Vra vir Faffa

Teel van skape met vermoë om wurms te kan weerstaan

Vraag

Is dit moontlik om by skape te teel vir die vermoë om wurms te kan weerstaan?

Antwoord

In antwoord op dr. Alan Fisher (Staatsveearts te Queenstown in die Oos-Kaap) se stelling dat navorsing onderweg was om skape met weerstand teen/verdraagsaamheid vir inwendige parasiete te teel, het prof. Erasmus daarop gewys dat seleksie teen lewende organismes nie blywend kan wees nie, aangesien “… die parasiet …. redelik vinnig deur mutasie, migrasie en toevallige drywing kan verander om weer die gasheer (bv. ‘n skaap) te kan aanval.”  Volgens prof. Erasmus is dit by diere en plante van min belang weens  “… betreklik lae reproduksie en lang generasie-interval, vergeleke met patogene organismes … waar dit respektiewelik ongelooflik hoog en kort is.”

 

Inderwaarheid is daar algaande aanduidings dat dit, in die geval van die interne parasiete, geensins vergesog is om skape met weerstand/verdraagsaamheid te teel nie. Sekere faktore, soos hieronder gelys, moet egter in ag geneem word.

 

1.  Vir die punte hieronder veronderstel ek goeie plaasbestuur, waarsonder die gesprek sinneloos sou wees.

 

2.  Weens relatiewe lae oorerflikheid van skape se weerstand teen/verdraagsaamheid vir die mees algemene interne parasietsoorte, in die buurt van 30%, is die opbou van ‘n weerstandige trop ‘n relatief langsame proses.

 

3.  Vergeleke met patogene soos bakterieë en virusse is interne parasiete se generasietyd weens spesifieke ekologiese vereistes vir aanteel, relatief lank, volgens alle aanduidings slegs twee tot drie hoof generasies per jaar.  Die hoof rede hiervoor is dat die wurms nie hul lewensiklus in die gasheer kan voltooi nie; die wurmeiers moet op die weiding ontwikkel, uitbroei en die voortspruitende larwes twee moet vervellings ondergaan voordat die larwes vir die gasheer besmetlik raak. Daarby is die ontwikkeling van wurmeier na besmetlike larf afhanklik van reën binne ongeveer 1-4 dae nadat die mis op die weiding beland het en die larwes wat ontwikkel, moet wag totdat hul deur die diere ingeneem word.  Gevolglik lei slegs klein persentasies van die wurmeiers tot herbesmetting van die gasheer en met goeie weidingsbestuur met optimale rusperiodes (optimaal vir die betrokke plante), vrek by verre die meeste van die wurmlarwes.

 

4.  As algemene reël word 80% van die parasietbevolking in 20% van die diere in ‘n gegewe gasheerbevolking gehuisves.  Met andere woorde, ten spyte van die “eindelose” voorafgaande assosiasie tussen parasiet en gasheer is ‘n groot persentasie van die gashere om verskeie redes daartoe in staat om hul eie parasietladings/effek van parasietdaging te beheer.  Mens het dus met ‘n relatiewe stabiele situasie te make wat in die praktyk by die meerderheid van uitbrekings van haarwurmbesmetting waarneembaar is vanuit ‘n oorgrote meerderheid van die betrokke skape wat geen tekens van bloedarmoede toon nie, terwyl van hul makkers daaraan vrek.

 

5.  Daar hoef nie vir volhoubaarheid van die weerstand in die skape geteel te word nie.  Die proses is wel dinamies, met geen waarborg dat die parasiete nie sal “aanpas” nie, maar deur voortdurend die diere uit te skot wat nie in staat is om sonder dosering klaar te kom nie, word wel daarvoor toegelaat.  Een van die bes geboekstaafde voorbeelde van sukses met so ‘n teelstrategie is die Rylington Merino stoet van John Karlsson in Wes-Australië, waarvan ‘n reeks artikels deur Karlsson en Johan Greeff  –  voorheen van Suid-Afrika  –  getuig.  Na (uit geheue) ongeveer 15-20 jaar van seleksie van ramme op sterkte van wurmeiertellings in die mis van die diere, is dit onder toestande van baie ernstige nie-bloedsuiende wurmdaging in die streek, prakties gesproke gladnie meer nodig om die skape in die Rylington stoetery teen wurms te doseer nie  –  dit terwyl dit in die hele streek noodsaaklik is om as roetine te doseer om ernstige produksieverliese te voorkom.  Die proses van seleksie van die ramme duur egter wel voort.

 .

6.  Nieu-Seelanders het onlangs genetiese merkers identifiseer wat dit glo moontlik maak om deur ontleding van die speeksel van skape te peil of hul wurms sal kan weerstaan. Tot watter  mate dit in die praktyk, vergeleke met seleksie op wurmeiertellings, doeltreffend sal wees, sal egter nog gesien moet word.

