Vra vir Faffa

Vreemde voorwerpe in die slukderm en grootpens

Vraag

Ek het eergister een van my beeste gesien wat 'n plastieksak gevreet het. Dit is een van die supermarksakkies wat hier oor die plaas gewaai het. Het jy enige idee wat ek haar kan ingee om die plastieksak te laat verweer in haar pens sodat sy dit normaal kan uitskei?

Antwoord

Daar is ‘n geloof by baie boere dat ‘n bees wat ‘n plastieksak ingekry het met 2 liter Coke reg gedokter kan word. Ek is bevrees dat daar geen wetenskaplike bewys is om hierdie geloof te staaf nie. Die enigste manier om van plastieksakke, baaltoue en ander vreemde voorwerpe in die grootpens en ruitjiespens ontslae te raak, is vir ‘n veearts om ‘n rumenotomie te doen en die voorwerpe fisies te verwyder.

Mönnig en Veldman het die volgende beskrywing van vreemde voorwerpe in die slukderm en maag in die boek Handboek oor Dieresiektes neergepen.
“Dit gebeur veral by beeste dat ‘n aartappel, perske, lemoen, peer, stuk pampoen, of iets dergeliks in die slukderm vassit. So iets gebeur baie selde as die diere sulke voedsel rustig staan en vreet, want dit word goed gekou. Is die diere egter gulsig, of word hulle by ‘n kissie vrugte verby gejaag en hulle probeer ‘n paar vrugte in die haas opraap en insluk sonder om dit eers te kou, dan gebeur dit dikwels dat die voedsel in die slukderm vassit – soms net agter die keel, soms net waar die slukderm in die borskas ingaan. By perde pak die hele lengte van die slukderm soms vol dro? gras, hooi of hawer.
Siektetekens
Sulke diere probeer kort-kort sluk en begin dadelik erg kwyl. Daar vind ‘n ophoping van speeksel in die voorste deel van die slukderm en in die keel plaas en die diere hoes kort-kort. Indien die voorwerp rond is en dus in die geval van beeste die slukderm volkome afsluit, sodat die diere geen winde kan opbreek nie, blaas hulle baie gou op – perde egter nie. By beeste moet die simptome van opblaas tesame met oormatige kwyling en hoes ‘n mens daarom altyd aan ‘n vreemde voorwerp wat in die keel vassit laat dink.
Behandeling
Wanneer die voorwerp op enige plek voor die ingang van die slukderm in die borskas vassit, kan dit gewoonlik gevoel word. Groot voorwerpe soos bv. ‘n lemoen sit gewoonlik net agter die keel vas en kan met die twee hande van buite af vorentoe gewerk word en die dier spuug dit gewoonlik self uit. Behandeling moet so gou moontlik toegepas word. Kontak u veearts so gou moontlik om u van middels te voorsien wat die slukderm verlam sodat die voorwerp versigtig met ‘n maagbuis afgestoot kan word.
Aangesien die bees nie juis ’n versigtige vreter is nie en geneig is om net effens te kou en te sluk om dit later weer te herkou, word vreemde voorwerpe soos draad, spykers en klippe dikwels ingesluk. Sulke swaar voorwerpe samel gewoonlik in die ruitjiespens aan wat net onder die slukdermopening lê. Hierdie voorwerpe kan jare daar lê sonder om enige steurnisse te veroorsaak. Daar is seker min beeste, veral melkkoeie, wat uit krippe gevoer word, wat nie ‘n paar stukkies draad of ander voorwerpe in hulle ronddra nie.
Aangesien die ruitjiespens gedurig saamtrek en omdat ‘n bees met die agterlyf eerste opstaan en daarom die buikorgane met hul inhoud vorentoe laat beweeg sodra die dier opstaan, bestaan daar altyd die moontlikheid dat van die skerp stukke draad of spykers, veral vorentoe deur die ruitjiespens kan steek. Dieselfde gebeur soms wanneer ‘n koei kalf en die druk in die buikholte aansienlik verhoog word.
Sulke skerp voorwerpe steek seker meer dikwels deur die ruitjiespens as wat gewoonlik aangeneem word. Baie gevalle waar melkkoeie twee of drie dae kroes is, is miskien hieraan toe te skrywe. Die besering is egter gering en genees by die meeste gevalle vanself weer baie gou.
Die skerp voorwerpe kan in enige rigting en tot in enige nabygele? orgaan deurdring, bv. tot in die mantelvlies of selfs dwarsdeur tot in die hartsak, die milt, lewer, ens. Die hartsak lê baie na aan die ruitjiespens met slegs die mantelvlies tussenin.
