Vra vir Faffa

Voedingsprogram van Angora-ooie voor, tydens en na lamtyd

Vraag

Watter voedingsprogram kan ek volg vir Angora-ooie voor, tydens en na lamtyd om te voorkom dat die ooie dooie lammers afgooi en om die lammers se immuniteit te verhoog? Die ooie loop op goeie Bossieveld.

Antwoord

Lamvrektes, aborsies en lae immuniteit is ‘n multifaktoriale probleem en kan slegs opgelos word deur die toepassing van doeltreffende bestuur-, voeding-, seleksie- en telingspraktyke. Enkele van die belangrikste faktore gaan vervolgens bespreek word. Dit is belangrik om daarop te let dat geen inspuiting of medisyne goeie bestuur en voeding kan vervang nie. Die meeste natuurlike veld, ook Bossieveld, is nie voldoende vir laatdragtige en lakterende Angora-ooie nie, weens tekort aan sekere kritiese voedingstowwe. Tekort aan spoorelemente lei tot ‘n hoë voorkoms van aborsie by bokke (Anke et al., 1977) terwyl ‘n tekort aan deurvloeiproteïen ook aanleiding tot aborsies kan gee (Bhattacharyya et al., 1977) en definitief ook tot lamvrektes. Die meeste natuurlike veld waar met Angoras geboer word, kan nie in die deurvloeiproteïen- en energiebenodigdhede van laatdragtige en lakterende ooie voorsien nie (Louw, 1981; Wentzel, 1982). Ooie moet minstens 80 g (1-lingfetusse) tot 140 g/dag (2-lingfetusse) gedurende laatdragtigheid in massa toeneem (NRC, 2007). Oorlewing van pasgebore bokkies neem toe met toename geboortemassa en melkproduksie (Husain et al., 1995). Vir maksimum oorlewing moet geboortemassa meer as 4 kg wees (Snyman, 2009).

 
Vir lammers om voldoende immuniteit op te bou, moet die ooie die regte byvoeding gedurende laatdragtigheid ontvang om uierontwikkeling en gevolglik biesproduksie te maksimeer. Verder moet ‘n korrekte entings- en doseringsprogram vir die laatdragtige ooie gevolg word. Vir die lammers om ‘n hoë immuniteit op te bou, moet hulle eerstens ‘n minimum geboortemassa (3.5 tot 4 kg) hê sodat hulle sterk genoeg is om genoeg biesmelk te kan inneem. Tweedens moet boklammers betyds bies inneem, naamlik binne 6 uur (Goursaud & Nowak, 1999). Hulle moet verkieslik reeds na een uur begin suip om voldoende weerstand teen siektes op te bou. Derdens moet die lammers voldoende bies inneem, dit is ± 10 % van liggaamsmassa binne 12 uur en ± 20 % binne eerste dag na geboorte (Shubber & Doxey, 1979) om ‘n hoë weerstand teen siektes op te bou.
 
