Vra vir Faffa

Soek inligting oor spykerwurm

Vraag

Spykerwurm kom die laaste tyd in die Karoo (Graaff-Reinet) voor. Hoe word dit oorgedra op skape (ek boer met Dorpers) en hoe kan dit beheer/voorkom word? Ek verstaan dat die wurm 'n dier feitlik "lewendig" kan opvreet. Hoe kan ek spykerwurm beheer en kan ek 'n makrosikliese laktoon en bloednier-entstof op dieselfde tydstip spuit? Die Dorpers word onder normale omstandighede elke ses maande teen bloednier geënt as 'n voorsorgmaatreël. - Hennie (hconradie@mandelametro.gov.za)

Antwoord

Vraag:
Spykerwurm kom die laaste tyd in die Karoo (Graaff-Reinet) voor. Hoe word dit oorgedra op skape (ek boer met Dorpers) en hoe kan dit beheer/voorkom word? Ek verstaan dat die wurm ‘n dier feitlik "lewendig" kan opvreet. Hoe kan ek spykerwurm beheer en kan ek ‘n makrosikliese laktoon en bloednier-entstof op dieselfde tydstip spuit? Die Dorpers word onder normale omstandighede elke ses maande teen bloednier geënt as ‘n voorsorgmaatreël. – Hennie (hconradie@mandelametro.gov.za)

Antwoord:
Die naam "spykerwurm" laat ‘n mens onmiddellik dink aan ‘n wurmbesmetting. Die naam "spykerwurm" is egter ‘n beskrywing van die maaiers van die beesbrommer (Chrysomyia bezziana). Hierdie brommer is kort en breed, is metaalblou met ‘n geel gesig en rooibruin oë. Agter die kop op die bokant van die vlieg is daar twee donker merke wat soos driehoeke lyk. Die vlerke van die beesbrommer is deursigtig.

Die beesbrommer kom veral in Limpopo, die Laeveld van Mpumalanga, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal voor. In nat somers kom hulle in ‘n baie groter gebied voor. Hulle verkies warm weer en val veral beeste aan, maar kan ook skape, perde, honde en selfs die mens besmet.

Die beesbrommer teel slegs in wonde van lewende diere. Die vlieë lê hul eiers in enige wond soos bosluisbyte, skraapmerke, wonde deur horings veroorsaak, asook wonde wat deur mense veroorsaak is, soos waar horings afgesny word en kastrasiewonde. Die eiers broei binne ‘n dag uit en dan boor die klein maaiers in die vleis in.

Soms sien ‘n mens net ‘n swelsel wat soos ‘n sweer lyk. As ‘n mens die swelsel oopsny, kan die maaiers in ‘n bloederige massa gevind word. In ander gevalle is daar ‘n groot wond met die maaiers wat diep in die wond indring sodat net hulle agterkante sigbaar is. Die volgroeide larwes is 10 mm tot 15 mm lank met bande van stekels wat agtertoe wys. Na 3 tot 7 dae kruip die maaiers uit die wond uit en val hulle op die grond en kruip hulle in die grond in om ‘n papie te vorm. Na ongeveer 3 tot 7 dae kruip daar ‘n vlieg uit die papie.

Die wonde kan enige plek op die dier se liggaam voorkom en nuwe besmettings vind plaas sodat wonde groter word en stink. Die maaiers skei ook gifstowwe af wat diere siek maak en wonde kan ook deur bakterieë besmet word. As die wonde nie behandel word nie, kan diere selfs vrek.

Behandeling:
Deur diere met ‘n ivermektien bevattende middel te behandel, soos Ivotan (Reg. No. G2858 Wet 36/1947), word maaiers gedood. Hierdie middels word onderhuids toegedien en kan gelyktydig met bloednier-entstof toegedien word. Wonde self kan met ‘n ontsmettingsmiddel uitgespoel word en daarna met ‘n wondsprei wat insekdoder bevat, gespuit word, bv. Difly (Reg. No. G2155 Wet 36/1947).

Om die dier onaantreklik vir vlieë te maak, sowel as om bosluise te bestry, kan diere met ‘n piretroïed gespuit word bv. Delete-X5 (Reg. No. G3279 Wet 36/1947) of organofosfaat (Zipdip – Reg. No. G381 Wet 36/1947, Ovidip 30NF – Reg. No. G3322 Wet 36/1947).

Ondersoek diere gereeld om wonde te behandel.

Moet nie hierdie kondisie verwar met onsuiwer of brommeraanvalle wat veroorsaak word deur die groenbrommer (Lucilia cuprina), die koperstertbrommer (Chrysomyia chloropyga) of die gestreepte groen brommer (Chrysomyia albiceps), nie.

27 Mei 2005


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Teken In

Ek het nie 'n rekening nie. Ek moet een skep.


Ek het my wagwoord vergeet X

Registreer

Het jy reeds 'n profiel? Teken asseblief in.


X