Vra vir Faffa

Vroegspeen van lammers en speenskok

Vraag

Ek is opsoek na ‘n program vir die bestuur van vroegspeen van skaaplammers in droogte tye.

Antwoord

Vroegspeen van lammers, in sekere omstandighede, met die voorsiening van kruipvoer vanaf twee weke ouderdom, bied verskillende opsies aan kommersiële skaapprodusente.   Vroeggespeende lammers beskik oor ‘n uitsonderlike vermoë om hoë gehalte aanvullings en hoë gehalte aktief-groeiende en blaarryke aangeplante weiding hoogs doeltreffend na vleis om te sit waardeur vleisproduksiedoeltreffendheid verhoog word.

Vroegspeen kan normaalweg gedefinieer word as die speen van lammers vroeër as 100 dae ouderdom.  In vroegspeenstelsels word lammers normaalweg op 70 tot 80 dae ouderdom gespeen, hoewel lammers met ‘n doeltreffende bestuurs- en voedingsprogram so vroeg as 56 dae ouderdom gespeen kan word omdat die rumen (grootpens) dan al fisiologies voldoende ontwikkel het om weiding en byvoeding doeltreffend te verteer en te benut.  Normaalweg word lammers in die praktyk eers op ‘n ouderdom van 100 tot 120 dae gespeen hoewel dit in ekstensiewe gebiede meestal eers vanaf 150 dae ouderdom geskied.  Vroegspeen bied kommersiële skaapprodusente die geleentheid om tye van voerskaarste (bv. seisoens- en rampdroogtes) makliker te oorbrug, maar dit kan ook in sekere omstandighede wanneer daar volop goeie gehalte weiding is, oorweeg word.  Die sukses van vroegspeen vereis egter baie goeie bestuur en voeding.

Speen is normaalweg ‘n spanningsvolle periode in die jong lam se lewe en word dikwels gekenmerk deur ‘n afname in groei, geen groei en in sommige gevalle massaverlies.  Hierdie verskynsel staan bekend as speenskok.  Die ernstigheidsgraad en die duur daarvan hang van die lammers se ouderdom, massa en voedingsprogram voor speen af.  Wanneer gepoog word om die speenskok te beperk, moet daarop gelet word dat studies met lammers en boklammers toon dat die massa met speen normaalweg meer belangrik is as die ouderdom self.  Ander faktore wat ‘n rol in die omvang van die speenskok speel, is die algemene gesondheid van die lammers sowel as ander stresfaktore (bv. klimaat, hoeveelheid en gehalte weiding, ensovoorts). In die Angorabedryf is speenskok een van die grootste probleme.  Angoralammers kan tot drie tot vyf maande neem om oor die speenskok te kom met gepaardgaande hoë (tot 12.5 %: Terblanche, 1991) naspeense vrektes.  By skape is die “benchmark” norm vir naspeense vrektes (d.i. vanaf speen tot eerste paring) 3 %, met 5 % as die absolute maksimum.

Vir die volledige artikels klik op onderstaande skakels.

Geskryf deur: Dr. Jasper Coetzee Pr.Sci.Nat. (Anim.Sci.) Ph.D. (Agric.) Stellenbosch, Professionele Veekundige (400328/83); Skaapvoeding- en Bestuurspesialis Konsultant, jasperco@iafrica.com

28 Maart 2015


Kommentaar

Een kommentaar op “Vroegspeen van lammers en speenskok

  1. Ters
    Ters

    Goeiedag, ek wil weet wat om te doen met ooie die dag wat hul lammers gespeen word om hul melkproduksie te stop en om te voorkom dat hul uiers beskadig word.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X