Vra vir Faffa

Vergiftiging met bitterappel of gifappel

Vraag

Ek soek meer inligting oor gifappels.

Antwoord

Die plant Solanum lichtensteinii = S. incanum (bitterappel, gifappel) kom wydverspreid in die land voor. Die blom is pers en die vrug is geel as dit ryp is en is rond.

Die giftige bestanddeel is die alkaloïed, solanine, wat ook in groengekleurde aartappels is. Aartappels wat aan die son blootgestel is, is geneig om groen te word en is gevolglik giftig; mens en dier is daardeur vergiftig.

Bokke , skape en kalwers vreet soms die vruggies met noodlottige resultate. Proewe is op konyne, bokke en skape uitgevoer en dit het geblyk dat die onryp (groen) vruggies baie giftiger is as die ryp (geel) vruggies. In etlike gevalle kon ons bokke, skape en konyne glad nie met die ryp “appels” vergiftig nie. Ook etlike kinders is deur die onryp “appels” vergiftig. Daar word geglo dat meganiese obstruksie van die slukderm  deur vrugte by beeste ‘n groter gevaar as vergiftiging met solanine is (Naudé et al).

Die blare bevat geen of uiters min van die alkaloïed.

Die appels, en veral die groen “appels”, is ‘n goeie geneesmiddel vir omlope. Sny die groen “appels” middeldeur en smeer die sap op die omlope.

Siektetekens

By mense:  Hoofpyn, speekselvloei, naarheid, braak, maagwerking, koliek, hoofpyn, neerslagtigheid, versnelde pols en asemhaling, koors, sweet, duiseligheid, verwyde oogappel, spraakverwarring, geestesstoring, krampe en  bewusteloosheid kom selde voor. Die dood word veroorsaak deur hart- of asemhalingverlamming.

By diere: Speekselvloei, braak, maagwerking, koliek, opblaas, ontsteking van die bekslymvlies, versnelde pols en asemhaling, krampe, rondsteier en verlamming. Soms is daar ’n velaandoening (blasies op die vel van die bene, uier en nek) en ontsteking van die oogslymvlies.

Nadoodse verskynsels: Maagdermontsteking met bloedings in die slymvlies en baie bloed in die longe en lewer.

Bron:

Kellerman, T.S., Coetzer, J.A.W., Naude, T.W and Botha, C.J. 2005. Plant poisonings and mycotoxicosis. Oxford University Press.

Steyn, D.G. 1949. Vergiftiging van mens en dier met gifplante, voedsel en drinkwater. J.L. Van Schaik, Bpk.

 

Saamgestel deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

8 Maart 2014

 


Kommentaar

Een kommentaar op “Vergiftiging met bitterappel of gifappel

  1. Carien de Klerk
    Carien de Klerk

    Ek woon en bestuur ‘n klein beskermde wild wildsplasie. Ek merk op dat die bitterappel in die grasvelde besig is om te vervuil. Ek wil graag weet wat se gifstof ek kan gebruik om dit uit te roei, maar dit moet skadeloos wees vir die wild. \kan u my dalk raad gee?


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X