Vra vir Faffa

Stop Brusellose!

Vraag

Hoe raak ‘n kudde besmet met brusellose en hoe gaan ek te werk om my kudde skoon te kry?

Antwoord

STOP BRUSELLOSE!

Ek is deur my plaaslike veearts en dr. Faffa Malan gevra om ons storie te skryf oor brusellose en hoe die siekte ons boerdery raak. Om die volle verhaal beter te verstaan, wil ek meer inligting oor ons boerderyopset gee.

Ek begin in 2012  as plaasbestuurder  werk en die bestuur van die stoetbeeste, ‘n klein kudde van 40 koeie, val onder my. Die vrugbaarheid van die kudde was baie laag en die kudde is voorheen swak bestuur. Die plaaslike veearts, wat bekend is met die kudde, het die afgelope 4 jaar saam gewerk om die kudde op ‘n hoër produksievlak te bring.

Die kudde is en was altyd skoon van brusellose en alle vroulike diere is elke jaar ingeënt met RB51 entstof.

Die eienaar het ook ‘n kommersiële kudde besit, wat onder ‘n ander plaasbestuurder geval het.  Die kudde was op ‘n ander plaas ongeveer 60 kilometer van die stoetkudde af.  Die kudde was ook nie baie groot nie en het bestaan uit ongeveer 80 koeie.  In die kudde was daar positiewe brusellosediere nadat hulle getoets is in 2011 en die Staatsveearts van die area het beheer geneem oor die kudde.  Alle positiewe beeste was onmiddellik geslag.  Die toetse moes elke 2 maande herhaal word totdat die kudde twee negatiewe toetsuitslae na mekaar verkry het.  Die toetse was egter nooit elke 2 maande deur die Saatsveearts gedoen nie en die uitkoms hiervan was dat die kudde eers skoon verklaar is in 2015, amper 4 jaar later.

In 2015 is daar besluit dat die plaas waarop die stoet is, verkoop word en dat al die beeste  geskuif word na die kommersiële plaas,  wat ‘n baie groter plaas is.  Daar word ook  besluit dat dit die regte tyd sou wees om ekstra kommersiële teeldiere in te koop weens die droogte, wat lae pryse van vee tot gevolg gehad het.

Die eienaar stel  ‘n nuwe hoofbestuurder aan om al die aankope van vee te doen.  Oor ‘n kort periode groei die kommersiële kudde aan tot 460 vroulike diere.  Voordat die beeste ingekoop is, is besluit dat alle beeste  eers skoon getoets moes wees vir brusellose.

Die hoofbestuurder bly toe nie by dit wat besluit is nie en koop beeste van orals af in en sê net dat die beeste getoets is,  maar geen sertifikate word as bewys gelewer nie.  Daar moet bygevoeg word dat die vee wat ingekoop is, sigbaar gesond en in ‘n puik kondisie was.

Die hoofbestuurder verlaat  die boerdery in 2016.  Gedurende die tyd was die plaas waarop die stoetdiere was, nog nie verkoop nie en my kollega op die ander plaas neem toe beheer van die kommersiële kudde vir die volgende jaar oor.

Die stoetplaas word in Desember 2016 verkoop.  Voordat  die stoet verskuif word, dring ek daarop aan dat die stoetbeeste vir brusellose getoets moet word.  Al die stoetvee toets skoon en daar word besluit om hulle te skuif na die kommersiële plaas.  Die stoet was van die begin af eenkant gehou waar die kommersiële beeste nie met hulle kon meng nie.  Die stoet is nou ongeveer 10 maande op die ander plaas en die volgende brusellosetoets vir die kudde is geskeduleer vir Oktober 2017.  As daar dan positiewe diere is, moes die brusellosebakterie deur ander positiewe beeste vanaf buurplase ingebring gewees het.

Einde Februarie 2017 is die besluit geneem  dat  die kommersiële kudde ook onder my bestuur sal val aangesien  my kollega die saaiery onder sy bestuur neem.

Die dekseisoen is 3 maande (Desember tot Februarie) en weer gedurende Junie tot Augustus.  Dragtigheidondersoeke word ongeveer 6 weke nadat die bulle uit die kudde geneem is, uitgevoer.  Met die eerste dragtigheidondersoek op die kommersiële plaas vra ek die veearts om ook 50 beeste te toets vir brusellose aangesien daar al voorheen probleme met brusellose op die plaas was.

Op die 4de Mei 2017 word daar dragtigheidondersoeke gedoen en die veearts neem bloedmonsters van vyftig vroulike diere.  Nou vir die groot gewag vir uitslae vanaf die laboratorium.

Op die 28ste Mei 2017 word die uitslag ontvang:  Uit die vyftig koeie wat getoets is, het 2 beeste positief getoets vir brusellose.

