Vra vir Faffa

Vervanging van hawerhooi en garspitte in rantsoene

Vraag

Waarmee kan ek die hawerhooi en garspitte in 'n Lammerooi-; Kruipvoer- en Afrondingsrantsoen vervang?

Antwoord

Om winsgewende en doeltreffende skaapproduksie te verseker, moet die rantsoene vir ooie en lammers behoorlik gebalanseer wees. Die volgende volledige drie rantsoene kan gebruik word waar hawerhooi en garspitte deur onderskeidelik lusernhooi en mielies vervang is. 

Gebruik die volgende Lammerooirantsoen vir laatdragtige en lakterende ooie:
            350 kg gemaalde lusernhooi (25 mm)
            325 kg gemaalde mielies
             50 kg soet lupiene
            100 kg Voermol Maxiwolkonsentraat
            100 kg Voermol Procon
             80 kg Voermol Melassemeel
         1 005 kg TOTAAL
 
Die Lammerooirantsoen vir laatdragtige ooie word vanaf ongeveer ses weke voor lam tot met speen van die lammers gevoer. Wanneer die Lammerooirantsoen gevoer word, moet die volgende bestuursaspekte stiptelik nagekom word:
(1)    Wanneer die Lammerooirantsoen gevoer word, moet alle lekbyvoeding gestaak word om te verhoed dat die diere te veel ureum inneem.
(2)    Wanneer die Lammerooirantsoen gevoer word, moet daar altyd voldoende vreetspasie (langwol ooie: ± 450 – 500 mm/ooi; kortwol ooie: ± 400 – 450 mm) wees sodat al die ooie gelyktydig kan vreet.
(3)    Aangesien die Lammerooirantsoen ureum bevat, moet die maksimum inname nie 3.5 kg per ooi per dag oorskry nie, want anders kan die diere van ureumvergiftiging vrek. Indien die ooie meer as 3.5 kg/dag gevoer moet word, moet met my in verbinding getree word sodat ek dit kan herformuleer.
(4)    Die ooie moet stadig en geleidelik op die Lammerooirantsoen aangepas word om laminitis, suurpens (asidose) en moontlike vrektes te voorkom. Indien ooie in lamkampe of -hokke laat lam word, moet die ooie vanaf ses weke voor lam geleidelik op die Lammerooirantsoen aangepas word. Begin ses weke voor lam met 500 g Lammerooirantsoen/ooi/dag en verhoog dit weekliks met 250 g/ooi/dag sodat hulle een week voor lam op minstens 1 500 g/ooi/dag is. Hulle kan dan een week voor lam na die lamhokke of lamkampe geskuif word waar hulle ad lib. gevoer word. Dit is baie belangrik dat daar altyd voldoende vreetspasie is sodat al die ooie gelyktydig kan vreet.
(5)    Voer ooie met 1-lingfetusse na aanpassing ± 2.5 % en dié met 2-lingfetusse ± 3 % van liggaamsmassa en dié met 1-linglammers ± 3 % en dié met 2-linglammers ± 4 % van liggaamsmassa.  Voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte van die voer in die oggend en die ander helfte laatnamiddag.
 
Om op die voerkoste van die ooie te bespaar, moet die lammers kruipvoeding ontvang sodat hulle so vroeg moontlik gespeen kan word en die ooie dan of na ‘n goedkoper rantsoen oorgeskakel word of terug gaan weiding toe. Lammers kan enige tyd tussen 60 en 84 dae ouderdom gespeen word, mits hulle ten minste 25 kg weeg. Voer die volgende kruipvoerrantsoen ad lib. vanaf 10 dae ouderdom tot speen:
             75 kg gemaalde lusern (10 mm)
            550 kg fyngemaalde mielies
            150 kg Voermol SS 200
            150 kg Voermol Procon
             40 kg Voermol Melassemeel
            965 kg TOTAAL
 
Vanaf speen kan die lammers oorgeskakel word na die volgende Afrondingsrantsoen:
            125 kg gemaalde lusern (25 mm)
            525 kg fyngemaalde mielies
            200 kg Voermol SS 200
            100 kg Voermol Procon
             40 kg Voermol Melassemeel
990 kg TOTAAL
 
Aangesien die lammers kruipvoer ontvang het, kan hulle baie vinniger as normaalweg op die Afrondingsrantsoen aangepas word. Die volgende riglyne moet gevolg word:
(1)    voer die lammers die eerste dag in die voerkraal 500 g/lam van die Afrondingsrantsoen;
(2)    verhoog die voedingspeil van die Afrondingsrantsoen elke dag daarna met 100 g/lam, totdat ‘n peil (ad lib.) bereik word waar hulle begin om van die voer te los;
(3)    voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte in die oggend en die ander helfte laatnamiddag;
(4)    voer ongemaalde lusernhooi eenkant ad lib. by vir die eerste 10 dae waarna dit gestaak word;
(5)    sorg dat daar voldoende vreetspasie (± 250 tot 300 mm/lam) is sodat al die lammers gelyk kan vreet, m.a.w. moenie selfvoerders gebruik nie, want dan gaan die lammers hulle aanvanklik oorvreet wat tot laminitis, suurpens en vrektes aanleiding kan gee en
(6)    na die aanpassingsperiode (eerste 10 dae) moet die daaglikse hoeveelheid voer verkieslik drie maal (oggend, middag en laatnamiddag) per dag gevoer word.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
1 Februarie 2011
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X