Vra vir Faffa

Stywe heupe by beeste

Vraag

Ons het swart Angus koeie wat nou besig is om te kalf. ‘n Probleem het al lank voor die kalfseisoen ontstaan. Die koeie se een heup begin hang soos asof sy lam is, dit raak erger en hulle word nie beter nie. Kan dit ’n vorm van osteoperose wees of kan dit dalk wees dat hulle in molsgate trap,want die kamp waar hulle gevoer word, het baie molsgate. Daar is 7 koeie uit ‘n trop van 120 wat die probleem het.

Antwoord

Daar is ‘n paar dinge wat kan aanleiding gee tot die tekens wat jy by jou beeste sien! Ongelukkig is jou beskrywing te vaag om met sekerheid ‘n diagnose te maak. Jy sal ‘n veearts moet vra om ‘n paar van die geaffekteerde diere, asook die kudde te besoek om jou te help. Dit is nie ‘n eenvoudige ja of nee antwoord wat aan jou verskaf kan word nie, maar hopelik kan dit wat volg ‘n denkproses aan die gang sit!

·         Is dit meestal verse, ouer koeie of beide groepe wat geaffekteer word? Slegs die vraag kan jou help om moontlike onderskeid te maak tussen toestande.
·         As dit verse is, hoe swaar is die bul wat jy gebruik? Ontwrigting van die sakro-iliese of heupgewrigte kan ‘n oorsaak wees as die bul te swaar is vir die verse.
·         Kom die verse van dieselfde vader (genetiese poel)? ‘n Abnormale konformasie en toestande soos heupdisplasie is grootliks geneties. Met beide hierdie toestande is die heupe meer geneig om probleme te ontwikkel. Daarna is daar nog vele faktore wat in gedagte gehou moet word.
·         Osteoartrose is ‘n groot moontlikheid en hierdie is ‘n toestand wat deur verskeie faktore veroorsaak kan word. Voeding met ‘n tekort aan fosfaat, of mineraalwanbalanse mag ‘n oorsaak wees, terwyl sekere mineraalwanbalanse ook tot senuweetoestande kan lei.
·          Trauma tot die heup kan ook aanleiding gee tot osteoartrose en dit is moontlik dat die chroniese trauma wat die beeste ervaar deur in die molsgate te trap die oorsaak kan wees.
·         Dit mag wees dat daar geen onderliggende probleem is met die gewrig nie, maar dat die fisiologiese veranderinge rondom dragtigheid tesame met ander faktore tot die abnormaliteit mag lei. Onthou egter ook dat ‘n mankheid in die heup moeilik is om te onderskei van ‘n mankheid in enige van die ander gewrigte van die agterbeen, daarom dat dit raadsaam sal wees om die veearts in te roep vir professionele advies.
 
Geskryf deur: Kobus Hoffman, BVSc IIIen Dr Dietmar Holm BVSc, MSc(Vet), Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria (dietmar.holm@up.ac.za)
 
26 April 2011

Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X