Vra vir Faffa

Vleisvlieë in huis

Vraag

Ek het nou al by verskeie kere ‘n brommer doodgemaak. Wat my telkens opgeval het, is dat voordat die brommer doodgaan word ‘n magdom lewende larwes gelê. Die brommer is grys van kleur op die rug met swart strepe van agter na voor oor die rug, met twee rooi ogies. Die brommer is in al die gevalle binnenshuis betrap. Sal graag wil hoor wat se brommer dit is.

Antwoord

Die wetenskaplike naam van die brommer is Sarcophaga haemorrhoidalis en sy algemene naam is die rooistert vleisvlieg.

https://www.google.co.za/search?q=Sarcophaga+haemorrhoidalis&rlz=1C1SQJL_enZA786ZA786&tbm=isch&tbo=u&source=univ&sa=X&ved=0ahUKEwi44d-GqZTaAhUTesAKHR68Bj8QsAQIOQ&biw=1366&bih=662

Die vlieg se gashere is diere en soms mense.

Die wyfies bring 30 tot 40 baie beweeglike larwes voort wat op mis, ontbindende karkasse, wonde of selfs vleis geplaas mag word. Die wyfies kan die larwes op vleis laat val terwyl hulle daaroor vlieg.

Die larwes het stekels wat in bande om al die liggaamsegmente gerangskik is. Al 3 die larfstadia kan binne 4 dae voltooi word waarna papies in die grond gevorm word. Die volwasse vlieë mag na 4 dae ontpop, dus kan die lewensiklus onder gunstige toestande binne ongeveer 8 dae voltooi word.

Hierdie vlieg is nou met die mens geassosieer en kom wydverspreid voor. Dit word baie algemeen in Afrika suid van die Sahara, dikwels om menslike woonplekke aangetref.

Siektes veroorsaak: Die vleisvlieg veroorsaak soms miase by diere en mense (larwes dring die vel binne deur wonde), maar doen dit blykbaar nie so dikwels soos sommige ander Calliphoridae vlieë nie.

Beheer: Hierdie vlieg kan deur goeie higiëne, veral die behoorlike verwydering van mis beheer word. Besmette wonde moet toepaslike behandeling ontvang.

Bronne:

Google foto soos op 30 Maart 2018

Howell, C.J., Walker, Jane B. en Nevill, E.M. Bosluise, myte en insekte van huisdier in Suid-Afrika. 1983. Wetenskaplike Pamflet No. 393 uitgegee deur die Afdeling Entomologie, Navorsingsinstituut vir Veeartsenykunde, Onderstepoort 0110.

Saamgestel deur: Dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

30 Maart 2018


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X