Vra vir Faffa

Vergiftiging van diere met Phalaris-gras

Vraag

Onlangs is daar in die Wes-Kaap gerapporteer dat skape gevrek het weens Phalaris aquatica (Tawoomba kanariegras). Is daar meer inligting oor die vergiftiging beskikbaar?

Antwoord

Die Engelse term ”staggers” staan in Afrikaans bekend as stootsiekte.

Phalarisvergiftiging of “staggers”  is ‘n progressiewe neurologiese abnormaliteit van skape en beeste  wat veroorsaak word deur die meerjarige gras Phalaris aquatic (Tawoomba kanariegras en die eenjarige gras P. minor (kanariegras). Vergiftiging in Suid-Afrika is gerapporteer in die Wes-Kaap en Mphumalanga.

Die eksotiese gras ontsnap dikwels van aangeplante weidings. In die Swartland veroorsaak dit veral probleme op afgeoeste lande of versteurde grond langs paaie. Vergiftiging vind plaas as die grasse die areas domineer en dan gevreet word. Nuwe groei is veral giftig..

Daar word vermoed dat die gifstowwe in die gras drie triptamien alkaloïede is wat struktuurgewys dieselfde as serotonien is. Hierdie gifstowwe veroorsaak beide senuweesimptome asook hartabnormaliteite.

Drie verskillende sindrome is gerapporteer in skape:

  • ‘n Skielike vrekte of hartsindroom waar diere binne 4 ure kan vrek, maar gewoonlik 2 tot 72 uur nadat hulle blootgestel is aan giftige gras.
  • Akute Phalarisvergiftiging met verbygaande senuweetekens.
  • Kroniese vergiftiging of Phalaris “staggers” wat stadig vererger en onomkeerbaar is. Fatale neurologiese abnormaliteie ontwikkel  2 tot 3 weke  nadat hulle giftige weidings bewei het.

Kliniese tekens van die skielike vrektesindroom of hartsindroom word waargeneem as ineenstorting van diere as hulle gesteur word, asemnood, sianose (suurstoftekort), onreëlmatige hartklop, hartfibrillasie en hartstilstand.

Waar die senuweestelsel aangetas word, word hipersensitiwiteit en algemene bewerasie in die aanvangsperiode  gesien as diere gesteur word. Aangetaste diere loop dikwels met stywe bene en sleep die agterbene omdat hulle nie die hakke kan buig nie.  Hierdie tekens word opgevolg deur inkoördinasie  en swaai van die agterlyf. Erg aangetaste diere kan gaan platlê, kry konvulsies, fietsry beweging van die pote, spiertrillings, op en af bewegings van die kop; hulle oë beweeg heen en weer en spoeg loop. Sommige diere mag vrek terwyl ander wat alleen gelos word, mag herstel en klaarblyklik onaangetas wegloop. Die toestand in sommige diere mag vererger en hulle kan vrek as hulle op die weiding gelos word. Diere wat mild aangetas is, kan herstel as hulle betyds van die weiding verwyder word.

Sommige diere wat klaarblyklik herstel het, kan senuweesimptome wys as hulle geforseer word om te loop.  Tekens mag so lank as 2 maande duur.  Die morbititeit wissel van 5 tot 50% in uitbreke.

Die kliniese tekens in beeste word gewoonlik beperk tot styfheid van die hakke en die sleep van die agterpote. Slegs erge aangetaste diere mag nou en dan senuweetekens wys wat dieselfde as skape se tekens is.

Die ingee van swaar bevattende kobaltblokkies in die rumen kan die senuwee vorm wat die vergiftiging verhoed. Die toediening van parenterale kobalt of vitamien B12 is nie effektief nie. Daar word geglo dat die toediening van kobalt in blokkies die vermeerdering van sekere mikroöganismes in die rumen stimuleer, wat die veroorsakende gifstof vernietig.

Foto’s van Phalaris aquatica:

https://www.google.co.za/search?hl=af&site=imghp&tbm=isch&source=hp&biw=1366&bih=648&q=Phalaris+aquatica&oq=Phalaris+aquatica&gs_l=img.12…1991.8967.0.11409.0.0.0.0.0.0.0.0..0.0….0…1.1.64.img..0.0.0.zA0Xy1CoTME

Foto’s van Phalaris minor:

https://www.google.co.za/search?hl=af&biw=1366&bih=648&site=imghp&tbm=isch&sa=1&q=Phalaris+minor&oq=Phalaris+minor&gs_l=img.12…122552.128939.0.131501.0.0.0.0.0.0.0.0..0.0….0…1.1.64.img..0.0.0.poTNFpjPAUc

Bronne:

Kellerman, T.S., Coetzer, J.A.W., Naude, T.W. and Botha, C.J. 2005. Plant Poisonings and Mycotoxicosis of Livestock in Southern Africa. Oxford University Press.

Google images

Saamgestel deur: Dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

26 Junie 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X