Vra vir Faffa

Vrae oor Corynebacterium

Vraag

'n Leser vra verskeie vrae oor Corynebacterium

Antwoord

Vraag:
Ek het ‘n paar vrae oor Corynebacterium: Kan skape getoets word vir Corynebacterium? Moet skape, wat uitwendige absesse het, uitgeskot word of kan dit genees word? Hoe versprei Corynebacterium? Kan ‘n lam, wie se ma Corynebacterium absesse het, ook reeds besmet wees met geboorte? – Adri Henning (adri@telkomsa.net)

Antwoord:
Corynebacterium-absesse in skape
Skape kry twee soorte Corynebacterium. Die algemeenste soort is Corynebacterium pseudotuberculosis, wat tevore as Corynebacterium ovis bekend gestaan het. Die ander tipe is Arcanobacterium pyogenes, wat tevore Corynebacterium pyogenes genoem is.

Daar is geen bloedtoets vir die besmettings nie. U kan egter die etter van ‘n paar absesse laat kweek, om die oorsaak te bepaal. Die beskikbare entstowwe is nie gekombineer nie, en kweking is nodig om die regte keuse te maak.

Besmetting versprei deur enige velletsels, soos snywonde tydens skeer, bosluise of skerp rande aan voerbakke. Dit word ook deur hoes en nies oorgedra, as die absesse in die longe voorkom. Die bakterieë kan ook in die vagina voorkom, en dan word die lam tydens geboorte via die naelstring besmet.

Uitwendige absesse kan behandel word, maar daar is min wat vir inwendige absesse help. Die bakterieë veroorsaak ‘n dik kapsel om die abses, en antibiotika kan nie die wand dring nie. Enige dier wat uitwendige absesse het, mag ook inwendige absesse hê.

Die verskillende entstowwe in Suid-Afrika beskikbaar, beskerm teen deur die formasie van nuwe absesse, maar is nie effektief teen absesse wat reeds voorkom nie.

Raadpleeg u veearts, sodat die veearts die voorkoms op u plaas kan ondersoek, en advies oor uitskot of inenting, of ‘n kombinasie van die twee kan gee.

 

  • Geskryf deur: Dr. M.M. Henton, Idexx Golden Vetpath, tel.: 011-8033001/2/3.

    13 April 2007


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X