Die bees raak gewoonlik skielik siek en die eetlus is swak of heeltemal afwesig. Die dier staan en loop gewoonlik met gekromde rug en is geneig om te steun en wanneer hy loop, lyk dit asof die voorlyf en voorbene half styf gehou word. Indien ‘n mens die dier op die rug knyp sodat die rug hol gemaak word, volg daar gewoonlik ‘n duidelike kreun van pyn.
As die skerp voorwerp tot in die hartsak deurgedring het, begin die nekare ná ‘n paar dae duidelik uitstaan. Dan begin daar ‘n swelsel tussen die voorbene en soms ook onder die kakebeen ontwikkel; die swelsel word later so erg dat die dier moeilik kan loop. Die eetlus is gewoonlik swak en verskil van dag tot dag. Die maag begin gewoonlik werk. Die bees vrek baie selde skielik aan hierdie siekte, maar bly gewoonlik 10 dae of langer siek voor die dood intree.
Nadoodse letsels
By die nadoodse ondersoek is die opvallendste letsels die vasgroeiing van die ruitjiespens aan die mantelvlies en soms een of meer absesse in die omgewing. Dikwels word die draad of spyker gevind waar dit nog in die letsel steek. As die voorwerp tot in die hartsak deurgedring het, is die ruitjiespens ook aan die mantelvlies vasgegroei, maar die hartsak self toon die kenmerkende veranderinge. Dit is geweldig vergroot en gevul met erg stinkende, vuil, waterige etter, gewoonlik bruinerig van kleur. Om die hart self en aan die binnekant van die hartsak is daar tot ‘n 20 mm dik, geel aanpaksel waarvan die oppervlakte grof is. Die hart self lyk proporsioneel hopeloos te klein vir die hartsak en is ook omhul met die dik geel aanpaksel. Die spyker of draad word gewoonlik gevind in die gedeelte waar die hartsak aan die mantelvlies vasgegroei het. Absesse kan oral in dié omgewing aanwesig wees.         Absesse in die lewer en milt kom voor wanneer die voorwerp tot in hierdie organe deurgedring het.
‘n Operasie (rumenotomie) om die vreemde voorwerp te verwyder, is die enigste behandeling wat suksesvol is, maar wanneer dit tot in die hartsak deurgedring het, is dit baie selde van waarde”. Dit is ook al raad wanneer plastieksakke die probleem veroorsaak.
Obstruksie van die retikulo – omasale opening
Dit is die obstruksie van die opening tussen die ruitjiespens (retikulum) en die blaarpens (omasum). Baaltou en plastiese materiaal is dikwels die sondebokke. Tekens wat dikwels gesien word, is dat die dier se eetlus dikwels wissel tussen goed en swak. Die grootpens is effens vergroot met normale beweging wat plaasvind. Soms kan daar egter vermeerderde beweging plaasvind en diere kan selfs vomeer. Verminderde misuitskeiding mag plaasvind, val in melkproduksie vir 24 – 48 uur waarna dit terugkeer na normaal om na verloop van tyd weer te val. Die dier kreun nie. Diagnose word bevestig deur ‘n rumenotomie te doen.
Haarballe
“Haarballe is ‘n ander soort vreemde voorwerp wat by diere, veral beeste, aangetref word. Wanneer die vel baie gelek word, bv. by kalwers wat met luise besmet is, word van die los hare ingesluk en hulle is geneig om aan mekaar vas te koek. So ‘n haarbal neem stadig toe in grootte. Party is werklik harig en grof, ander weer glad, wanneer hulle uit die dier gehaal word. Hulle kan so groot soos ‘n volstruiseier word. By beeste lê hulle gewoonlik in die grootpens sonder om enige steurnis te veroorsaak. By perde, waar hulle dikwels uit plantvesels bestaan, word hulle soms van die maag na die dunderm deurgestoot waar hulle vassit en ‘n hewige, dodelike aanval van koliek veroorsaak. Haarballe kom ook dikwels voor by skaap- en boklammers wat aan kaalsiekte ly”.
Bronne:
Mönnig, H.O en Veldman, F.J. 1975. Handboek oor veesiektes. Tafelberg-Uitgewers.                    ISBN 0 624 00359 0
Radostis, O.M, Gay, C.C, Hinchcliff, K.W en Constable, P.D. 2007. Veterinary Medicine, 10 th edition. Elsevier. ISBN 978 0 7020 2777 2
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)
13 September 2010
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X