Vra vir Faffa

Swelsel onder keel van skape

Vraag

Ek is 'n jong boer in Calvinia area en sit met 'n probleem. Ek het lammerooie twee weke terug op lusernkamp gesit en nou vind ek ooie met geswelde kele en slymerige bekke. Kan ook voel dat ooie koors het. Kan u my raad gee asb.

Antwoord

‘n Swelsel onder die keel van skape dui meestal op ‘n proteïentekort wat veroorsaak kan word deur onder andere haarwurm, haakwurm en lewerslak. Dit gaan ook gepaard met bloedarmoede. Bloedarmoede of ‘n proteïentekort kan ook deur ‘n koper- en ystertekort (soms ook deur ‘n Vitamien B12-tekort) of ‘n kombinasie van die tekorte veroorsaak word, wat ook tot hierdie swelsel aanleiding kan gee. ‘n Ystertekort kom egter selde voor. Koper, yster en Vitamien B12 is verantwoordelik vir die vorming van hemaglobien (is ‘n bloedproteïen) in die bloed. ‘n Tekort aan hemaglobien veroorsaak die swelsel onder die keel (kwakkeel).

 
Sekere interne parasiete (bv. haarwurms en haakwurms) is aktiewe bloedsuiers wat tot ernstige bloedverlies ly. Feitlik alle inwendige parasiete beskadig die slymvlieslaag van die melkpens of die dermkanaal, na gelang waar hulle voorkom. Wanneer die aanvanklike bloeding gestop het, ontsnap die bloedplasma met belangrike bloedproteïene nog steeds uit die beskadigde weefsel en ‘n tekort ontstaan spoedig. Wanneer die plasmaproteïen deur ‘n beskadigde slymvlies in die dermkanaal lek, ontstaan uiteindelik tekorte omdat meer verlore gaan as wat herabsorbeer en hervervaardig kan word. Die bloedplasma verloor sy osmotiese druk en edeemagtige swelsels (ook onder die kakebeen) ontwikkel (De Wet & Bath, 1991).
 
Indien diere met ‘n vuil naald agter die oor en veral met sekere entstowwe gespuit word, kan dit veroorsaak dat die oor en keel swel.
 
Daar moet seker gemaak word dat lammerooie voldoende deurvloeiproteïen inneem omdat lusernweiding se proteïen hoogs degradeerbaar (breek in die grootpens) is en daarom moet hierdie klas diere ‘n deurvloeiproteïenlek (250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 200 kg gemaalde mielies + 50 kg sout) teen 300 tot 500 g/ooi/dag gevoer word. Die inname van ‘n hoë vlak van deurvloeiproteïen verminder die impak wat parasietbesmetting op die produktiwiteit van diere het deurdat dit die immunologiese weerstand van diere veral tydens tye van stres (bv. paring, laatdragtigheid, lam-, en speentyd, ensovoorts) verhoog.
 
Proteïen- en spoorelementtekort veroorsaak nie koors nie. Om die probleem te diagnoseer, moet ‘n skaap vir post mortem na ‘n veearts geneem word veral vanjaar waar Slenkdalkoors oor ‘n wye gebied voorkom. ‘n Volledige spoorelementontleding moet ook op die lewer gedoen word.
 
Van tyd tot tyd het skape ‘n harde swelsel onder die keel enkele dae nadat hulle gedoseer is. Dit gebeur omdat die vloergedeelte van die mond beskadig is waar te "rof" met die diere tydens dosering gewerk is wat dan tot ‘n ontsteking en gevolglike harde swelsel aanleiding gee.
 
Geskryf deur dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
Lees ook:
 
 
 
 
 
 
 
 
 
     Wurmbeheer
 
 
 
 
 
  
 
 
21 Mei 2010
 
 

Kommentaar

Een kommentaar op “Swelsel onder keel van skape

  1. elma
    elma

    Kan die haarwurm wat die swelsel onder die keel veroorsaak ook dan die skaap se longe aantas? 2 van my lammers was gedoseer en als en net knop onder die keel gekry en swaar asem gehaal is later dood al het ons hulle gespuit. Is dit haarwurm of longe? (hulle loop op aangeplante weidings wat besproei word)


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X