Vra vir Faffa

Troeteldiere en klappers

Vraag

'n Raadop honde-eienaar wil weet hoe kan die feesseisoen vir troeteldiere makliker gemaak word, en waar kan klapperskietery gerapporteer word?

Antwoord

Vraag:
Ek wil graag weet of julle raad het met klapperskietery en ons troeteldiere. Ons twee honde is te groot om in die huis te bly. Ons een hond het haar die aan van 31 Desember vuil gemaak so bang was sy. Ons kan nie bekostig om kalmeermiddels by ‘n veearts te koop nie. Is daar dalk iets anders wat ons kan doen om die tydperk vir haar makliker te maak?

Op die stadium kan ons haar maar net optel, vashou en liefde gee, maar dit help niks nie. Sy ruk los en hardloop soos ‘n mal ding rond. Weet julle dalk van ‘n plek waar mens hierdie probleem kan rapporteer? In al die koerante word daar gewaarsku dat mense boetes kry wat klappers skiet, maar die skuldiges steur hulle glad nie daaraan nie, want die wet word nie toegepas nie. – Huibrecht Horn (huibrechthorn@gmail.com)

Antwoord:
Klankfobies is inderdaad ‘n ernstige hondegedragsprobleem. Die diere ontwikkel nie net ‘n erge vrees vir klappers nie, maar ook ander harde geluide soos geweerskote en donderstorms. Dit is absoluut noodsaaklik om vir so ‘n hond behandeling te gee tydens sulke insidente. Dit is nie duur behandeling nie (nie meer as ‘n paar rand nie), en vereis net een kort konsultasie met ‘n veearts. As jy nie ‘n privaatveearts kan bekostig nie, kan jy by dierewelsynsorganisasies hulp kry.

Hierdie behandeling hou die hond rustig tydens so ‘n gebeurtenis en kan selfs gegee word wanneer die geraas reeds begin het. Dit voorkom dat die probleem elke keer erger word. Vir meer langtermynbehandeling is dit nodig om ‘n gedragskundige te konsulteer en die behandeling wat daarmee gepaard gaan, sal meer kos, maar die noodbehandeling soos hier bo beskryf, is by enige veearts te kry, is baie effektief asook goedkoop en kan herhaaldelik gebruik word.

Raadpleeg jou plaaslike dierewelsynsorganisasie en polisie vir die regulasies rondom klappers skiet in jou area aangesien hierdie regulasies deur plaaslike owerhede geïmplementeer word en dus verskil van plek tot plek.

 

  • Geskryf deur Dr Quixi Sonntag, EduPet Veterinary Consulting.

    21 Januarie 2008


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X