Vra vir Faffa

Verskuiwing van beeste na ‘n hartwatergebied

Vraag

Ek wil Bonsmarabeeste vanaf Coligny (NW) na Boons (NW) verskuif. Boons is 'n hartwater gebied. Watter prosedures moet ek volg? Is 'n bloedoortapping noodsaaklik of kan ek die beeste op kraal laat staan en net inent? Jou hulp en raad sal hoog op prys gestel word. Groete Pieter Van Schalkwyk.

Antwoord

Die antwoord op jou vraag het alreeds op Vra-vir-Faffa verskyn. Ek beveel aan dat jy die verskillende opsies met jou plaaslike veearts bespreek. As die prosedures nie korrek uitgevoer word nie, kan daar veeverliese voorkom.

Hier volg die vraag wat reeds beantwoord is:
Vraag: Ek boer in ‘n hartwater-gebied. Van my diere kry elke jaar hartwater, maar ons red omtrent almal. Ek wil nou ander beeste koop. Help asb.
 
Antwoord:
Deur: Dr. FRANCOIS DE VILLIERS
Vraag:
Ek boer in die Noordweste – naby Zeerust – in ‘n hartwater-gebied. Van my diere kry elke jaar hartwater, maar ons red omtrent almal deur dit vroeg op te spoor en Terramycin te spuit. Daar is nou beeste – meestal bulle – beskikbaar in die Sannieshof-area wat ek graag wil bekom. Volgens die eienaar het hulle ook maar baie bosluise, maar dit lyk my nie na hartwater nie. Ek is maar ‘n leek op die gebied – my vraag is wat kan ek doen om nie moeilikheid op te tel met hierdie "nie hartwater bestande" diere? Of is die beste maar om dit nie te koop nie? Iemand het vir my iets probeer verduidelik dat jy die diere kan blok (of so iets) – hy’t dit baie maklik laat klink. Iemand anders het weer vir my gesê dis ‘n redelike proses en jy moet hartwater bloed hê waarmee jy "ent", ens. Hy’t dit weer baie moeilik en nie die moeite werd nie, laat klink. Ek hoop julle kan ‘n leek help. – Louise (11mm@webmail.co.za)
Antwoord:
Hartwater is ‘n siekte wat deur die bontbosluis (Amblyomma hebraeum) oorgedra word. Die bosluis kom slegs in areas voor waar daar nie strawwe winters voorkom nie en in beboste gebiede, veral in klowe by berge. Met ander woorde in ons tipiese bosveld. Die bontbosluis is verder ‘n driegasheer bosluis, waar die larwes en nimfe op ‘n verskeidenheid van groot en klein soogdiere, voëls en skilpaaie voorkom. Daar is dus altyd ‘n groot bevolking bosluise wat wag om op beeste te klim, ongeag die dipprogram wat gevolg word.
Jong kalwers het ‘n natuurlike weerstand teen hartwater vir die eerste 4 weke van hulle lewe en dit mag selfs so lank as 8 maande wees. Daar is wel uitsonderings waar kalwers wel siek mag word en selfs vrek. Die verloop van die siekte in beeste is as volg: Die tydperk vandat die dier deur ‘n besmette bosluis gebyt word totdat die dier ‘n koors van 40 °C of hoër ontwikkel, is 9 tot 29 dae met ‘n gemiddelde tydperk van 18 dae.
Dragtige koeie van Bos taurus is baie vatbaar asook jong beeste van alle rasse tussen die ouderdom van 6 tot 18 maande. Diere vrek skielik sonder enige tekens of met stuiptrekkings en moeilike asemhaling.
Akute hartwater tas veral diere tussen 3 en 18 maande aan. Diere se koors is 40 °C of hoër en dit duur gewoonlik 3-6 dae. Net voordat die dier vrek, val die koors. ‘n Slymerige diarree kan voorkom wat selfs bloederig mag wees. ‘n Klein bietjie spoeg verskyn by die bek. Na ‘n paar dae kan diere senuweesimptome ontwikkel, oë knip, die loopgang is tipies met pote wat opgetel word, koubewegings word uitgevoer en diere kan teen voorwerpe stoot. Diere kan plat op die sy gaan lê en met die pote trapbewegings uitvoer met die oë wyd oopgesper. Diere vrek gewoonlik.
‘n Subakute vorm kan ook voorkom. Dier diere het ‘n hoë koors vir tot 10 dae en soortgelyke tekens soos hierbo beskryf , kan voorkom maar net nie so uitgesproke nie. Diere kan skielik vrek of selfs na ‘n ruk geleidelik herstel.
Die beste ouderdom om beeste in te ent, is op die ouderdom van 1 maand, want dan toon diere feitlik geen kliniese tekens nie, maar ontwikkel wel ‘n immuniteit.
Die beeste verloor hulle weerstand teen die siekte as hulle vir lang periodes soos ‘n jaar nie herbesmet word nie, en daarom kan van die beeste elke jaar weer siek word. Die hartwater bloed of entstof waarvan ons praat, is nie ‘n werklike entstof soos ons onder ‘n entstof verstaan nie, maar vars beesbloed wat by ‘n siek bees getrek is wat besmet is met die siekte. As ons dus die bees inent deur die bloed binneaars in te spuit, maak ons die bees siek op ‘n bekende dag en datum sodat ons kan weet wanneer hy siek gaan word en ons hom dan betyds kan behandel sonder dat hy vrek. Die siekte verloop soos volg: Die organismes vermenigvuldig elke 4 dae. Die eerste keer op dag 4 is hulle te min om die bees siek te maak en ook so ook nog op dag 8. Op dag 12 word die bees dan siek, ontwikkel ‘n baie hoë koors vir twee dae waarna die bees se temperatuur onder normaal daal en dan vrek die dier. Dit is dus baie belangrik om die bees te behandel op die eerste dag waarop hy koors het, anders loop ‘n mens ‘n baie hoë risiko dat die bees kan vrek.
Wanneer beeste na ‘n hartwater-area geskuif word, is dit raadsaam om hulle eers in te ent voordat hulle geskuif word. Dit is ook veiliger om hulle eers ná 24 dae van inenting te skuif. As hulle op die nuwe plaas kom, is dit ook nog moontlik dat hulle kan siek word ongeag hulle inenting, want daar kan ‘n hartwater-stam op die plaas voorkom wat nie deur die entstof gedek word nie.
In die praktyk het ons drie keuses:

1. Ent die bees in met die bloed, neem sy koors elke dag en wanneer die koors begin styg, spuit hom met genoegsame tetrasiklien (bv. Reverin 100 (Reg. No. G2871) of Reverin LA (Reg. No. G3442), Intervet). Lees die gebruiksaanwysings sorgvuldig deur om die regte dosis toe te dien. Die voordeel van hierdie metode is dat aangesien die dier ‘n koors ontwikkel het, hetsy op dag 12, 16, of 20 dan weet ‘n mens verseker die bees is nou gesout.

2. Ent die bees en spuit hom op dag 14 vir Bos taurus-beeste en hulle kruise en op dag 16 vir Bos indicus-rasse en hulle kruise met ‘n tetrasiklien. Die voordeel van die tegniek is dat dit baie minder werk is en meer prakties uitvoerbaar is, veral as daar met groot groepe diere gewerk word. Maar die nadeel is dat ‘n mens nie 100 % seker kan wees dat al die diere wel ‘n koors ontwikkel het en gesout is nie en daar kan later van hulle wel siek word. Kyk wel goed of daar nie diere is wat reageer en wel kliniese tekens wys nie.

3. As dit onprakties is om die diere binneaars bloed te gee, is daar ‘n alternatiewe metode. (R.E. Purnell het in 1987 ‘n artikel in die Onderstepoort Joernaal vir Veeartsenynavorsing gepubliseer ( Vol 54(3):509-512) oor hoe om beeste voorkomend teen hartwater te behandel.): Spuit beeste in met ‘n langwerkende tetrasiklien (bv. Reverin LA Reg. No. G34, Intervet) teen ‘n dosis van 10-20 mg/kg liggaamsgewig op dag 7 en 14 en 21, of slegs op dag 7 en 14. Die sukses van hierdie prosedure hang daarvan af of diere gedurende hierdie tydperk op natuurlike wyse met die hartwaterparasiet in aanraking gaan kom. Dit beteken dat beeste gedurende hierdie tyd van tetrasiklienbeskerming deur hartwaterbesmette bontbosluise gebyt moet word. As daar nie genoeg van hierdie bosluise teenwoordig is nie, sal hierdie metode nie die gewenste uitwerking hê nie. Die voordeel van hierdie tegniek, is dat dit deur ongeskoolde arbeid gedoen kan word en as die beeste in ‘n vreemde gebied loop, bv. Mosambiek, waar daar hartwaterstamme voorkom wat nie deur die entstof gedek word nie, verloor ‘n mens nie diere nie. Die nadeel is dat dit heelwat duurder uitwerk as enige van die ander tegnieke.
 
7 Maart 2010
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X