Die volgende bestuurs- en voedingspraktyk moet toegepas word:
·       Angora-ooie moet vier tot ses weke voor lam met ‘n multiklostridiale entstof geënt word wat die ooi teen ‘n reeks klostridiumsiektes asook Pasteurella immuniseer.
·       Angora’s se entingsprogram deur die loop van die jaar moet die volgende entings insluit: Ensoötiese aborsie; Slenkdalkoors; Wesselsbron en Bloutong, ensovoorts (bespreek met plaaslike veearts om uit te vind wat die geskikste tyd is om die diere teen hierdie siektes te immuniseer).
·       Die ooie moet vier tot ses weke voor lam met Multimin asook Vitamien A en E gespuit word.
·       Verhongering, verwaarlosing en blootstelling (VVB-kompleks) is dié grootste oorsake van lamvrektes (Haughey, 1991). Geen of verkeerde byvoeding gedurende laatdragtigheid gee aanleiding tot swak uierontwikkeling; lae bies-en melkproduksie; lae geboortemassa en ooie wat lammers weggooi. Aanvulling van hoë vlakke van beide deurvloeiproteïen en energie in laatdragtigheid is ononderhandelbaar. Byvoeding van sjokolademielies is een van die grootste oorsake van probleme by laatdragtige en lakterende Angora-ooie. Die voer van sjokolademielies aan laatdragtige Angora-ooie gee aanleiding tot subkliniese melkkoors; geboorteprobleme; dik & taai bies; lae bies- en melkproduksie; ooie gooi lammers weg; dus hoër lamvrektes en swakker lamgroei. Hierdie probleme kan voorkom word deur die voorsiening van hoë vlakke van deurvloeiproteïen. Deurvloeiproteïen verminder ook die impak wat parasietbesmetting op die produktiwiteit van diere het deurdat dit die immunologiese weerstand van diere veral tydens tye van stres (bv. paring, laatdragtigheid, lam-, en speentyd, ensovoorts) verhoog. Waar voldoende, goeie gehalte groenweiding (enige tipe weiding, ook Bossieveld) beskikbaar is, moet laatdragtige ooie vanaf ses weke voor lam ‘n Maxiwollekmengsel (250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 200 kg gemaalde mielies + 50 kg sout) teen 300 tot 400 g/ooi/dag en na lam teen 400 tot 500 g/ooi/lam gevoer word. Indien onvoldoende weiding of swak gehalte weiding beskikbaar is of waar ooie in lamkampe of lamhokke laat lam word, moet ‘n volledige Lammerooirantsoen (375 kg gemaalde lusern + 350 kg gemaalde mielies + 150 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 50 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel) in plaas van die lek gevoer word. Pas die ooie geleidelik op hierdie rantsoen aan.
·       Vir ‘n hoë speenpersentasie is lamhokke ononderhandelbaar vir ooie wat tweelinge gaan lam en jongooie wat die eerste keer lam.  Die volgende bestuursaspekte moet stiptelik nagekom word wanneer die Lammerooirantsoen gevoer word:
(1)    Wanneer die Lammerooirantsoen gevoer word, moet alle lekbyvoeding gestaak word om te verhoed dat die diere te veel ureum inneem.
(2)    Voer die Lammerooirantsoen daagliks in bakke met voldoende vreetspasie (± 400 – 450 mm per ooi) sodat al die ooie gelyktydig kan vreet.
(3)    Aangesien die Lammerooirantsoen ureum bevat, moet die maksimum inname nie 2.5 kg per ooi per dag oorskry nie, want anders kan die diere van ureumvergiftiging vrek. Indien die ooie meer as 2.5 kg/dag gevoer moet word, moet asseblief met my in verbinding getree word sodat ek dit kan herformuleer.
(4)    Die ooie moet stadig en geleidelik op die Lammerooirantsoen aangepas word om laminitis, suurpens (asidose) en moontlike vrektes te voorkom. Indien ooie in lamhokke laat lam word, moet die ooie vanaf ses weke voor lam geleidelik op die Lammerooirantsoen aangepas word. Begin ses weke voor lam met 500 g Lammerooirantsoen/ooi/dag en verhoog dit weekliks met 250 g/ooi/dag sodat hulle een week voor lam op minstens 1 500 g/ooi/dag is. Hulle kan dan een week voor lam na die lamhokke of lamkampe geskuif word waar hulle ad lib. gevoer word. Dit is baie belangrik dat daar altyd voldoende vreetspasie is sodat al die ooie gelyktydig kan vreet.
(5)    Voer ooie met 1-lingfetusse na aanpassing ± 2.5 % en dié met 2-lingfetusse ± 3 % van liggaamsmassa en dié met 1-linglammers ± 3 % en dié met 2-linglammers ± 4 % (soms tot 5 %) van liggaamsmassa.  Voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte van die voer in die oggend en die ander helfte laatnamiddag.
 
·       Weens die relatief lae melkproduksie en die kort laktasieperiode van Angora-ooie (Shelton, 1981), benodig Angoralammers kruipvoeding om hulle teikengroei op die veld te handhaaf. Lae voorspeense groei verhoog lamvrektes (Snyman, 2007). Die drastiese val in melkproduksie na ses weke by Angora-ooie (Hoon, 2008) noodsaak die voorsiening van kruipvoeding vanaf 10 dae ouderdom tot te minste speenouderdom. Die volgende kruipvoeding moet ad lib. aan sogende lammers in kruiphokke voorsien word: 75 kg fyngemaalde lusern (10 mm) + 150 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel + 550 kg fyngemaalde mielies.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
26 Februarie 2011
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X