Vra vir Faffa

Vestiging van bloubuffel- en borseltjiegras

Vraag

Wat is die beste planter/vestigingsmetode vir bloubuffel- en borseltjiegras?

Antwoord

Beide gewasse moet in ‘n ferm goed voorbereide saadbed geplant word. Ploeg die grond 200 tot 300 mm diep in die herfs van die voorafgaande jaar of so vroeg moontlik in die seisoen waarin daar geplant moet word. Kalk (indien nodig) kan dan toegedien en ingeploeg word. Ligte diswerk moet voortgesit word om vog te bewaar, onkruid te bestry en ‘n bevredigende saadbed voor te berei. Die saadbed moet egter teen planttyd fyn, kompak en sonder onkruid wees. Superfosfaat kan voor die laaste bewerking gestrooi en in die grond ingedis word om die P-inhoud van die grond tot ongeveer 15 tot 20 mg/kg te lig.

 

Ryplanting word sterk aanbeveel en saad moet goed vasgetrap word.

Die volgende metodes word aanbeveel:

Ryplanting: Ryplanting is raadsaam in gebiede met ‘n laer reënval of produksiepotensiaal. Die afstand tussen die rye kan wissel volgens omgewingstoestande. In ‘n gebied met ‘n reënval van 400 tot 450 mm kan die spasiëring byvoorbeeld tot 2000 mm wees, terwyl dit by 600 mm reënval of hoër gaandeweg kan vernou na 600 mm

 

Vir ryplanting kan ‘n mielieplanter, die trekkerwiel-metode of die spesiaal ontwerpte bloubuffelplanter ge­bruik word. Moenie die saad dieper as 5 mm bedek nie, dit sal kieming vertraag en vestiging nadelig beïnvloed.

 

Die trekkerwielmetode word gedoen deur afleipype (plastiese rioolpyp of geut-afleipype) vertikaal voor die agterwiele van ‘n trekker (reg in die voorwielspoor) te monteer. ‘n Persoon op elke modderskerm strooi die saad deur die pyp, in die voorwielspoor. Die agterwiel trap die saad dan stewig vas. Die afstand tussen die trekker se twee wiele is mormaalweg 1.2m. Nouer rye kan bewerkstellig word deur wydsbeen oor die oorspronklike twee rye te beweeg.

 

Daar is ook al heelwat verbeterings op die trekkerwielmetode, byvoorbeeld die aanbring van planterbakkies op die trekker wat deur ‘n klein motortjie aangedryf word, om die saad egalig in die spoor te strooi. In baie gevalle word die trekker gebruik om eers ‘n spoor te trap en dan die saad met die hand daarin te strooi en dan weer die saad met die trekker vas te trap.

 

Geskryf deur: prof. Chris Dannhauser, Weidingskundige (chriswei@vodamail.co.za)

25 Februarie 2013


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X