Vra vir Faffa

Uier van ooi is hard na lam

Vraag

Ek het 'n ongelooflike mooi Merino-ooi wat die 20ste Mei 2016 ‘n tweeling gekry het. Toe ek die ooi op die volgende dag kyk vir melk en hoe die uier uitsien, het ek gevoel dat die uier groot en hard is. Veral aan die een kant kan ek letterlik die massa binne in die uier voel. Dit is nie mastitis nie. Ek het dit al vantevore gehad en weet hoe dit lyk. Uier is nie rooi of warm nie en die melk is ook nie dik nie. Die groot lam drink aan haar en wil nie aan die bottel drink nie, alhoewel die kleiner ene wel aan die bottel drink. Tog toe ek die ooie geselekteer het, het ek haar juis gekies omdat sy my nog nooit enige probleme gegee het nie en nog nooit mastitis gehad het nie en elke keer die mooiste lammers gee en hulle ook goed groot maak. Wat kan dit wees? Ek gaan haar definitief nou moet uitskot, sy is vir my nou niks werd nie. Was daar fout toe ek haar geselekteer het dat die probleem daar was maar ek het dit nie opgemerk nie?

Antwoord

Ek sien soms erge mastitis gevalle wat baie min rooi is. Hulle gebeur baie vinnig en word meestal deur Pasteurella veroorsaak.

Erge swelsels binne die uier is meestal absesse. Dit klink net vir my vreemd dat dit skynbaar oornag gebeur het.

Absesse vorm op verskillende maniere:

  1. Ooie wat mastitis tydens die droë tydperk ontwikkel nadat die Pasteurella (Mannheimia) bakterie die weefesl “opgelos het” ontwikkel absesse wat deur Trueperella (voorheen Corynebacterium) veroorsaak word.  Hulle groei egter nie oornag nie, maar word stadig groter.
  2. Soms vorm absesse binne in die speenkanaal tydens die droë tydperk. Die speen sluit gewoonlik af en melkproduksie staak.
  3. Bosluise met lang bekdele en ander “Steekwonde” kan ook absesse veroorsaak.
  4. In uitsonderlike gevalle is Kaasagtige Klierverswering (Corynebacterium ovis) ook die oorsaak. 

Ons voorkom mastititis deesdae baie goed met ‘n multi – antigeen entstof wat ontwerp is vir laat dragtige ooie.  Dit is, soos alle entstowwe nooit 100% effektief nie.

Alhoewel die meeste mastitisgevalle deur Pasteurella veroorsaak word, kry ons tog soms Staphylococcus aureus en E. coli as oorsaak.  Elkeen van hierdie moet met ‘n ander enstof voorkom word.

Jy kan my direk kontak vir die name van die entstowwe.

Ander moontlike oorsake van swelling in die uier is kanker (adenoom) – Jaagsiekte en selfs breuke waar die derms agter die uierweefsel inbeweeg en vasgevang word.  Ek het sellfs eenmaal ‘n gemummifiseerde lammetjie agter die uier gekry wat besig was om deur die buikwand te beweeg.

Ek behandel akute mastitis redelik suksesvol met die nuwe generasie antibiotika, kortisone, anti-inflammatoriese middels en soms ook ‘n mastitismiddel wat kortisone bevat.

Absesse is baie moeilik om te behandel sonder skade aan die uier en, soos jy tereg sê, is dit beter om die ooi te prul behalwe as jy seker is die ander helfte funksioneer nog.

Twee goed is baie belangrik in mastitisbeheer in skape:  biosekuriteit en omgewingshigiëne (veral in lamhokke) en gereelde monitering.  Alle mastitisgevalle behoort gekweek te word om vas te stel watter spesie en selfs watter stam (van Pasteurella) betrokke is.  Moet egter nie teleurgesteld wees as die meeste gevalle nie ‘n definitiewe uitslag het nie.  Die wat wel geїdentifiseer kan word, gee ‘n baie goeie aanduiding van watter voorkomende en behandelingstrategie gevolg moet word.

Geskryf deur: Dr. Johan A van Rooyen M.Med.Vet.,M.B.A., M. in Sust. Agric. PDTE

Veterinêre Spesialis Praktisyn (Kleinvee)

E-pos: flocprotec@telkomsa.net

23 Mei 2016

Indien daar ‘n aanhangsel onderaan hierdie antwoord verskyn, moenie oopmaak nie. Dit is weens ‘n tegniese probleem.


Aanhangsels

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X