Vra vir Faffa

Swelsels onder die oor in kalwers

Vraag

Ek het die afgelope week 'n hele paar Ngunikalwers gekry wat begin het met swellings onder die oor aan die kant van die gesig. By een kalf is dit reeds so groot soos ± 3 tennisballe. Die swelling voel kliphard en die kalwers kom nie siek voor nie.

Antwoord

Die swelsels word heelwaarskynlik veroorsaak deur absesvorming in die limfknoop wat onder die oor gele? is. Wat waarskynlik gebeur is dat bakterie? (moontlik Arcanobacterium (Corynebacterium) pyogenes) die kalf deur die bek binnedring. Die tandvleise is baie sag en as hulle harde grasse of sade kou, kan die kieme die wondjies binnedring. Kalwers wissel ook tande, met gevolglike wondjies wat ontwikkel waar kieme die bek dan kan binnedring. Maak ook seker dat die bruinoorbosluise onder beheer is want die wonde wat hulle veroorsaak  is ook ‘n ideale plek vir kieme om die ore binne te dring. Die kieme beweeg dan met die limfsisteem na die limfknope wat onder die oor geleë is en daar vermeerder met gevolglike absessasie.

Indien daar ‘n erge uitbreek is, moet ‘n veearts onder aseptiese toestande ‘n naald in die swelsel  steek en dan kan die etter weggestuur word om daarvan ‘n outogene entstof te maak.
Indien die absesse ryp is (sag), kan die absesse gelanseer word en met ‘n ontsmettingsmiddel uitgespoel word. Dit is baie belangrik dat die vloeistof opgevang en verbrand word en ander diere nie daarmee in aanraking kom nie. Die diere kan dan ook met ‘n kursus antibiotika behandel word. Daar is ook ‘n aantal senuwees in die gebied en ek sal aanbeveel dat u veearts u wys hoe die absesse gelanseer en behandel moet word.
 
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartkonsultant.
 
Bron: Inligting verskaf deur dr. Maryke Henton, Golden Vet. Lab
 
Lees ook:
         Vrae oor Corynebacterium
         Is swelsel aan kalf Corynebacterium?
         Swere en siste
 
12 Januarie 2010

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X