Die positiewe beeste word met ‘n C brandmerk gebrand en na ‘n goedgekeurde abattoir vir slagting vervoer.  Die positiewe beeste mag nie saam met ander beeste geslag word nie. Die werkers dra beskermende klere en die abattoir moet na slagting gesteriliseer word. Omdat dit so ‘n groot proses is, val die prys per kg wat die abattoir vir die karkasse  betaal.  Dit is hartseer want van die beeste was al swaar dragtig en finansiële verliese word gely.

Ek skakel ons veearts en maak dadelik ‘n afspraak  om al die vroulike diere te toets.  ‘n Groot bekommernis is dat die dekseisoen in Junie ‘n aanvang neem.  Saam met ons veearts besluit ons dat die bulle  ook getoets moet word en dat die dekseisoen normalerwys moet voortgaan.  Die finansiële verlies sal te groot wees om te wag totdat al die vroulike diere skoon verklaar is.  Ons veearts gee ons ook gemoedsrus deur die feit dat manlike diere nie so maklik met die brusellosebakterie besmet raak en koeie besmet nie. Die toetsdatum word vasgemaak vir die 12de Junie 2017.

Op die bestemde datum word al die vroulike diere asook teelbulle getoets.  Ek vra ons veearts uit oor wat met die verse moet gebeur.  Hy sê dat verse nie nou getoets word nie, maar eers nadat hulle gekalf het.  Die versgroep wat bulgereed is, is al 3 keer met die entstof RB51 ingeënt en ons sal hulle laat toets na  eerste kalwing.

Die uitslae is beskikbaar op die 23ste Junie 2017.  Al die teelbulle toets negatief,  tot my verbasing ook een van die bulle wat al reeds vir 5 jaar in die kudde gebruik is.  Van die vroulike diere toets daar 17 positief uit 375 koeie. Weereens word die positiewe diere, wat swaar dragtige koeie insluit, geslag.

Die volgende toetsdatum is  die 7de Augustus 2017 en die groot vraag is, sal ons skoon toets of is daar weer positiewe koeie?

Ons ontvang ons uitslae  2 weke later en daar is weer 5 positiewe koeie. Ons knyp maar weer eens ons oë toe en laat slag swaar dragtige koeie en al hulle nageslag wat nog op die plaas is.

Ons volgende toetsdatum is die 11de Oktober 2017 en ons voel positief dat die toets die eerste een sal wees waar al die koeie negatief is.  Soos ek verstaan, sal ons daarna nog twee keer die hele kudde moet laat toets en as al die diere negatief is, sal die kudde skoon verklaar word.  Ons moet dan ook nog onthou dat al die verse wat vir die eerste keer gekalf het, getoets moet word om te verseker dat die brusellosebakterie nie weer in die koeigroepe ingebring word nie.

Die besmetting laat produksie vinnig val.  Die beplanning is om die kuddegetal in 2018  na 500 koeie op te stoot. Die getal is nou te min want teelkoeie word geslag waarvoor daar nie beplan was nie.  Die enigste uitweg om nou by die getal teelkoeie uit te kom in 2018 is om nog teelkoeie in te koop. Daar sal baie seker gemaak word dat die koeie negatief toets uit ‘n kudde wat  brusellose negatief is (Sien die verkopersverklaring wat onderaan aangeheg is)

Die groot vraag is: Hoe het die brusellosebesmetting in die kudde ingekom?

Daar is vele moontlikhede en ‘n paar word hier genoem.

  • Beeste wat ingekoop is sonder sertifikate wat ‘n veearts afgeteken het en wat bevestig dat hulle skoon getoets is.
  • Verse wat gekalf het, maar nooit na kalwing vir brusellose getoets is nie. Dit kon afgelei word deurdat baie van die koeie, wat positief getoets het, tweede kalf koeie is wat op die plaas gebore is.
  • Kom die besmetting van buurplase af in….. ons het gemeenskaplike beeste wat naby ons is. Ons is bewus daarvan dat dit moontlik is dat vlieë, wat op ‘n besmette nageboorte sit, die bakterieë kan oordra na die oogslymvlies van ander vee.

Hoe neem jy  beheer oor om te voorkom dat die  brusellosekiem jou finansieel uitroei?

Koop vee in wat getoets is en wat negatief verklaar is deur ‘n veearts.  Moet nie net die woord van die verkoper aanvaar nie, maar dring aan op ‘n getekende sertifikaat wat deur ‘n veearts afgeteken is en maak ook seker van hoe lank terug dit was.  Help glad nie dat die beeste wat jy koop al ‘n jaar terug getoets is nie.

Baie, baie belangrik,  maak RB51 en S19 deel van jou inentingsprogram.  Dit is die enigste manier waarop ons die brusellosekiem onder beheer kan kry in ons mooi land Suid-Afrika.

Dit is enige trotse veeboer se verantwoordelikheid om te sorg dat sy of haar vee gesond is.

Geskryf deur ‘n anonieme boer en dr. Johan Wessels, veearts van Parys (vet@parys.co.za)

23 Oktober 2017

Vir verdere inligting oor brusellose gaan na die volgende skakel:

http://nahf.co.za/category/diseases/brucellosis/

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X