Vra vir Faffa

Verse is glo vatbaar vir TB, maar het dit nie

Vraag

Ek kan geregistreerde Jersey-verse teen 'n baie billike prys bekom. Die verkoper sê dat die verse getoets is as "vatbaar vir TB", maar dat hulle nie TB het nie.

Antwoord

Vraag:
Ek kan geregistreerde Jersey-verse, wat bestem was om uitgevoer te word, teen ‘n baie billike prys bekom. Die verse is vir ‘n lang reeks van siektes getoets, maar het een van die toetse gedop en kon dus nie uitgevoer word nie. Die uitvoerder sê dat die verse getoets is as "vatbaar vir TB", maar dat hulle nie TB het nie. Kan ek die verse koop of moet ek eerder verbyhou? Ek beplan nie om die melk vir menslike gebruik aan te wend nie, maar om die koeie te voer met afval-lusern waarvan ek hope het, en kalwers met die melk groot te maak? – André Geldenhuys (rugbreek@gmail.com)

Antwoord:
In vorige gesprekke op LBW se gespreksforum is gepraat van boereverneukers en hierdie is een. "Die uitvoerder sê dat die verse getoets is as ‘vatbaar vir TB’, maar dat hulle nie TB het nie."

Dit is baie belangrik dat boere besef dat daar min mense is wat jy op hulle woord kan neem.

Daar is net één bewys wat die dier se siektestatus kan bevestig en dit is ‘n veterinêre sertifikaat wat bewys dat die dier teen TB getoets en negatief is.

Maar dit ( ‘n enkel dier wat negatief toets) op sy eie is nog steeds nie betekenisvol genoeg nie – die dier moet ook afkomstig wees vanuit ‘n kudde wat negatief getoets is en verkieslik negatief is vir die laaste drie jaar. So ‘n negatiewe status is betekenisvol.

Laat my net toe om die volgende feite reg te stel waaroor daar verwarring is, ook in die terugvoer vanaf ander boere:
1. Alle beeste (ras, ouderdom en geslag) is vatbaar vir Bees Tuberkulose (TB) en kan nooit weerstand teen die siekte opbou nie, want daar is nie ‘n entstof teen die siekte nie.
2. Diere kan ook nie natuurlike weerstand opbou nie (immuniteit) as gevolg van die manier waarop die bakterium die dier infekteer en die dier se immuunstelsel omseil.
3. Die standaard toets wat uitgevoer word, is ‘n veltoets – die reaksie wat verkry word indien die dier positief is (TB onderlede het), is ‘n verdikking van die vel in die area waar die toetsmiddel ingespuit is. Daar word wel in sekere gevalle van ‘n bloedtoets gebruik gemaak soos by uitvoerdiere of bv buffels wat skoon getoets moet word. Die toets is duur en word nie in die algemeen gebruik nie.
4. Diere wat besmet is, word nie behandel nie en moet onder toesig geslag of vernietig word.

Die belangrikste van alles is dat TB weer besig is om toe te neem in Suid-Afrika. Daar word nou weer nuwe besmette kuddes op ‘n maandelikse basis opgespoor veral melkuddes.

‘n Draerdier wat in die kudde ingebring word en stilweg die ander diere besmet (lank voor jy die siekte ontdek) beteken gewoonlik die einde van daardie kudde.

Om ‘n positiewe kudde skoon te maak, is ‘n nimmer eindigende proses en die hele kudde word gewoonlik uitgeslag.

Dus moet die boer geen kanse met TB vat nie.

Ek hoop nie bostaande kom té kras oor nie, maar as ek nog groter klem daarop kon plaas, sou ek.

Moet niemand se woord vertrou nie – dring aan op ‘n sertifikaat wat sertifiseer dat die dier wat aangekoop word, negatief is en dat dit vanuit ‘n negatiewe kudde kom.

Moet geensins ‘n dier aankoop wat negatief toets, maar uit ‘n positiewe kudde kom nie. Sulke diere kan in die vroeë fase van besmetting wees (positiewe kudde) voordat hulle deur die toets opgetel word.

 

  • Dr. Danie Odendaal is ‘n lid van die Veearts-netwerk (vnet@absamail.co.za)

    21 November 2005


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X