Vra vir Faffa

Vratte (papillomas)

Vraag

Van my koeie (vleisbeeste) se spene is met vratjies besmet. Ek het hulle met antibiotika ingespuit - 3 keer per week vir twee weke lank, maar dit het niks gehelp nie. Kan u my asseblief van raad voorsien. - Lourens Viljoen (ViljoeLJ@telkom.co.za). Kom vratte ook in ander diere voor?

Antwoord

Vratte is goedaardige kankervergroeisels van die vel en slymvliese en word deur papillomavirusse veroorsaak. Die virusse is spesiespesifiek en in beeste is daar tans 6 tipes virusse, wat vratte veroorsaak, bekend. In mense is daar al byna ‘n 100 verskillende tipes beskryf.

Die oordraging van virusse vind gewoonlik van bees tot bees plaas deur kontak waar daar beserings op die vel en slymvliese voorkom. Oordraging van die virus deur insekte is ook moontlik. Koeie wat vratte op hul spene het, kan die virus aan hul kalwers oordra deur die melk of wanneer hulle suip.
Die virusse is baie bestand teen uitdroging en daarom kan die omgewing, soos pale, toue en instrumente ook met die virus besmet raak en ander diere indirek aansteek.
Diere kan op ‘n baie jong ouderdom reeds besmet raak. Die infeksie kan vir ‘n lang tyd latent bly en eers later aktief raak. Vratvirusse is ook al gekry in perde, donkies, muile, skape en bokke, honde, konyne en in wild
 
Beeste
In beeste word vratte op die vel van veral die kop en nek gekry, maar kan ook in die boonste slymvliese van die dermkanaal, asook op die slymvliese van die penis en skede voorkom. Die periode vandat die dier met die virus besmet raak totdat vratte voorkom, is gewoonlik ongeveer 3 tot 4 maande. Die vratte kan na ‘n jaar verdwyn as die dier immuniteit opbou.
Indien die dier se immuniteit verswak, kan sommige vratte in kwaadaardige gewasse oorgaan. Ons sien dit gewoonlik by vratte in die oog, vulva, dermkanaal en blaas. Blootstelling aan sonlig kan ook ‘n rol speel.
 
Perde, donkies en muile
Papillomas kom algemeen in die perdefamilie op die vel van die neus, ledemate en slymvliese van die voorhuid, vulva, oogslymvlies, mond en kornea, voor. Vratte ontwikkel gedurende die eerste 2 jaar van hulle lewe en kan selfs in die baarmoeder geskied. Na besmetting met die virus ontwikkel ‘n goeie immuniteit.
 
Skape
Verskillende papillomatose gewasse word in skape gevind. Papillomas van die gesig, ore (lyk soos horinkies) en by ouer skaapooie ontwikkel skilferagtige vergroeisels by die geslagsopening. By jonger diere ontwikkel vratagtige papillomas op die laer voorbene. Oorletsels ontwikkel ook dikwels. Waar kanker op die vulva voorkom in veral skape waarvan die sterte baie kort afgesny is en waar die area baie aan sonlig blootgestel is, word die teenwoordigheid van die papilloma virus in verdikte korserige areas om die kanker gevind.
 
Bokke
Papillomas word veral op die uier gevind, maar kan elders op die vel en slymvliese gevind word.Vratte wat op die uier voorkom, nie pigment het nie en aan uitstraling blootgestel word, ontwikkel in plaveiselkarsinome (kwaadaardige gewasse). Die indikasie is dat papillomavirus in hierdie gewasse voorkom.
 
Varke
Papilloma-agtige strukture kom in pasgebore varkies op die rand van die tong voor.
 
Hase en konyne
Papillomas kom op die vel en in die mond voor en kan tot kwaadaardigheid oorgaan.
 
Honde
Papillomas kom in die mond van honde voor veral as hulle in hondehokke waar ‘n groot getal honde voorkom, aangehou word. Gevalle van kwaadaardigheid het al voorgekom.
 
Ander spesies wat ook deur ‘n eiesoortige papillomavirus aangetas kan word, is: papegaaie, Indiese olifante, rooibokke, kameelperde en muise. Die voorkoms van die virus wat papillomatose veroorsaak is nog nie bevestig in katte en renosters nie.
 
Beheer:
Gewoonlik is geen behandeling nodig nie, maar soms is daar uitbreke in kuddes en dan moet diere uitgeskot word. Erge vratte op die spene en uiers kan tot mastitis lei. Die vratte kan uit- of afgesny word, indien moontlik. Van die oorblywende vratte word stukkend gedruk sodat die dier se liggaam van die virus in die bloedstroom kan opneem en die immuunstelsel sodoende teen die virus kan reageer.
Waar kankers voorkom, moet dit chirurgies verwyder word.
‘n Entstof teen die spesifieke virus(se) wat die vratte veroorsaak, kan deur die plaaslike veearts of deur laboratoriums wat in entstowwe spesialiseer, vervaardig word. Vratte kan met ontsmettingsmiddels skoongemaak word, afgesny word en in ‘n botteltjie versend word na: Design Biologix, WNNR, Pretoria of bel Pieter Smuts by 083 229 9322.
 
Bron:
Coetzer J.A.W., Tustin R.C. 2004. Infectious Diseases of Livestock. Oxford University Press. ISBN 0 19 578202 X
Geskryf deur: dr Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

18 Januarie 2012

Kommentaar

Kommentaar (2) “Vratte (papillomas)

  1. Maryne
    Maryne

    ons het ook vratte op ons beeste opgemerk, party so groot soos 50c stuk, ons het hulle met Jeyes Fluid behandel en na 3 weke was hulle weg en gesond. Selfs die kinders het vratte op hulle knie gehad en ons het dit ook daarmee behandel en dit het ook na 3 weke verdwyn. druk ‘n oorstokkie in die Jeyes Fluid en druk dit dan op die vrat. doen dit vir ongeveer 1x per dag vir ‘n week lank.

  2. Mary Ann
    Mary Ann

    Wat kan ek doen aan vratte op my perd.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X