Vra vir Faffa

Vergiftiging deur klimop (Cynanchum spp.)

Vraag

‘n Diagnose van klimopvergiftiging is gemaak nadat van my beeste gevrek het. Vertel my asb. meer van hierdie vergiftiging.

Antwoord

Daar is verskillende Cynanchum spesies nl. C. africanum, C. ellipticum en C. obtusifolium wat vergiftiging  (Cynanchose) veroorsaak. Die gewone name vir hierdie plante is klimop, bobbejaantou en monkey rope.

Foto’s van hierdie plante op Google images by:

https://www.google.co.za/search?hl=en&site=imghp&tbm=isch&source=hp&biw=1326&bih=659&q=cynanchum&oq=cynanchum&gs_l=img.12…0.0.1.1716.0.0.0.0.0.0.0.0..0.0….0…1ac..42.img..1.8.1591.v7Sri6B5o_o

Hierdie plante veroorsaak senuweeaantasting van plaasherkouers en perde word selde aangetas.

Alle Cynanchumspesies besit ‘n melkerige, bitter, skynbaar nie-irriterende melksap (lateks). Die plante is smaaklik vir diere en sekere diere het selfs ‘n voorliefde vir die plante.

Die plante kom  aan die oostelike seekus en in beboste valleie bv. in die Soutpansberge in Limpopo, voor.

Vergiftiging kom ongeveer 12 tot 40 uur nadat hulle 5 tot 14 gram per kg van die vars of gedroogde  plante gevreet het, voor. Ses giftige pregnaanglikosiedes is uit die plante geïsoleer.

Hierdie vergiftiging kan enige tyd van die jaar voorkom. Sommige boere glo dat vergiftiging die meeste in die winter voorkom terwyl ander weer sê dat vergiftiging in die somer voorkom as die plante verlep is.

Siektetekens

In die eerste fase van vergiftiging, wat vir ‘n halfuur tot ‘n paar ure duur, kan skape wydsbeen staan, partykeer met die voorbene gekruis. Hulle bewe, waggel rond en val met tussenposes neer tot hulle nie kan opstaan nie. Beeste loop met gekromde rug,  stywe bene met kort passies. Die sametrekking van die beenspiere mag so sterk wees dat die diere op die punte van hulle hoewe of selfs op die voorkante van die kootgewrigte loop.

In die volgende fase, wat van een tot sewe dae kan duur, lê die diere plat op hulle sy en mag tetaniessametrekkings kry. Gedurende hierdie sametrekkings mag die kop tussen die voorbene ingetrek of agteroor getrek wees. Die bek is dig gesluit, die lippe teruggetrek, die oë wyd oop en hulle beweeg heen en weer. Aangetaste diere is hipersensitief en as hulle op die kop getik word, mag dit tot hewige sametrekkings aanleiding gee. Tussen hierdie sametrekkings mag hulle fietsrybewegings met hulle bene maak, wat identies is as die tekens wat hartwater veroorsaak. Vermoedelik word die dood deur asemnood veroorsaak tydens spiersametrekking.

Die spasmodiese fase kan oorgaan in verlamming wat selfs langer as ‘n week kan duur. Sommige diere kan selfs herstel terwyl ander weer opblaas.

Rigor mortis (styf word) kan onmiddellik na die dood intree. Indien stukkies van die plante in die grootpens gevind kan word, kan dit help met die diagnose.

Differensiële diagnoses

Die paralitiese fase van die vergiftiging kan verwar word met krimpsiekte wat deur Tylecodon spp., Cotyledon spp. en Kalanchoe spp. vergiftiging veroorsaak word.

Siektes waarmee klimopvergiftiging ook verwar kan word, is klem in die kaak, hartwater en vergiftiging met Sarcostemma  viminale (melktou, spantoumelkbos) en gechlorineerde koolwaterstowwe.

Behandeling

Daar is geen spesifike behandeling nie en diere word simptomaties behandel – nader u veearts vir hulp.

Bron: Kellerman, T.S., Coetzer, J.A.W., Naude, T.W. and Botha, C.J. 2005. Plant Poisonings and Mycotoxicosis of Livestock in Southern Africa. Oxford University Press.

Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

7 Mei 2014


Kommentaar

Kommentaar (2) “Vergiftiging deur klimop (Cynanchum spp.)

  1. Wynand Muller
    Wynand Muller

    My broer het n bramaan bul wat van die klimop plant geet het. Al die siektestekens is van toepassing op die dier. Hy het nou na 3 weke goed begin eet. Die bul kon vir n week nie opstaan nie maar nou kan hy opstaan maar kan nie loop. Die bul eet steeds goed behalwe dat hy nie kan loop. Is dit iets wat sal weg gaan of is dit steeds deel van die siektetekens vanwee die giftige plant.

    • Jan Bezuidenhout

      Dr Faffa Malan antwoord:
      Beste Wynand
      Waar lewe is, is daar altyd hoop.
      Jammer ek kan nie vir jou ‘n antwoord gee nie?
      Ek heg vir jou ‘n antwoord aan wat deur toksikoloë geskryf is.
      https://hulp.landbou.com/kundiges/vra-vir-faffa/vergiftiging-deur-klimop-cynanchum-spp/
      Daar sal ‘n punt kom dat die eienaar sal besluit die dier gaan nie beter word nie, want die skade is onomkeerbaar, maar dalk verander die situasie.
      Groete
      Faffa


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X