gefokus word.  Die gemiddelde kalfpersentasie van die kommersiële sektor is tans 61% terwyl die TKP ongeveer 436 dae is.  Hierdie syfers is egter beroerd indien dit gemeet word aan die gemiddelde kalfpersentasie van kommersiële boere wat aan prestasietoetsing deelneem en tans op 83% staan.

Die moontlike invloed van beter vrugbaarheid

Die moontlike invloed van beter vrugbaarheid op die totale beesvleisproduksie in Suid-Afrika word in Tabel 1 aangedui.  Huidiglik produseer SA ongeveer 677 miljoen kilogram beesvleis per jaar, maar is steeds `n netto invoerder en voer ongeveer 58 miljoen kilogram beesvleis in.  Indien ons aanneem dat hierdie syfers bereik word teen die huidige kommersiële gemiddelde kalfpersentasie en TKP, is dit redelik maklik om die invloed van `n beter kalfpersentasie, TKP of beide te voorspel.  Die verbetering van sowel die kalfpersentasie en TKP na 83% en 365 dae onderskeidelik sal veroorsaak dat SA `n netto uitvoerder van beesvleis word met 47% styging in produksie.                                       

Dieselfde beginsel kan gebruik word om die invloed van beter vrugbaarheid op `n individuele produsent aan te dui. Indien `n produsent met 200 koeie `n kalfpersentasie van 61%, TKP van 436 dae en vervangingspersentasie van 15% het, beteken dit dat die produsent ongeveer 77 kalwers per jaar bemark.  Indien die kalfpersentasie egter 83% is, die TKP 365 dae en die vervanging steeds 15% beteken dit dat dieselfde produsent nou 136 kalwers per jaar kan bemark en die produktiwiteit dus met bykans 76.6% kan verbeter.

Ten Slotte

Goeie vrugbaarheid gaan `n ononderhandelbare vereiste in die toekoms van veeboerdery bly.  Verbeterde vrugbaarheid is nie net noodsaaklik vir die volhoubare voortbestaan van die individuele produsent nie, maar is ook belangrik vir die land in terme van voedselproduksie en ekonomiese groei.  Indien ons die plaaslike vrugbaarheid kan verbeter en `n netto uitvoerder van rooivleis word, gaan ons ook nooit weer hoef te kla oor invoere wat ons mark skade berokken nie.

Tabel 1:  Moontlike invloed van beter vrugbaarheid op SA beesvleisproduksie 

Kalfpersentasie

61%

83%

61%

83%

Tussenkalfperiode   (TKP)

436 Dae

436 Dae

365 Dae

365 Dae

Produksie (kg)

676 736 500

920 805 402

808 700 118

1 052 769 019

Invoere (kg)

58 111 374

Moontlike Uitvoere   (kg)

185 957 527

73 852 243

317 921 145

Totale vleisverbruik   (kg)

734 847 874

734 847 874

734 847 874

734 847 874

Verandering in   Produksie

27%

11%

47%

Geskryf deur: Frikkie Maré, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat (MareFA@ufs.ac.za)

25 Julie 2015


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X