Vra vir Faffa

Verplaasde abomasum en die gebruik van steekpille

Vraag

Wat is 'n "displaced abomasum" (DA) en waarvoor word steekpille gebruik?

Antwoord

Vraag:
Gustav Pruis vanaf Georgia in Amerika wil weet wat is ‘n "displaced abomasum" (DA) en verlang inligting oor die gebruik van steekpille.

Antwoord:
DA staan vir "displaced abomasums" of ‘n verplaasde abomasum (melkpens) in Afrikaans. Die abomasum kan na links of na regs verplaas word. ‘n Linker-verplasing beteken dat die abomasum onder die grootpens deurglip na links tussen die grootpens en buikwand. Dit veroorsaak ‘n onvolledige obstruksie sonder enige noemenswaardige afsluiting van bloedvloei. Dit gee aanleiding tot chroniese spysverteringsprobleme wat die tipiese kliniese tekens verklaar (onderdrukte eetlus, verminderde melkproduksie, vinnige gewigsverlies). Metaboliese steurnisse soos sekondêre ketose (energie tekort met oormatige afbreek van vetreserwes) tree dikwels in as verdere komplikasie. Met ‘n regter-verplasing swaai die abomasum om sy langas regsom wat akuut en dodelik is omrede die bloedvloei afgesny word. Gelukkig is die meeste gevalle ‘n links-verplasing.

Verplaasde abomasum kom redelik algemeen ná kalwing (3 tot 5% per jaar) voor in hoë produserende melkkoeie onder intensiewe boerderytoestande. Dit kom dikwels saam met metaboliese siektes soos ketose en melkkoors voor, by oorvet koeie en koeie met agtergeblewe nageboortes en baarmoederontsteking.

Die oorsake is kompleks van aard agv ‘n interaksie van verskeie faktore waarvan voeding en voedingsbestuur die belangrikste is. Belangrike voedingsfaktore wat ‘n rol mag speel, sluit onder andere in: Tipe ruvoer (kuilvoer teenoor grashooi), onvoldoende effektiewe vesel en vesellengte, swak kwaliteit ruvoer, oormatige konsentrate en bestuursfaktore wat innames negatief mag beïnvloed (bv. frekwensie van voeding, varsheid en gehalte van die voer, beskikbaarheid van kwaliteit water, algemene stres van diere). Intensiewe behuisingstelsels wat die beweging van diere beperk, speel ook ‘n rol.

Voedingsbestuur van die droë koeie, veral tydens die oorgangsfase (ongeveer 3 weke voor kalwing) asook van koeie vars in melk, speel ‘n uiters belangrike rol om dit sover as moontlik te voorkom.

Behandeling moet deur ‘n veearts gedoen word. Dit bestaan uit ‘n roltegniek met eksterne fiksasie van die abomasum of chirurgiese ingryping en ondersteunende behandelings om die koei se vog- en energiebalans so gou as moontlik te herstel.

Wat die tweede vraag betref t.o.v. steekpille:
‘n Steekpil (pessary in Engels) is ‘n pil wat verskillende medikamente bevat, bv. antibiotika wat in die baarmoeder van koeie geplaas word ná kalwingskomplikasies en/of infeksies. Daar is egter potensiële probleme hieraan verbonde en baie kenners is van opinie dat dit meer skade as goed doen. Sistemiese behandelings van probleme is ‘n baie beter opsie.

 

  • Geskryf deur: Prof. Dirk Lourens, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit Pretoria.

    29 Mei 2006


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X