Vra vir Faffa

Visvrektes

Vraag

Ons boer tussen Nelspruit en Kaapmuiden.Ek het n vraag oor ‘n situasie wat ek Sondag middag waargeneem het op die plaas. Ek het ‘n draai gaan ry op die plaas soos ek maar gewoonlik doen oor naweke om seker te maak daar is nie ongewenste aktiwiteite wat plaasvind nie. Toe ek egter by die dam kom was daar ‘n baie onaangename reuk en daar is baie kurpers en baars wat uitgespoel lê op die wal. Ek het verder stroomop gery om te kyk na die ander damme en daar was ook insidente van visse wat uitgespoel lê alhoewel die reuk nie oral teenwoordig was nie. Daar is geen eksterne faktore wat water in die dam laat inspoel nie. Kan dit wees dat die plantmateriaal wat ingespoel het met al die reën nou besig is om te vrot en dit ontneem suurstof uit die water wat die sterftes onder die visse veroorsaak of sal ek die water deur ‘n spesialis moet laat toets om die oorsaak te vind?

Antwoord

Ek deel graag ‘n paar gedagtes.

My eerste gedagte was dalk afloop van water (“run-off”) na goeie reën. Visse is byvoorbeeld baie sensitief vir  piretroïedes – is daar dalk boorde/lande wat onlangs behandel is waarvan water dalk kon inspoel met reën? Of wat dalk onlangs bemesting ontvang het en water met hoë organiese inhoud dalk in die damme kon inspoel? Selfde met rou riool of so iets van informele nedersettings. Beide punte sluit aan by suurstof soos jy ook genoem het. Jy noem egter ook spesifiek dat daar geen faktore/bronne van besoedeling in die area is nie.

Soos jy noem kan afbreek van organiese materiaal wel lei tot ‘n suurstofgebrek. Jou spekulasie oor die plantegroei wat nou begin vrot is dus ‘n moontlikheid. Was daar vloede wat moontlik ook sediment versteur het? Dit kan wees dat daar klomp organiese materiaal in die bodem sediment van die damme was, wat skielik weer blootstelling gekry het aan suurtsof, weer begin vrot het en dalk ook die reuk kon veroorsaak. Ek besef dit is alles spekulasie, maar my voorstel sou wees om dalk maar die situasie dop te hou. Sou die vrektes voortduur en geharde vis soos babers begin vrek, sou ek verseker dalk maar tog die water chemies laat analiseer.

Regtig jammer ek kan nie vir jou meer spesifieke antwoorde gee nie!

Geskryf deur dr. Dionne Crafford (Dionne.Crafford@clinvet.com)

29 Maart 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X