Vra vir Faffa

Verwarring oor visvolksname

Vraag

Sommige mense praat van “karpe”, ander van “karpers”. Dan het ek ook al gehoor van “graskarp” en “silwerkarp” Is dit alles dieselfde ding?

Antwoord

Ek gaan die navraag in twee afdelings hanteer.

In die eerste geval is “karp” die korrekte volksnaam al praat sommige mense van ‘n “karper” (wat basies ‘n kombinasie is van “karp” en “kurper” wat twee heeltemal verskillende visspesies is). Net so praat baie mense van ‘n “barber” terwyl die korrekte volksnaam “baber” is.
Karpe (Cyprinus carpio) is al in verskeie wêrelddele gevestig. Die natuurlike verspreiding strek in Midde-Asië van die Swart See tot Donou in Europa. Dit is bes moontlik ook die eerste visspesie waarvan die verspreiding direk gekoppel is aan die verspreiding van mense, aangesien die Romeine die vis uit die Danuberivier dwarsdeur hulle ryk in Europa versprei het. Hulle was dan ook die eerste mense wat karpe in Europa geteel het. Die visspesie het ‘n lang geskiedenis wat akwakultuur betref en word volgens oorlewering al sedert 2400 jaar gelede deur die Chinese geteel. In Japan is die Nishikigoi ornamentele karpe (algemeen bekend as “koi”) oor die laaste twee eeue ontwikkel / geteel. Volgens vroeë geskrifte is karpe vir die eerste keer in die 18de eeu in Suid-Afrika ingevoer en daarna verskeie kere in die 19de eeu. Karpe het gewoonlik ‘n brons tot gelerige kleur met die bors-, anale- en stertvinne dikwels geel-oranje. Die koivorms het uiteraard ‘n baie groter verskeidenheid kleure.
Wat karpe aanbetref, kan drie vorme algemeen onderskei word.
Ek vermoed meeste hengelaars het minstens al met twee kennis gemaak.
·         Die eerste is die “gewone” of “volskubkarp” – die visse het skubbe regoor die liggaam.
·         Die tweede is die sogenaamde “spieëlkarp” wat gedeeltelik kaal is met ‘n paar groot, verspreide skubbe.
·         Die derde vorm is die “leerkarp” wat geen (of baie min) skubbe het nie.
·         ‘n Vierde vorm word soms onderskei, die “line carp” in Engels, wat ‘n enkele ry skubbe aan die kante van die lyf het, maar geen skubbe elders op die lyf nie.  
Wat die tweede gedeelte van die navraag, betref is karpe (Cyprinus carpio), graskarpe(Ctenopharyngodon idella) en silwerkarpe (Hypophthalmichthys molitrix) beslis drie verskillende spesies.
Karpe se geskiedenis is reeds bo bespreek. Hulle is allesvretend en ‘n wye reeks plant- en dierevoedsel word bekom deur in afsaksels op veral ‘n modderbodem rond te snuffel. 
Graskarpe kom natuurlik in mere in China voor en kan glo tot 50 jaar oud word daar. Die vis is in 1967 vir die eerste keer uit Maleisië na Suid-Afrika ingevoer. In 1975 is dit weer uit Duitsland ingevoer. Die vis vreet hoofsaaklik waterplante, maar sal ook insekte en ander ongewerweldes eet. In Suid-Afrika is dit geteel en bemark om ongewenste plante in plaasdamme te beheer. Die vis was beperk tot plaasdamme in Kwazulu-Natal en die ou Transvaal, maar het intussen weier versprei en kom algemeen in rivierstelsels soos die Vaalrivier voor.
Die silwerkarp se natuurlike verspreidingsgebied sluit die Amoer- en Jangtseriviere in China en Midde-Asië in. Die vis is in 1975 vir die eerste keer uit Israel ingevoer en veral Arabiedam is baie bekend vir groot getalle van die visse. Hulle vreet fitoplankton, maar is baie bekend daarvoor dat hulle uit die water spring wanneer hulle byvoorbeeld deur ‘n boot versteur word. In Amerika het dit tot die ontwikkeling van ‘n “sport” gelei waar mense in bote rondjaag en dan die visse wat spring met ‘n boog skiet, in handnette vang of selfs met ‘n bofbalkolf (“baseball bat”) bykom. Gaan loer gerus by http://www.youtube.com/watch?v=5GTRtRyx6I4&feature=related.
Geskryf deur: Dionne Crafford (crafford2@telkomsa.net)
1 April 2012

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X