Vra vir Faffa

Vers sien swak

Vraag

Ek het onlangs 'n jong vers (20 maande) by 'n vendusie gekoop. By die aflaai op die plaas het ek agtergekom dat sy baie swak sig het. Sy loop in lyndrade, takke en bosse vas. Ek het gehoor dat mastitissalf (inspuitbaar) kan help. Is die simptome oordraagbaar na haar kalf aangesien sy reeds by die bul was? - Gerrie Haywood (Haywood1@telkomsa.net)

Antwoord

Vraag:
Ek het onlangs ‘n jong vers (20 maande) by ‘n vendusie gekoop. By die aflaai op die plaas het ek agtergekom dat sy baie swak sig het. Sy loop in lyndrade, takke en bosse vas. Ek het gehoor dat mastitissalf (inspuitbaar) kan help. Is die simptome oordraagbaar na haar kalf aangesien sy reeds by die bul was? – Gerrie Haywood (Haywood1@telkomsa.net)

Antwoord:
Dit is baie moeilik om vas te stel wat die oorsaak van blindheid in verse kan wees, want die oë moet deeglik met ‘n oftalmoskoop ondersoek word. Indien die vers met dié kondisie gebore word (aangebore siekte), kan daar ‘n moontlikheid wees dat dit ‘n genetiese afwyking is.

‘n Kondisie waar diere hulle gesig verloor as gevolg van siekte van die gesigsenuwee, brein of rugmurg, noem ons amourose. Die oog self toon geen kliniese tekens nie. Dit is waarskynlik die toestand wat hier ter sprake is.

Oorsake mag die volgende wees:

  • Die koei mag tydens dragtigheid met die bloutongvirus besmet geraak het en die gevolg is dat die kalf blind gebore word.
  • ‘n Oordosis van ‘n wurmmiddel wat in die salisielaniliedegroep val, bv. klosantel, nitroksiniel, rafoksanied en niklosamied.
  • Tjienkerientjee of viooltjievergiftiging.
  • Sewejaartjievergiftiging.
  • Loodvergiftiging.
  • Infeksie met die protosoa, Theileria taurotragi.
  • Infeksie met die kiem Haemophilus somnus wat klein bloedinkies op die retina veroorsaak.
  • ‘n Vitamien B1-tekort kan ontstaan indien daar ‘n laegraadse suurpens ontstaan waar te veel mielies gevoer word, wat aanleiding daartoe gee dat organismes in die grootpens vermeerder, wat B1 afbreek.
  • ‘n Vitamien A-tekort.

    Die toestande wat deur vlieë veroorsaak word, is reeds bespreek onder oogsiektes (Lees artikel nommer 1651509 op 24/01/2005, op Vra vir Faffa).

    Die oogwurm (Thelazia rhodesii) kan ook onder die ooglede wegkruip of selfs op die oogbal gesien word. Die wurms is 12 tot 25 mm lank. Die wurms self veroorsaak nie skade nie maar kan ‘n bydrae lewer dat kieme ontsteking kan veroorsaak. ‘n Ivermektien bevattende middel soos Ivotan (Reg. No. G2858, Wet 36/1947) sal hulle beheer.

    Mastitissalf mag van hulp wees vir aansteeklike oogsiektes (besmetlike keratokonjunktivitis). Hierdie siekte kom gewoonlik in die warm somermaande voor. Die oog het ‘n waterige uitloopsel en die oog word toegeknyp om dié te beskerm teen skerp sonlig. Daarna word die oog vaal en kan die dier nie goed sien nie. Baie keer vorm die oog ‘n rooi punt en die are loop duidelik van die wit oogvlies na die rooi punt. Die oog mag selfs bars en permanente blindheid mag die uiteinde wees.

    Hierdie toestand word gewoonlik deur ‘n kiem, Moraxella bovis veroorsaak, wat deur vlieë van een dier na ‘n ander oorgedra kan word.

    Vitamien A onderhou epiteel en kan dus toegedien word waar oogprobleme voorkom.

    10 Mei 2005


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X