Vra vir Faffa

Tetanus (klem-in-die-kaak)

Vraag

Waarmee kan ons 'n lam behandel- sy hele lyf is stokstyf asof hy dood is en hy ruk wanneer 'n vlieg op hom sit. Lyk asof hy baie sensitief is op sy lyf of as hy geluide hoor. Hy haal vining asem soos 'n hond wat warm kry en sukkel ook dat hy moet suip- kry nie sy bek groot genoeg oop vir tietbottel nie. Eerste keer wat ons so iets beleef en wonder wat veroorsaak dit? Lam is omtrent tussen 8 - 10 dae oud. Hy het gister so uit die hok gekom, eers gedink dit is hartwater met koors en gisteraand is hy so styf soos 'n dooie bok.

Antwoord

Tetanus of klem-in-die-kaak is nie ‘n aansteeklike siekte nie en word deur ‘n bakteriese toksien (gifstof) veroorsaak. Die senuweesisteem van perde en skape en soms beeste, bokke, varke en mense en by uitsondering honde en katte word aangetas.

Besmetting

Tetanus is ‘n siekte wat bykans alle diere en die mens aantas. Perde en mense is baie vatbaar vir die siekte, terwyl beeste minder vatbaar is. Jong lammers word dikwels aangetas. Die kiem kan oral in die grond voorkom, maar veral in goedbemeste grond. Die kiem kom ook normaalweg voor in die dermkanaal van diere, veral perde, maar veroorsaak geen siekte nie, omdat dit in die dermkanaal geen toksien vorm nie.  Dis dan ook duidelik dat stalmis so te sê altyd swaar besmet is met die kieme en dat perde dikwels die kieme op hul pote ronddra.  Die siekte word deur die toksien van die bakterie Clostridium tetani  veroorsaak. Die kiem is ‘n anaëroob wat beteken dat dit in die afwesigheid van suurstof vermenigvuldig. Die bakterieë vermeerder in die dooie weefsel van ‘n wond aan die dier. Die kragtige toksien word in die wond geabsorber en beweeg langs die senuwees na die brein en rugmurg. Dit veroorsaak tipiese senuweesimptome. Die algemeenste wonde waarin die bakterieë vermeerder is dié wat deur kastrasie en die afsit van sterte, veral by skape, veroorsaak word.

Die bakterieë kan ook soms die naelstring besmet, vermeerder en sy toksien produseer. Die gebruik van rekkies vir stertafsit is veral gevaarlik en moet by onbeskermende lammers vermy word. Hierdie rekkies veroorsaak die afsterwe van weefsel (nekrose) van die vel wat ideale toestande vir die vermeerdering van die bakterieë skep en grootskaalse verliese is al as gevolg van hierdie metode gely. C. tetani is baie algemeen in die mis en in die grond van krale en stalle en wonde word maklik besmet.

Siektetekens by lammers

‘n Lam met tetanus toon tipiese senusimptome. Hy gaan lê en vind dit uiters moeilik om op te staan. Later word hy so styf dat hy omval en nie weer kan opstaan nie. Die bene is styf uitgestrek en die hele liggaam trek styf. Die nek word teruggetrek en die kakebeen toegeklem. Wanneer die dier gesteur word, kan hy tetaniese spasma ontwikkel. Ander diersoorte ontwikkel ook tipiese senusimptome. As ‘n mens die dier onder die ken stamp, probeer hy die ken opruk, en die derde ooglid (wit vlies) spring oor die oog.

Behandeling

Die prognose (uitkoms van die siekte) is baie swak. Moet nooit enige middels deur die bek probeer ingee nie. Met ‘n maagbuis kan dit miskien nog gedoen word. Hou die dier in ‘n stil, donker stal. Probeer enige wonde opspoor en ontsmet baie deeglik met ‘n geregistreerde ontsmettingsmiddel.  Kontak jou veearts vir berustingsmiddels en besluit of dit ekonomies regverdigbaar is om tetanus-antiserum toe te dien.

Voorkoming en beheer

Tetanus word die beste voorkom deur immunisering. Diere wat vir die eerste keer op ouderdom drie maande of ouer ingeënt word, moet ‘n tweede inspuiting na 4-6 weke ontvang. Hierna word hulle slegs een keer per jaar ingeënt om immuniteit te behou. Om lammers wat  jonger as drie maande is tydens kastrasie en stertafsit en teen moontlike naelstringinfeksie na geboorte te beskerm, moet die moederdier vir die eerste keer agt weke en weer vier weke voor geboorte ingeënt word en daarna een keer jaarliks 2-4 weke voor sy lam. Op hierdie manier verkry die jong diere biesmelkimmuniteit wat hulle vir bykans vyf weke sal beskerm. Op ouderdom drie maande kan hulle dan geïmmuniseer word soos voorheen beskryf.

Perde, en in ‘n mindere mate skape, is veral vatbaar vir tetanus en behoort jaarliks ingeënt te word. Alhoewel moederdiere soos ooie en merries teen tetanus ingeënt word en daar ‘n biesmelkimmuniteit ontwikkel in die lam of vul, moet goeie higiëne altyd gehandhaaf word gedurende kastrasies, stertafsit of chirurgiese prosedures.

Waar ‘n waardevolle dier, veral ‘n perd, in ‘n spyker getrap het of ‘n ander wond wat erg met mis of grond besmet is, opgedoen het, kan ‘n dosis tetanus-antiserum as voorbehoedmiddel ingespuit word.

Bronne:

Du Preez, J.H. en Malan, F.S. 2011. Entstowwe en immunisering van plaasdiere. Agri Connect. ISBN 978-0-620-37335-7

Mönnig, H.O. en Veldman, F.J. 1975. Handboek oor Veesiektes. Tafelberg-Uitgewers Beperk. ISBN 0 624 00359 0

Geskryf deur: drs. Jan du Preez en Faffa Malan (dokfaffa@nashuaisp.co.za)

3 Augustus 2014


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X