Vra vir Faffa

Sponssiekte-vrektes – werk entstowwe nog?

Vraag

'n Leser vra of enstowwe vir sponssiekte werk en een van ons kundiges help.

Antwoord

Vraag:
My plaas is besmet met Clostridium bakterieë, spesifiek sponssiekte. Ek het my beeste ses keer ingeënt met Onderstepoort se gasgangreenkompleks-entstof en het derduisende rande verloor. Daarna het ek oorgeslaan na Ultrachoice 7 en dit het baie beter gegaan vir ongeveer twee jaar, maar nou vrek hulle weer. Ek het nou oorgeslaan na ‘n Intervet-produk en die vrektes het weer gestop. Ek het by my plaaslike veearts gehoor dat ander boere dieselfde probleme opgetel het met Ultrachoice. Het u enige raad as vrektes weer met ‘n produk gebeur en kan my diere weerstand opbou? Is Ultrachoice se 2cc nie te min teenoor 5cc om immuniteit te verskaf nie? Baie dankie, ek sien uit na raad. – J E Scott (pcscott@intekom.co.za)

Antwoord
Clostridium spesies

Sponssiekte word deur ‘n verskeidenheid Clostridium-kieme veroorsaak, hoofsaaklik drie – Clostridium chauvoei, Clostridium novyi en Clostridium septicum. Clostridium sordellii kom minder algemeen voor en van die baie ander Clostridium-spesies is C. perfringens ook taamlik algemeen.

Clostridium novyi, wat dikkopsponssiekte veroorsaak, kom as A- en B-stamme voor. Alhoewel daar min wesentlike verskille tussen die A en B stamme is, blyk dit ongelukkig dat daar geen kruisbeskerming tussen die A en B stamme voorkom nie en as C. novyi gediagnoseer word, behoort daar vir albei stamme geënt te word.

Daar is ‘n groot verskeidenheid sponssiekte entstowwe beskikbaar, maar daar is ongelukkig geen enkele entstof wat al die algemene sponssiekte Clostridium-stamme bevat nie. Dit is dus noodsaaklik dat die spesifieke stam op ‘n plaas gediagnoseer word. Die vinnigste en goedkoopste manier om die stam te identifiseer, is deur smeerondersoeke. Twee of drie glasplaatjies word teen die aangetasde spier, wat ingesny is, gedruk en toegelaat om droog te word.

Die beste plek om smere te neem, is van die rand van die letsel, nie van die middel van die letsel nie, waar dit moontlik al uitgedroog het. Diagnostiese laboratoriums kan dan vasstel of die kieme C. chauvoei, C. novyi, C. septicum of C. sordellii is. Die smeerondersoek kan nie tussen C. novyi A en B onderskei nie, en kan ook nie die meer seldsame oorsake van sponssiekte diagnoseer nie. In daardie gevalle moet kwekings gedoen word. Wanneer u presies weet watter Clostridium die oorsaak is, kan ‘n doeltreffende entstof gekies word.

Die beskikbare entstowwe beskerm wel goed teen die stamme wat in hulle ingesluit is. Onderstepoort se gasgangreen-entstof bevat drie stamme, nl. C. chauvoei, C. novyi A en C. septicum. Entstowwe soos Multiclos, Siteguard en Ultrachoice 7 bevat onder meer C. chauvoei, C. novyi B, C. septicum, C. sordellii en die belangrike stamme van C. perfringens. U sal opmerk dat geen enkele entstof beide C. novyi A en B bevat nie.

Indien C. novyi gediagnoseer is, hoort beide die Onderstepoort en een van die ander entstowwe wat tipe B bevat, geënt te word. Die entstowwe moet almal twee maal toegedien word, vier tot ses weke uitmekaar.

Entstowwe word in verskillende konsentrasies voorberei en die entstowwe met kleiner dosisse is net meer gekonsentreerd as die ander, maar albei is ewe doeltreffend teen die aanbevole dosis.

Clostridium kom wyd verspreid in die omgewing voor en kom ook normaal in die dermkanaal voor. Die stam wat siekte op ‘n plaas veroorsaak, kan van tyd tot tyd verander. As gevalle in geënte diere voorkom, hoort die smeertoets weer gedoen te word om die nuwe stam vas te stel. Entstowwe wat die regte Clostridium stam vir u plaas bevat, is baie doeltreffend en daar is selde sprake van entstofmislukking met Clostridium-entstowwe.

 

  • Geskryf deur: Dr. Marijke Henton, Golden Vetlab, (maryke2goldenvetlab.co.za)2 Junie 2009

Kommentaar

Kommentaar (2) “Sponssiekte-vrektes – werk entstowwe nog?

  1. Tanja
    Tanja

    Goei middag

    Ek het n vra oor sponssiek.
    wil hoor of voeding n invloed het op beeste omdat dit in die dermkanaar voorkom kan voeding soos mielies dit verhoog of mielie reste die prosse vinniger maak. Hoelank vat die kiem om die dier dood te maak is daar soos diere wat draers is van die kiem?

    vandat die bees die

    • Corli van der Merwe
      Corli van der Merwe

      Hallo Tanja. Ek stuur jou navraag aan Dok Faffa, hy sal jou hopelik kan help. Groete, Corli van der Merwe.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X