Vra vir Faffa

Voordele van verkorreling van voer vir skaapvoerkraal

Vraag

Watter voordele sal die rantsoen wat u aanbeveel (100 kg gemaalde lusernhooi (25 mm-sif) + 575 kg gemaalde mielies + 200 kg Voermol SS 200 + 100 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel) inhou in 'n skaapvoerkraal indien dit verkorrel word? Hoe sal die samestelling verskil in meelvorm en korrelvorm? Samestellings van altwee sal waardeer word.

Antwoord

Die voordele van verkorreling is:

·       verbeterde diereprestasie weens hoër inname;
·       bevorder groei en voeromsetting;
·       weens die hitte wat tydens verpilling ontstaan, verminder dit die afbreking van proteïen in die grootpens van die herkouer (het dus ‘n hoër deurvloeiproteïeninhoud) waardeur die aminosuurbeskikbaarheid verhoog en diereprestasie verbeter word;
·       verminder vermorsing;
·       skakel stof uit wat die smaaklikheid verhoog;
·       geen windverlies nie;
·       beter vermenging van grondstowwe;
·       verhoed die uitsak of skeiding van sekere grondstowwe;
·       verhoed die uitsoek van smaakliker grondstowwe;
·       rantsoen is minder lywig;
·       verhoog die inname van veral rantsoene wat ‘n hoë insluiting van lae gehalte ruvoer het;
·       verminder opbergruimte en
·       makliker vervoer en hantering;
 
Die nadeel van verkorreling teenoor gemaalde voer is dat verkorreling die koste van voere verhoog weens die duurder infrastruktuur en arbeidskoste. Afhangend van die spesifieke fasiliteite word die meng- en maalkoste op ± R55 tot R140/ton en dié van verkorreling op
± R150 tot R400/ton geraam.
 
Gebruik die volgende Afrondrantsoen in gemaalde formaat: (100 kg gemaalde lusernhooi (25 mm-sif) + 575 kg gemaalde mielies + 200 kg Voermol SS 200 + 100 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel).
 
Wanneer bogenoemde Afrondrantsoen verkorrel word, moet die volgende resep gebruik word: 125 kg gemaalde lusernhooi (25 mm-sif) + 575 kg gemaalde mielies + 200 kg Voermol SS 200 + 100 kg Voermol Procon). Om verpilling te vergemaklik, moet die Voermol SS 200 vooraf met die mielies gemeng word en gelyktydig gemaal (± 25 mm-sif) word voordat dit met die res van die komponente in die pilmasjien se menger gemeng word om verpil te word.
 
Die lammers moet baie stadig en geleidelik op die Afrondrantsoen (gemaal of verkorrel) aangepas word om laminitis, suurpens (asidose) en moontlike vrektes te voorkom. Die volgende bestuursaspekte moet stiptelik nagekom word:
(1)    voer die lammers die eerste dag slegs 100 g/lam van die Afrondrantsoen;
(2)    verhoog die voedingspeil van die Afrondrantsoen elke dag daarna met 100 g/lam, m.a.w. Dag 2: 200 g/lam; Dag 3: 300 g/lam, ensovoorts totdat ‘n peil (ad lib.) bereik word waar hulle begin om van die voer te los, dit is gewoonlik 4 tot 4.5 % van liggaamsmassa;
(3)    voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte in die oggend en die ander helfte laatnamiddag;
(4)    voer ongemaalde lusernhooi eenkant ad lib. by vir die eerste 14 dae waarna dit gestaak word;
(5)    sorg dat daar voldoende vreetspasie (± 250 tot 300 mm/lam) is sodat al die lammers gelyk kan vreet, m.a.w. moenie selfvoerders gebruik nie, want dan gaan die lammers hulle aanvanklik oorvreet wat tot laminitis, suurpens en vrektes aanleiding kan gee en
(6)    na die aanpassingsperiode (eerste 10 dae) moet die daaglikse hoeveelheid voer verkieslik drie maal (oggend, middag en laatnamiddag) per dag gevoer word.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
8 Mei 2010

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X