Vra vir Faffa

Vergrote galblaas

Vraag

‘n Koei het gaan lê, regop op haar agterbene en sy het na 'n dag of twee gevrek. Al wat ons sien, is 'n baie vergrote galblaas. Verder is haar kondisie goed en sy is vet, alhoewel lakterend.

Antwoord

Daar word dikwels aan veeartse gerapporteer op nadoodse ondersoek van ‘n herkouer: “Die gal is groot!”.

Gal is nodig vir vetvertering en word opgeberg in die galblaas. Daar is ‘n verbinding (pypie) vanaf die galblaas na die dunderm. Vir afskeiding van gal vanaf die galblaas in die dunderm in, is dit nodig dat die herkouer se spysverteringstelsel in goeie werking is. Indien die grootpens gaan staan (rumenstase) word die blaarpens (omasum) kurkdroog en is daar naderhand ‘n stase van die hele spysverteringstelsel en gevolglik vind daar geen galafskeiding na die dunderm plaas nie – die gal vergroot.
Nog tekens wat  gesien word, is dat die mis hard word, die dier ophou om te herkou, as die vuis aan die linkerkant in die hongerholte ingedruk word, word geen rumenbewegings gevoel nie en uiteindelik vrek die dier.
Siektes wat op nadoodse ondersoek dikwels ook ‘n vergrote galblaas het, is bv. lamsiekte, diplodiose, dro? galsiekte, chroniese siektes waar diere ophou vreet en beserings van die rugmurg. Enige siekte wat met koors gepaard gaan soos bv. rooiwater en anaplasmose (bosluisgalsiekte) veroorsaak verlamming van die grootpens en uitdroging van voedsel.
Behandeling om die voormae weer aan die gang te kry:
·         Gee baie water, deur ‘n maagbuis indien nodig en masseer die grootpens (met die knie) veral waar uitdroging plaasgevind het.
·         Gall Drench, Bayer, G344 of Rumix, Virbac, G528 kan ingegee word.
·         Indien bg. nie beskikbaar is nie kan ‘n half tot een en ‘n half bottels asyn met twee koppies bruin suiker ingegee word. Dit is raadsaam om ‘n derde van hierdie hoeveelheid elke 6 tot 8 uur toe te dien in plaas van alles op een slag. Wees versigtig dat diere nie verstik nie.
·         Die eensellige organismes in die grootpens is gewoonlik baie verminder en daarom kan ‘n paar handevol vars pensmis, bv. van die slagplaas, ingegee word.
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, veeartskonsultant.
Bron: Mönnig, H.O. en Veldman, F.J. 1975. Handboek oor veesiektes. Tafelberg Uitgewers ISBN 0 824 00359 0
4 Maart 2012
Lees ook:
 
 
 

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X