Vra vir Faffa

Uile en knaagdiere

Vraag

Knaagdiere kan groot skade aanrig. Hoe kan 'n mens hiermee plan maak?

Antwoord

Die afgelope jaar was ‘n uitsonderlike warm jaar. In die noordelike dele van Suid-Afrika was daar haas geen ryp nie en die hoëveld het eers teen die begin van Julie begin koud word. Meeste mense verwelkom die warm weer maar diegene wat al begin bewus raak het van die aardverhitting weet daar iets onheiligs aan die kook is. Daar is tekens dat die natuur se siklusse heeltemal deurmekaar geraak het.

My Kransaasvoëls in die Magaliesberg is gemiddeld sewe dae laat met hulle broeisiklus. Die kakkerlaknavrae wat gewoonlik teen die einde van Mei opdroog het onverpoos voortgegaan. In my tuin is die twee ou bergskilpaaie besig om in die begin van Julie rond te loop en te wei asof dit hoogsomer is. Springbokke in die Kalahari het teen die einde van Junie lammertjies van skaars vier weke oud.

Die ergste van alles vir baie van die graan- en kontantgewasboere is dat baie van die landbouplae nie die wyk geneem het nie. Knaagdiere se getalle lyk of dit aan die toeneem is in plaas daarvan dat hulle bietjie briek aandraai gedurende die winter.

Nagmuise en veldmuise is soos in die dae van die tien plae steeds aan die orde van die dag en besorg vir baie mense hoofbrekens. Meestal word daar na knaagdierdoders uitgereik maar ongelukkig sal sommige van die produkte tot die sekondêre vergiftiging van uile en ander knaagdierpredatore aanleiding gee.

Uile is wel uiters nuttig in die bestuur van knaagdierprobleme en kan wel hulle eie plekkie op die plaas vol staan,  maar dan slegs as die knaagdierdoderkeuse korrek is en die produkte korrek aangewend word. Uilsitplekke langs landerye of in die veld is ‘n goeie metode om die nagtelike jagters aan te lok. Sulke sitplekke moet uit twee komponente bestaan: een stel sitplekke van 1.4 meter hoog vir die vlei-uile en 2.4 meter hoog vir gevlekte ooruile en nonnetjiesuile.

Sulke sitplekke kan van 50 mm houtplaatjies gemaak word. Uile verkies paaltjies sonder ‘n dwarslat bo-op. Nonnetjiesuile en vlei-uile sal die kleiner knaagdiere soos nagmuise en veldmuise aanvat maar dit verg ‘n gevlekte ooruil om die groteres soos dakrotte en vleirotte te vang. Een paar nonnetjiesuile sal tot sestig muise per nag vang as hulle ‘n broeisel kuikens in die nes het en mens kan self uitwerk hoeveel hierdie muise,wat elk sowat 8 gram kos per nag vreet, sou gevreet het as dit nie vir die uile was nie.

Uilkaste kan ook opgerig en die bou daarvan pas in elke boer se kraal want dit kan sommer van afvalhout gebou word. ‘n Basiese platform van 400 mm X 700 mm is groot genoeg as basis vir die uilkas. Twee lang kante en een kort kan word toegemaak met 400 mm hoë muurtjies en die uilkas word met ‘n dakkie afgerond.

Hierdie kas kan op ‘n hoogte van 4 meter in ‘n boom opgerig word of selfs op ‘n lang paal naby die lande. Nonnetjiesuile trek baie maklik in omdat hulle van sulke huisies hou. Gevlekte ooruile sal ook intrek maar hulle verkies die kaste wat effens in ‘n boom of onder ‘n dak se oorhang verskuil word.

Wanneer knaagdierdoders aangewend moet word, moet die uilsitplekke eers uitgehaal word. Net sekere knaagdierdoders mag wettig in landerye gebruik word en ten einde die regte keuse te maak moet boere my skakel by 082-446-8946 vir die toepaslike inligting.

Daar is ook sekere maniere waarvolgens sulke produkte aangewend moet word om effektief te wees en om moontlike skade aan nie-teikendiere te voorkom. Weereens, bel asb voordat u begin knaagdiere vergiftig.

Uile reageer ongelooflik goed op goedgesinde mense en daar is alreeds baie mense wat uile op hulle plase aanwend as knaagdierbeheerders. Die verdere voordeel is dat daar gereeld uile op die plaas is wat vir mens nagtelike plesier kan verskaf.

Die hoe-hoe van die gevlekte ooruil is ‘n baie welkome teken dat alles wel is op die plaas en gee ook die wete dat die rotte dit moeilik sal vind om hulle getalle vinnig uit te brei. Nonnetjiesuile broei graag in skoorstene of selfs in plafonne en maak soms geraas maar die donsagtige gesiggies van ‘n spul klein uiltjies is tog sekerlik een van die oulikste dinge om in die natuur te sien.

Hou die uile lewendig deur vir hulle die regte habitat en blyplek te skep en moet nie vergeet om my te skakel voordat u knaagdierdoders aankoop nie – 082-446-8946.

Dr. Gerhard Verdoorn (nesher@tiscali.co.za)

12 Julie 2011


Kommentaar

Kommentaar (2) “Uile en knaagdiere

  1. Wilna Wilson
    Wilna Wilson

    Goeiedag

    Ons het twee, partykeer 3 gevlekte ooruile wat in ‘n groot boom in ons voortuin bly vir die afgelope maand. Ons het ‘n uilkas aangeskaf en verneem graag of ons enige iets binne in die hok moet plaas.

    Baie dankie

    Wilna Wilson

  2. Frik Lourens
    Frik Lourens

    Ek het n grys gevlekte ooruil ingegee vir opstop en toe gee die man my n bruin gevlekte ooruil hoe kan ek hom verkeerd bewys Ek is n natuur mens iemand het hom geskiet het hom probeer vang vir moontlike herstel maar het hom die volgende dag dood opgetel Ek is baie teleurgesteld


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X