Vra vir Faffa

Sonneblomkaf met kankerroos besmet

Vraag

Ek het sonneblomkaf bekom wat vol kankerroos (Xanthium strumarium) sade is en ek verstaan dat hierdie sade giftig is. Ek wil weet of daar 'n manier is om hierdie kaf as veevoer te gebruik.

Antwoord

Kankerroos (Xanthium strumarium) en Boetebossie (Xanthium spinosum) behoort beide aan die Xanthium-spesie. Hulle is giftige plante met talryke klein vrugte (sade) met klitsdorings wat maklik in wol of bokhaar vashaak. Wol en bokhaar wat met hierdie onkruide se saad besmet is, word baie erg op grond van prys gepenaliseer omdat dit ‘n baie duur proses is om dit verwyder. Boetebossie is geproklameer vir verpligte uitroeiing. Spanne arbeiders is destyds gebruik om boetebos en kankerrroos langs die Olifants-, Elands-, Middel-Letaba-, Levubu-, Steelpoort- en Selonsrivier in die Transvaalse bosveld te bestry.

Daar is nie ‘n manier hoe hierdie besmette kaf as veevoer gebruik kan word nie. Met die maal van die kaf is die kanse goed dat van die sade gebreek of beskadig is en kom die gifstof vry. Volgens dr. Faffa Malan is die gifstof karboksiatraktilosied wat in die kotiledons (embrio’s in die sade van ‘n plant) van die plant voorkom. Die sade veroorsaak probleme soos obstruksie en inflammasie as hulle by die opening van die skede van bulle vashaak. Kliniese tekens van vergiftiging is abdominale pyn, spierswakheid en konvulsies. Lees meer hier.

Volgens dr. Neil Fourie veroorsaak hierdie gebreekte sade wanneer dit deur diere gevreet word baie erge diarree wat tot sekondêre infeksies (inflammasie) aanleiding kan gee en selfs tot vrektes kan lei. Indien van die heel sade onbeskadig deur die dier se spysverteringskanaal beweeg, gaan dit wanneer die toestande gunstig is, ontkiem en dan die omgewing met hierdie onkruide besmet.

16 Maart 2012


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X