 

7.  In die geval van haarwurmbesmetting is alle aanduidings vanuit resultate van die FAMACHA metode van dr. Faffa en andere dat die oorerflikheid van die skaap se vermoë om ontwikkeling van erge bloedarmoede te ontwikkel, min of meer in dieselfde koers as wat die met wurmeiertelling is, dus met vooruitsigte van dieselfde tipe resultate as by die Rylington stoet van Australië. Daar is weliswaar nog min op haarwurmgebied gedoen, maar na toetsing in 1600 lammers oor 6 jaar op mnr. Johann Buhrmann se plaas van destyds (by Sheepmoor) was die oorerflikheid van die vermoë om in die teenwoordigheid van strawwe haarwurmdaging (gemeet deur kliniese klassifikasie aan hand van die FAMACHA stelsel) nie bloedarmoedig te raak nie, ook in die buurt van 30%.  Daarby het dr. Ariena Shepherd ‘n geval onder my aandag gebring van ‘n boer wat oor die afgelope 10 jaar elke skaap uitgeskot het wat aan die hand van FAMACHA evaluering nie daartoe in staat was om sonder dosering haarwurmdaging te weerstaan nie en gevolglik ontwurm moes word. Tans het die boer reeds die stadium bereik waar slegs 8 ooie en 9 jong ooie uit 350 oor die 2012/13 haarwurmseisoen behandel en uitskot moes word. Daarby was die diere se produksiesyfers oor die afgelope vyf jaar indrukwekkend, met ‘n gemiddeld van 98,5% ooie gelam, met 160% lampersentasie en 148% speenpersentasie. En dit ten spyte van ‘n gemiddelde wurmeiertelling van 5000 per gram mis op die piek van gemelde seisoen, ‘n syfer wat relatief hoog is, omdat verwag kan word dat van die diere onder daardie omstandighede tellings tot veelvoude hiervan sou hê.  Met andere woorde, in beide van bogemelde gevalle (seleksie op wurmeiertelling aan die een kant of bloedarmoede aan die ander) is dit wel moontlik en onder sekere omstandighede ook prakties om skape te teel wat sonder behandeling goed kan produseer.

 

8.  Proefresultate toon algaande dat die produksie van skape en bokke wat aan die FAMACHA stelsel vir haarwurmbeheer onderwerp word, min teen ander afsteek wat selfs maandeliks gedoseer word, ‘n praktyk wat totaal onvolhoubaar is omdat maandelikse dosering straf vir weerstand van die wurms teen die middels selekteer.

 

9.  Myns insiens is die FAMACHA-metode weens relatiewe hoë arbeidsinsette wat benodig word,  nog nie prakties genoeg vir gebruik by veegetalle groter as ‘n paar honderd nie. Dus word al my navorsing tans, met die onmisbare hulp van BBSRC/DIFD/Skotse Regering en lokale fondse van RMRD-SA, Cape Wools en THRIP (van NRF), daarop toegespits om die arbeidskomponent op allerlei wyses drasties te verlaag.

 

Ten slotte  –  J.F. Michel, ‘n vooraanstaande navorser van ‘n paar dekades gelede in die Verenigde Koninkryk, het in die 1980’s in die lig van juis die aanpasbaarheid van die wurms, die stelling gemaak dat geen metode van beheer van ons algemene interne parasietsoorte ontwikkel sou kon word, wat vir alle tye volhoubaar sou kon wees nie en hiermee stem ek volkome saam. Dus het prof. Erasmus heel moontlik in hierdie opsig absoluut gelyk. Maar, ons het mettertyd metodes ontwikkel wat dit vir die boer op plaasvlak moontlik maak om tot groot mate self deurlopend sy diere klinies veral vir haarwurm (by verre ons belangrikste wurmsoort by skape en bokke) te kan evalueer en selekteer, dus ‘n deurlopende sisteem van seleksie om voortdurend ‘n kortkop voor die wurm te probeer bly. Slegs die tyd sal egter moet toon of ons daarmee in die wedren teen die vermoë van die wurms om mettertyd hul gashere se weerstand te kan ontduik, sal kan volhou  – die verlede het geleer dat die lewenskragtigheid van ons parasitiese wurmpies geensins onderskat moet word nie. Op die ou end, soos bykans elke helmintoloog sedertdien (ekself en selfs dr. H.O. Mönnig inkluis), het Sir Arnold Theiler reeds in 1918 die stelling gemaak dat deur diere met die “Government Wireworm Remedy” (arseen en kopersulfaat) van destyds te doseer en na weiding te verskuif, wat minstens ‘n jaar vry van skape was, die wurm uitgeroei sou word  –  iets wat sedertdien selfs met behulp van die uiters doeltreffende en veilige wurmmiddels van vandag tot ons beskikking, prakties onbetwisbaar as wensdenkery bewys is; binne minder as 4 jaar na internasionale loodsing van die twee onverwante nuwe wurmmiddels is verslae van weerstand byvoorbeeld, soos met al ons ander wurmmiddels wat langer op die mark is, reeds besig om te verskyn.

 

Geskryf deur: dr. Jan van Wyk, Departement Veterinêre Tropiese Siektes, Onderstepoort Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit Pretoria (Jan.VanWyk@up.ac.za)

 

27 Desember 2013


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X