Vra vir Faffa

Stywesiekte by perdevul?

Vraag

Kan perdevullens van 2 maande oud ook stywesiekte kry?

Antwoord

Vraag:
Kan perdevullens van 2 maande oud ook stywesiekte kry? Die vul was die vorige aand nog springlewendig, maar het die volgende oggend opgetree soos ‘n vul wat stywesiekte het. Wat kan ek doen? – Frik Strauss (strauss@kaigarib.co.za)

Antwoord:
As ‘n mens dink aan Drie-Dae-Stywesiekte en Stywesiekte weens ‘n fosfaattekort in beeste, dan is die antwoord: Nee.

Daar is wel ‘n paar toestande wat ‘n vul styf kan laat voorkom:
 

  • Die eerste toestand waaraan ‘n mens dink as so iets gebeur, is dat die vul ‘n besering opgedoen het. Laat die vul rus en bespreek die toestand met u veearts. Pynstillers, asook middels wat die toestand kan verbeter, kan voorgeskryf word.
     
  • Vlekspiersiekte moet altyd in gedagte gehou word waar vullens tekens van spierstyfheid toon. Ferm, pynlike agterkwarte en nekspiere word opgemerk. Spiere verswak, is styf en bewerasie word gesien. Die vul gaan lê ook. Longontsteking ontwikkel en die dood kan intree as die hartspier aangetas word. Hierdie siekte kom voor waar daar ‘n selenium en/ of ‘n vitamien E tekort is. Die merrie kan ‘n tekort in haar melk hê en daardeur onstaan ‘n tekort in die vul. U veearts kan toetse doen en kan die vul behandel deur selenium en vitamien E toe te dien. Indien so ‘n toestand gediagnoseer word, moet ander perde op die plaas ook voorkomend behandel word.
     
  • Ontsteking van spiere en gewrigte wat deur bakterieë veroorsaak word, moet ook altyd as moontlike oorsaak van styfheid in gedagte gehou word. U veearts sal met so ‘n diagnose kan help.
     
  • Klem-in-die-kaak wat deur ‘n bakterie Clostridium tetani veroorsaak word, begin ook met ‘n spiersyfheid. Dragtige merries moet voorkomend ingeënt word sodat die vul deur die teenliggame in die biesmelk beskerm kan word.
     
  • As die perdjie skielik te veel rondgehardloop het, mag spierstyfheid ook ontstaan. Pynstillers kan deur u veearts gegee word.

    Ons stel voor dat u veearts gekontak word om ‘n korrekte diagnose te maak as die perd nie gou verbeter nie.

     

  • Geskryf deur drs. Faffa Malan en Carolyn Chelchinskey van Intervet en dr. Cynthia Donellan van Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.

    22 Mei 2007


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X