Vra vir Faffa

Val in melkproduksie in suiwelkoeie

Vraag

Ons melk Jerseykoeie en twee het onlangs gekalf. Een kalwing was ‘n bruggeboorte. Ons het hulle gemelk en het bietjie melk gekry, maar beide het verminder na minder as een koppie melk. Is daar enige rede om dit te verklaar?

Antwoord

Die geskiedenis is relatief vaag, maar ek spreek graag die breë beginsels aan waarna mens moet kyk met die akute afname van individuele koeie se melkproduksie. Baie van laasgenoemde sal ook waar wees as mens ‘n afname op ‘n kuddebasis ondersoek, maar daar is ook ‘n paar ander aspekte wat in ag geneem moet word wat ek nie hier gaan bespreek nie

Agtergrond

  • Koeie produseer gewoonlik 3-5 liter kolostrum direk na kalwing wat genoeg behoort te wees om in die kalf se behoeftes te voorsien. Verse se produksie is gewoonlik 10-20 % minder.
  • Hierna neem die melkproduksie geleidelik toe en koeie piek gewoonlik tussen 40 en 70 dae na kalwing, waarna die melkproduksie weer geleidelik begin afneem (10-15% per maand) tot die koei opgedroog word.
  • Normale laktasie lengte is ongeveer 305 dae

Lae Pieke

  • Kliniese of subkliniese mastitis mag aanleiding gee tot ‘n akute afname in melkproduksie en dan ook verlaagde piekproduksie – Doen ‘n CMT (Californiese mastitistoets) toets om somatiese seltelling te bepaal. As dit meer as 500,000 selle per ml is, moet ‘n veearts gekontak word om ‘n diagnose te maak.
  • Sub optimale voeding – veral te lae energievlakke mag bydraend wees – gewoonlik neem die melk af oor ‘n tyd en nie akuut nie. Sub optimale minerale (makro en mikrominerale) in die voeding moet ook oorweeg word.
  • Been en pootprobleme, longletsels (longontsteking) en interne parasiete mag ook tot verlaagde piek melkproduksie aanleiding gee – Veearts sal die probleme kan diagnoseer en aanbevelings maak.
  • Tekorte van veral spoorlemente mag aanleiding tot verlaagde pieke en produksie gee.
  • Rooiwater en galsiekte mag ook ‘n akute verlies in melkproduksie veroorsaak.
  • Oorvet koeie mag aanleiding gee tot metaboliese toestande soos ketose.
  • Tekort aan of swak kwaliteit water sal ook tot ‘n verlaging in melkproduksie lei.
  • Chroniese probleme soos baarmoederontsteking of selfs ‘n traumatiese retikulitis (draad) mag ook tot verlaagde pieke en totale verdwyn van melk aanleiding gee.

Uier wil nie vul nie

  • Interne parasiete
  • Suboptimale pre- en post-kalwing voeding veral kalsium en proteïene
  • Klinies of subkliniese mastitis
  • Oormatige stres voor en tydens kalwing
  • Vergiftigings soos fluoried in die drinkwater

Oormatige afname in melk

  • Klinies of subkliniese mastitis
  • Inname van sekere gifplante
  • Inname van mikotoksiene (swamme) vanaf die weiding of voer
  • Te hoë NPN (nie proteїen stikstof) vlakke in die voer
  • Oorvoer van veral graan met gepaardgaande suurpens
  • Vitamientekorte
  • Ongebalanseerde rantsoene – veral vroeg in die laktasie
  • Infeksie- en bosluisoorgedraagde siektes
  • Te min water

Kort laktasies

  • Koeie wat oormatig vet is (kondisietelling > 4)
  • Ondervoer
  • Onvolledige verwydering van melk
  • Genetiese oorsake

Soos gesien is die oorsaak van ‘n skielike afname en selfs ‘n totale ophou van melkproduksie baie keer gekoppel aan een of meer oorsaak. Die beste persoon om hierdie probleem aan te spreek is die kuddeveearts wat met in agneming van die geskiedenis van die dier, kliniese ondersoek en laboratorium toetse, ‘n diagnose sal kan maak en dan die korrekte voorkomende maatreëls in plek sal stel of die korrekte behandeling sal voorskryf.

Geskryf seur: Dr. Chris van Dijk, Bestuurder van die MPO (Chris@mpo.co.za)

21 Augustus 2016


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X