Vra vir Faffa

Spuitprogram vir kwepers en perskes

Vraag

Ek is moeg daarvoor dat my perkes en kwepers jaar na jaar besmet is met wurms wanneer hulle ryp word. Is daar iemand wat vir my met 'n gedetailleerde spuitprogram kan help? Groete, Louis du Pisani

Antwoord

Spuitprogram vir kwepers en perskes

U gee ongelukkig nie ‘n beskrywing van die wurms nie, dus is dit moeilik, veral in die geval van perskes om ‘n spesifieke beheerprogram voor te stel.
In die geval van kwepers is daar net twee moontlike kandidate, die Amerikaanse bolwurm (Helicoverpa armigera) of een van die vrugtevliegsoorte. Die bolwurmwyfie lê haar eiers op die blare en wanneer die larwes uitbroei, vreet hulle gate in die vrugte. Eerste instar larfies is donker, amper swart van kleur, maar soos hulle groei verander die kleur na bruin of groen of selfs pienk. Die onderkant is altyd vuilgrys en daar is ook ‘n lig grys streep langs elke sy. 
Enige middel wat sipermetrien bevat ( daar is ‘n groot aantal op die mark wat geskik is vir huistuine) sal effektief wees. Die hele boom word wanneer blomvorming begin, bespuit . Middels met deltametrien as aktiewe bestanddeel is ook geregistreer vir huishoudelike gebruik.
Die ander probleem kan een van die vele vrugtevliegspesies wees. Die volwasse vlieë is groter as die gewone huisvlieg en is gewoonlik helder gekleurd. Wanneer hulle op die plante sit, word die gespikkelde vlerke sywaarts gehou. Die wyfies het ‘n sterk eierboor waardeur hulle die eiers binne-in die vrugte lê. Die larwes vreet dan tonnels binne-in die vrugte wat tot verrotting kan lei. Daar is gewoonlik nie duidelike tekens aan die buitekant van die vrugte  sigbaar nie, behalwe as die steekwond besmet raak. In so ‘n geval is klein swart gaatjies op die skil sigbaar. Die larwes is klein en wit- of roomkleurig met ‘n donker kop.    
Middels wat gebruik kan word, sluit die wat sipermetrien, dimetoaat of fention bevat, in. Volboom bespuiting moet elke 14 dae vanaf agt weke voor die vrugte gepluk gaan word, gedoen word.
U sê nie of u in ‘n winter of somerreënval area bly nie, maar die nodige inligting sal duidelik op die houers aangebring wees.
Daar is heelwat meer plae wat perskes aanval.
Amerikaanse bolwurm kom algemeen ook op perskes voor (hierdie insek val ‘n baie wye reeks plante aan). Beheer is soos beskryf in die geval van kwepers.
Volgende op die lys is die kodlingmot (Cydia pomonella). Soos in die geval van die bolwurm, lê die wyfie die eiers op die blare en wanneer hulle uitbroei, boor die larfies kenmerkende tonnels in die vrugte. Die tonnels bevat bruin, krummelagtige uitskeidings wat na buite uitgestoot word. Die larwes is pienk van kleur met ‘n bruin kop.
Die vals kodlingmot  ( Cryptophlebia leucotreta) se larwes lyk amper soos die kodlingmotlarwes behalwe dat hulle effens ligter van kleur is. Die skade wat hulle aanrig, is dieselfde as die van die kodlingmot.
Vrugtevlieë is ook ‘n groot problem op perskes. Die manier waarop die skade aangerig word, is dieselfde as wat beskryf is vir kwepers.
Beheer van hierdie perskeplae is ook soos vir die kweperplae.
Om vrugtebome in tuine te beskerm teen hierdie insekte is nie maklik nie. As daar onbehandelde bome in die omgewing is, sal hulle ‘n bron van infestasie wees. Besmette vrugte wat afval, moet verwyder word want die larwes sal hulle lewensiklus voltooi en ‘n herbesmetting begin. Vrugte wat laat in die seisoen besmet word, dien as ‘n oorwinteringsbeskutting as hulle nie vernietig word nie.
Dit is baie belangrik om die gebruiksaanwysings van die insektemiddels noukeurig na te volg, nie net omdat hulle giftig is nie, maar ook om te verseker dat die beste resultate verkry word.  
Geskryf deur: dr. Victor Whitlock, Landboukonsultant (whitlockv@yahoo.com)
28 Maart 2010   

Kommentaar

Kommentaar (7) “Spuitprogram vir kwepers en perskes

  1. Shireen
    Shireen

    Ek het presies dieselfde probleem met my peerbome. Ons is in die Boland, as dit enigsins help.

    Dankie en Groete

  2. Olivia
    Olivia

    My perskes ontwikel nie grooter as n 50c stiuk aan die my bome nie, dit is Kakamas perskes, wat kan die rede wees asb?

  3. Fanman
    Fanman

    Inligting dui aan dat volboom bespuiting elke 14 dae gedoen moet word, 8 weke voor vrugte gepluk word. Nou dis waar my probleem lê. Wanneer is 8 weke voor pluktyd ? Kry nêrens inligting wat aandui hoe lank dit neem vir taaipit perskes om ryp te word nie, of wanneer pluktyd is nie. Help asb !
    fanvil7@gmail.com

    • Jan Bezuidenhout

      Fanman,
      Kontak Hortgro vir die korrekte inligting: http://www.hortgro.co.za/
      Groete

  4. Daniel Van deVelde
    Daniel Van deVelde

    ons vye boom se vrugte is half ryp [groen] en vrugte beginafval met wurms binne in wat nou kan ons nog doen ons dit te stop
    groete
    Daniel

    • Jan Bezuidenhout

      Daniel, ons het nie ‘n tuinboukundige om raad by te vra nie: Kontak asb. jou naaste kwekery.
      Groete en sterkte

  5. TJ van Rensburg
    TJ van Rensburg

    As ek reg onthou het my ma ons perskebome met blom van swael gespuit.
    Maar kan nie onthou hoe sy dit gemeng het nie.
    Onthou ek reg? of was dit iets anders met die selfde reuk.
    ek weet as jy die poeier op brandende kole gegooi het het baie ge rook en jy moes vlug
    om asem te kry. help my asb. kan ek dit gebruik vir bespuiting?
    regie@olivelife.co.za


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X