Vra vir Faffa

Vergiftiging met harpuisbos

Vraag

Ek het die afgelope twee maande baie vrektes in my skaapkudde. Dit is party dae tussen vyf en ses skape per dag. Ek is nou raad-op en hoop u kan help. Die skape kom baie swak voor en sukkel om te staan as hulle gaan lê het. As hulle vrek, dan blaas hulle op en skuim kom partykeer uit die mond. Die rektum/anus gedeelte is blou/pers. Die longe het ook sulke pers kolle op, maar sit nie aan die karkas vas nie. Ek het Dorper/Van Rooyen kruisskape asook suiwer Van Rooyens. Op die oomblik het die kruisskape asook die lammers die meeste gevrek. Die harpuisbos kom baie ruig voor in die kamp, kan dit dalk die oorsaak wees? Ek gee ook winter/somerlek 30% gemeng met geelmeel, melasse en sout. Ek het vermoed dat dit dalk die probleem kon wees, maar het dit nou meer as 'n week onttrek, maar die vrektes duur nog steeds voort.

Antwoord

Harpuisbos se wetenskaplike naam is Gnidia burchelii (= Lasiosiphon burchelii). Om te sien hoe die plant lyk, gaan na Google images en tik die volgende adres in:

https://www.google.co.za/search?hl=en&site=imghp&tbm=isch&source=hp&biw=1333&bih=646&q=Gnidia+burchellii&oq=Gnidia+burchellii&gs_l=img.12…0.0.1.6667.0.0.0.0.0.0.0.0..0.0….0…1ac..29.img..3.16.2018.56s61dWyu-w

 

Hierdie plantfamilie kan onderskei word van ander families deur die fyn, silwerige draadjies wat blootgelê word as ‘n takkie gebreek word en die sterk bas van die hout afgetrek word.

Die plant hou van die randte van heuwels en groei goed op sanderige of klipperige sandsteengrond. Die bossie word dikwels geassosieer met uitgetrapte veld in die suidelike streke van Mpumalanga, Noordoos Vrystaat en Noordwes KwaZulu-Natal. Steyn meld in sy boek dat die plant ook in die Transkei, Griekwaland-Oos, Kuruman, Vryburg, westelike Vrystaat en Lesotho voorkom. Adelaar meld dat daar skape getrek het van Babanango na Dundee en 68 uit 540 skape het gevrek van harpuisbosvergiftiging.

 

Proewe by Onderstepoort het aangetoon dat ‘n dodelike dosis vir vars harpuisbos 3,4 gram per kg  en vir gedroogde materiaal 0,7 tot 1,4 gram per kg was. Kliniese tekens is binne ure gesien en vrektes het binne een tot agt dae voorgekom.

 

Toe die droë plant gemaal is om proewe uit te voer, het die stof ernstige prikkeling  van die slymvlies van die lugweë  asook naarheid en hoofpyn veroorsaak.

 

Skape wat natuurlik met die bossie vergiftig is, het agter geraak by die trop en het moeilik asemgehaal. Daar was ‘n milde koorsreaksie, ‘n bloederige neusuitloopsel en die skape loop met hulle nekke uitgestrek. Hulle het ook gebewe en  daar was lugblasies onder die vel van die nek en kop. Slegs effense spanning op die dier het tot vrektes gelei.

In sommige gevalle het die rumen gaan staan, en diarree is in meeste gevalle gesien.

 

Publikasies noem dat die gifstof die hart en longe aantas asook irritasie van die derm veroorsaak.

 

Soos met baie ander plante is gevind dat die bossie op verskillende plase en met verskillende tye van die jaar baie verskil in giftigheid. Dit skyn of die plant die giftigste is as dit blom.

 

Daar is nie ‘n teenmiddel teen die gifstowwe in die bossie nie en diere word simptomaties behandel.

 

Haal die diere uit die kamp uit en kontak chemikalieë maatskappye vir inligting oor die beheer van harpuisbos.

 

Bronne:

Kellerman, T.S, Coetzer, J.A.W, Naude, T.W and Botha, C.J. 2005. Xford University Press.

 ISBN 978 0 19 57613 4

 Steyn, D.G. 1949. Vergiftiging van mens en dier. J.L. Van Schaik,Bpk, Pretoria.

 

Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

 

26 Oktober 2013


Kommentaar

Een kommentaar op “Vergiftiging met harpuisbos

  1. Christiaan Eilerd
    Christiaan Eilerd

    Baie dankie vir u terugvoering – ek waardeer die opreg.
    Groete
    Chris Eilerd – Postmasburg


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X